Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Algemeen
Alison Botha: 'Kom so uit jou donker bos'

’n Mens het goeie selfwaarde nodig én moet in jou eie vermoëns glo om daardie “donker bos” in jou lewe te kan oorwin wanneer jy verkrag en byna vermoor word of ’n ander “donker bos” het om te oorwin.

So het Alison Botha (48) Saterdag gesê waar sy ’n geleentheidspreker op ’n vrouetee van die Elna van der Walt-balletskool in die saal van die Primary School Eunice in Bloemfontein was.

Net op dié manier kan jy oorleef, wanneer jy glo jy is uniek en spesiaal genoeg om voor te veg.

“Ek glo ook in die skoenlapper-revolusie. Dat jy na jou gemeenskap moet uitreik om ’n verskil te probeer maak.”

Botha het Saterdag ’n staande applous gekry vir haar verhaal van moed en oorwinning en veral vir die inspirerende boodskappe wat sy hieruit opgediep het.

Haar verhaal spruit voort uit die traumatiese gebeure 22 jaar gelede in Desember 1994 toe sy deur twee mans, Frans du Toit en Theuns Kruger, in Port Elizabeth ontvoer, verkrag en aangerand is.

Sy is uiteindelik vir dood agtergelaat nadat sy 36 keer met ’n mes in die onderste deel van haar buik gesteek is. Haar keel is ook oopgesny.

’n Mens besef dikwels nie hoe sterk jy is nie.
Alison Botha

Die gebeure het in “’n donker bos” naby die strand afgespeel.

Botha het Saterdag vir die vroue gesê sy het Du Toit en Kruger intussen vergewe, “maar dit was eerder vir my eie welstand dat ek dit gedoen het. Hulle het my nooit om verskoning gevra nie. Ek moes kies of ek hulle altyd gaan haat en of ek hulle gaan vergewe sodat my lewe gesond kon word. Ek het gekies om nie ’n slagoffer te bly nie, maar ’n oorwinnaar te word.

“Maar ek glo ook dat Frans en Theuns steeds in die tronk moet bly omdat hulle ’n gevaar vir die samelewing inhou. Ek gaan dit nie alleen regkry nie en almal sal moet help om te keer dat hulle op parool vrygelaat word.”

Botha het Saterdag gesê dat God ’n mens dikwels deur moeilike tye stuur, sodat jy kan groei. ’n Donker bos. “Dit is dan wat jy diep moet grawe om jou sterk eienskappe na vore te bring.

“ ’n Mens besef dikwels nie hoe sterk jy is nie.”

Sy het vertel dat net 1% geloof in haarself daardie aand genoeg was om die 40 m na die teerpad uit die donker bos te strompel en te kruip “met my kop wat agteroor geval het as ek hom nie gestut het nie omdat my keel oopgesny was. My maaginhoud het uitgeval as ek dit nie met ’n hemp teruggedruk het nie.

“Maar ek het geweet dat om by die teerpad te kom my enigste hoop op oorlewing was sodat iemand my kon sien en kon help. Dat my eie lewe die moeite werd was om voor te veg en in die donkerte voort te strompel.”

Sy glo ook dat God met die hele traumatiese gebeure van daardie aand telkens wonderwerke gestuur het.

Meer oor:  Alison Botha  |  Verkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.