Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Droogte
‘SA sal baie gou anders oor water moet dink’
Ná die goeie reën die afgelope seisoen het Noordwes weer sy mooiste mieliebaadjie aan. Dié foto is Maandagoggend tussen Koster en Derby geneem. Foto: Sarel van der Walt

Gauteng ondervind die meeste van die tyd ’n droogte, maar vanweë die kunsmatige aanlê van water uit ander provinsies kom die inwoners van dié provinsie dit nie agter nie.

En terwyl Suid-Afrika een van die droogste lande ter wêreld is, gebruik elke Suid-Afrikaner 235 liter water per dag teenoor die wêreldgemiddelde van 177 liter per persoon.

So het Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van die Waternavorsingskommissie (WNK), Vrydag op ’n ontbytsessie met joernaliste aan die vooraand van Wêreldwaterweek gesê.

Volgens Naidoo kan dié hoë waterverbruik in Suid-Afrika waarskynlik ook aan waterlekke toegeskryf word omdat 37% van die water wat in pype na die verbruikers herlei word deur lekke verlore gaan.

Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van die Waternavorsingskommissie.Foto: Elise Tempelhoff

Naidoo sê risiko’s wat met water gepaardgaan, of dit droogte of vloede is, is in 2015 deur sakelui as die grootste wêreldbedreiging bestempel. Water was van 2011 tot verlede jaar een van die topvyf-risiko’s vir die wêreld. Dit is vanjaar steeds onder die topvyf, maar klimaatsverandering is nou heel boaan die lys.

Volgens Naidoo is daar op alle vlakke van die samelewing heeltemal te min gesprek oor klimaatsverandering en veral die rol wat water daarin speel.

Met verwysing na die oorstromings wat deesdae meer dikwels by die Gillooly’s-wisselaar in die ooste van Johannesburg voorkom en die reusebranders wat verlede week in springgety by Durban gesien is, sê Naidoo “dit is nie toevallig nie”. Hy voorspel met die klimaat wat besig is om al hoe vinniger te verander gaan sulke voorvalle die “nuwe normaal” word. Hy sê die “nuwe normaal” hou juis die grootste bedreiging vir menselewens in.

Droogtes in die res van Afrika bring ook ’n enorme instroming van mense uit die res van die vasteland na Suid-Afrika. Ethiopië, byvoorbeeld, ondervind tans die ergste droogte in 50 jaar, sê Naidoo. “Die instroming van mense hou ook ’n groot bedreiging vir voedselsekerheid vir Suid-Afrika in.”

Hy verwys ook na malaria, wat tans in Suid-Afrika kop uitsteek op plekke waar dit nooit tevore voorgekom het nie. Klimaatsverandering bedreig Suid-Afrikaners se gesondheid. “As die wêreldwye temperatuur met 2 °C styg, sal malaria ’n vastrapplek in sowel Gauteng as die Oos-Kaap kry.”

Naidoo sê Suid-Afrikaners sal baie gou anders oor water moet dink en dit anders moet gebruik. Onsekerheid oor waterbeskikbaarheid, asook die gehalte daarvan gaan in die toekoms net toeneem.

Naidoo spreek sy kommer uit oor die besoedeling van die see en sê wetenskaplikes het nou vasgestel dat baie van die walvisse wat gestrand raak mikroplastiek in hul ingewande het wat hul dood veroorsaak het.

Hy verwys na DDT, waarmee malaria waarskynlik weer in Noordwes bestry gaan word, en sê daar is bewys dat dié gif mense se hormone aanval en tot steriliteit lei.

Wat Suid-Afrika se spoeltoilette betref, meen hy sal ook “nuut en innoverend gedink en opgetree moet word”.

“Ons sal ons toilette moet herontwerp, want 30% van die suiwer water wat daagliks tot ons beskikking is, word in ons toilette afgespoel.”

Die Waternavorsingskommissie is onder meer besig met projekte vir die installasie van waterlose toilette in huise of toilette wat baie minder water gebruik.

Meer oor:  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.