Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Algemeen
Dansende beampte smeek om nie afgedank te word
Mofokeng sê sy is baie passievol oor haar werk en wil altyd ’n glimlag op iemand se gesig sit.Foto: Felix Dlangamandla

Die dansende Johannesburgse metropolisiebeampte, wat ’n sosiale-media-sensasie geword het met haar danspassies terwyl sy die verkeer beheer, was daarvan oortuig sy word afgedank toe sy Maandag ’n telefoonoproep van een van haar seniors ontvang het.

’n Video van hoe Dorah Mofokeng (37) van Diepsloot, in die noorde van Johannesburg, Saterdag motoriste met haar dansery vermaak terwyl sy aan diens was op die hoek van Witkoppen- en Cedarweg in Fourways, het gou die ronde in die sosiale media begin doen.

Mofokeng het nie eens van die video, wat deur een van die motoriste geneem is, se bestaan geweet nie, totdat supt. Edna Mamonyane, die metropolisie se woordvoerder, haar Maandag gebel het.

“Ek het haar gevra hoe kon sy dit doen, om beroemder as ek te wil wees,” skerts Mamonyane.

Sy vertel hoe Mofokeng begin huil het en gesmeek het dat sy nie afgedank moet word nie.

Mofokeng sê: “Ek was heeltemal daarvan oortuig dat sy my gaan afdank. Ek het gehuil. Maar toe sê mama Edna ek moet kalmeer en vertel my toe van die video.”

Sy sê sy gebruik nie eens sosiale media nie en was geskok oor hoe baie mense op die video gereageer het.

Teen Donderdagmiddag is die video 1,4 miljoen keer gedeel.

Boonop kry sy toe Dinsdag ’n oproep dat Michael Sun, die Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, haar wil ontmoet.

Mamonyane vertel hoe Mofokeng op haar knieë gegaan het om Sun te smeek om haar nie af te dank nie.

Maar hy was daar om haar geluk te wens en te sê hy is trots op haar.

Dorah Mofokeng (37) wys hoe sy dans terwyl sy die verkeer beheer. Foto: Felix Dlangamandla
Die skaam verkeersbeampte wat in die Vrystaat grootgeword het, het in 2004 Johannesburg toe getrek.Foto: Felix Dlangamandla
Mofokeng sê een van die bewegings, waar sy haar vinger in die lug rondswaai, is deur Thembisa Mdoda, aanbieder van die televisiereeks Our Perfect Wedding, geïnspireer om vir die motoriste te sê “Masambeni”, wat beteken “laat ons gaan”. Foto: Felix Dlangamandla

Mamonyane, Sun en hoofsupt. Wayne Minnaar, metropolisiewoordvoerder, wat hom by hulle aangesluit het, het tydens die ontmoeting vir Mofokeng gevra om haar dansbewegings aan hulle te wys.

Mofokeng het na ’n liedjie van DJ Tira, ’n Durbanse kwaito-kunstenaar, geluister terwyl sy Saterdag in die pad gedans het, maar sy sê haar gunsteling-kunstenaar is die gospelkunstenaar past. Benjamin Dube.

“Sy musiek inspireer my baie. Ek bid elke oggend voordat ek begin dans,” sê sy.

Mofokeng sê een van die bewegings, waar sy haar vinger in die lug rondswaai, is deur Thembisa Mdoda, aanbieder van die TV-reeks Our Perfect Wedding, geïnspireer om vir die motoriste te sê “Masambeni”, wat beteken “laat ons gaan”.

Die skaam verkeersbeampte, wat in die Vrystaat grootgeword het, het in 2004 Johannesburg toe getrek om werk te soek nadat haar ma siek geword het.

Sy het eers as petroljoggie werk gekry, maar het dit nie geniet nie.

Mofokeng het toe werk by JMPD gaan soek en as ’n vrywilliger by die departement begin werk. Sy werk sedert 2010 deeltyds daar.

Sy sê sy doen elke dag haar dansbewegings as sy in die week aan diens is by ’n skool in Diepsloot, en op Saterdae wanneer sy op die R562-pad in Fourways werk.

Maar die afgelope Saterdag het sy alles ingesit, salig onbewus dat iemand besig was om haar af te neem.

By die Paradise Bend Primary School, waar sy van Maandag tot Vrydag diens doen, het sy soos ’n ma vir die leerlinge geword, wat haar “Mama D” gedoop het.

Sy vertel as een van hulle seerkry of siek word, kom hulle na haar toe en dan neem sy hulle kliniek toe.

“Selfs by die kliniek ken hulle my. As ek nie daar is nie, weet hulle die kinders is oukei.”

Mofokeng sê die een ding waaroor sy net so passievol soos haar werk is, is kinders.

“Hulle moet weet ek is hul ma. Ek is nie net my seun se ma nie, maar hulle ma ook,” sê sy in trane.

Sy sê sedert die video die ronde gedoen het, herken mense haar op straat. “Hulle wil my die heeltyd drukkies gee en vra ook vir my selnommer. Maar ek is huiwerig om dit vir hulle te gee.”

Sy sê sy is selfs deur ’n man genader om ’n advertensie vir sy maatskappy te maak

Meer oor:  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.