Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Algemeen
Alison se nagmerrie inspireer bekendes
Victor Matfield en Alison Botha by die première van die fliek Alison. Dit was ook die amptelike bekendstelling van The Butterfly Revolution-veldtog. Foto: Deon Raath

Die verhaal van Alison Botha het bekendes soos Victor Matfield en Mmusi Maimane geïnspireer om ’n bewusmakingsveldtog oor verkragting te begin.

The Butterfly Revolution is Donderdag by die bekendstelling van die fliek Alison, ’n dokumentêre rolprent oor Alison se aanval, van stapel gestuur.

Sy is op 18 Desember 1994 in Port Elizabeth deur Frans du Toit en Theuns Kruger ontvoer. Albei het haar verkrag, haar keel 17 keer gesny en haar meer as 30 keer met skerp voorwerpe in haar maag en buik gesteek. Hulle het haar gelos om dood te gaan.

Maar met haar kop wat agteroor gehang het weens die snye aan haar keel en ingewande wat uitgehang het, het sy na ’n pad gekruip waar sy deur Tiaan Eilerd gehelp is.

“Ek sal nooit die kyk op Frans se gesig vergeet toe ek vir hom sê hy word aangekla van verkragting en poging tot moord nie. Hy het die verkragting verstaan, maar wou weet hoekom poging tot moord? Ek het toe vir hom gesê Alison het oorleef. En sy gesig het ‘geval’ van totale verbasing,” vertel die speurder Melvin Humpel in die fliek.

Victor het ná die première aan Rapport gesê Alison is vir hom baie inspirerend.

“Dit het weer eens vir my uitgelig dat ons so hard as moontlik moet werk om ons vroue en kinders van enige soort trauma te beskerm.

“Dit is ongelooflik hoe Alison die tragedie stap vir stap oorkom het en haar hartseer omgeswaai en iets positiefs daarvan gemaak het. Sy kon baie maklik negatief geraak het en dit wat met haar gebeur het as verskoning gebruik het.”

Vir The Butterfly Revolution verskyn Victor saam met twee van sy drie dogtertjies, Jaime (10) en Giselle (7), in video’s.

Die veldtog is begin deur Uga Carlini, regisseur van Alison.

Dit is gegrond op dieselfde konsep as die Ice Bucket Challenge, waar mense video’s maak van hoe hulle yswater oor hulself uitgooi vir die bewusmaking van motorneuronsiekte.

Alison sê die projek stel haar in staat om haar storie te deel om ’n verskil te maak.

“Ek is bly dat daar in die fliek nie net gefokus is op die trauma nie, maar ook die uitwerking daarvan op my lewe, lesse wat geleer is en dat daar hoop is. Hoewel mense dink ek is doodgelukkig, is my lewe nie ’n ‘sprokie’ met ’n gelukkige einde nie. Ek sukkel steeds met slegte dae. Dis maar die lewe.

“Nadat ek dit gesien het, het ek gedink, wow, ek het so ver gekom – en trots gevoel.”

  • Gaan na Facebook, Twitter, Instagram en YouTube vir meer oor #butterflyrevolution. Alison is vanaf 12 Augustus by Nu Metro-teaters te sien.

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Victor Matfield  |  Mmusi Mai­Mane  |  Alison Botha  |  Verkragting  |  Rolprent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.