27 Maart 00:47
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 35km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Woensdag

23°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

19°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 72%

Algemeen
Interdik teen bouers in Imizamo Yethu
Houtstrukture het al verlede Maandag in die puin van Imizamo Yethu in Houtbaai gestaan nadat ’n brand sowat 3 500 wonings vernietig het.Foto: Jaco Marais

’n Interdikbevel is Maandag van deur tot deur versprei in Imizamo Yethu in Houtbaai teen mense wat begin herbou het nadat ’n verwoestende brand duisende huise verlede Saterdag daar vernietig het.

Die interdik is in die hooggeregshof deur die Stad Kaapstad verkry teen enigiemand wat strukture oprig of bewoon, of probeer bewoon in sekere gebiede van Imizamo Yethu. Die stad wil eers die gebied herontwerp sodat dit beter beveilig is teen ’n toekomstige brandgevaar. Sowat 15 000 mense is dakloos gelaat nadat sowat 3 500 wonings afgebrand het.

“Dis net te dig gebou met geen brandpaaie nie,” sê die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith. “Geen brandweerwaens kan tussen wonings beweeg nie.”

Smith sê dat indien die wonings wat afgebrand het herbou word, sal dit net nóg ’n brandramp in wording wees. “As dit so sou aangaan, kan jy maar jou selfoon stel om 365 dae te begin aftel tot dieselfde weer gebeur.”

Die stad het Maandag begin om die gebied te herontwerp om dit minder dig bewoon te maak, maar sommige mense het die naweek al begin om strukture te bou. Intussen het die stad die proses gestop sodat die gemeenskap kan bespreek of hulle met die stad se herontwerpplanne saamstem.

Die stad en die meerderheid van die gemeenskap hou vol dat die herontwerp die belangrikste ingryping is om veiligheid en toegang tot nooddienste te verbeter en om gesondheidsrisiko’s te verminder.
Pierrinne Leukes, woordvoerder vir Patricia de Lille

“Onwettige strukture en verskeie groot strukture is oornag opgerig,” sê Pierrinne Leukes, woordvoerder vir Patricia de Lille, uitvoerende burgemeester. “Dit het die vordering van die proses vertraag.”

“Hulle was besig om met verkoolde hout te bou en met minder as 5 cm tussen sommige strukture,” sê Smith. “Een ou was besig om ’n gebou te bou wat oor die plek van drie wonings gestrek het.”

Smith sê wat sekere individue besig was om te doen, was gewetenloos en baie selfsugtig.

“Die hof het geen ander keuse gehad behalwe om die interdik toe te staan nie.”

Die stad het teen Maandagmiddag 2 086 geaffekteerde huishoudings geregistreer waaraan noodboumateriaal uitgedeel sal word. Van die boumateriale is Maandag al uitgedeel en registrasie vind steeds plaas.

“Die stad en die meerderheid van die gemeenskap hou vol dat die herontwerp die belangrikste ingryping is om veiligheid en toegang tot nooddienste te verbeter en om gesondheidsrisiko’s te verminder,” sê Leukes. “Ons werk saam met die gemeenskapsleiers in hierdie opsig.”

Smith sê dat sommige mense ná die herontwerp verplaas sal word om die digtheid te verminder.

“Sommige van die mense het toegestem om te trek.”

De Lille se woordvoerder het Sondag gesê ’n versoek is reeds aan die provinsiale en nasionale regering gerig om die gebied tot ’n rampgebied te verklaar.

Sy het ook gesê dat die Kaapse stadsraad in Februarie begin het met ’n behuisingsprojek in die Imizamo Yethu-gebied om behuising vir 956 gesinne te skep. Die stadsraad het glo onlangs ook grond in Philippi gekoop waar Imizamo Yethu-inwoners wat ingestem het om te verhuis, gehuisves sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.