Melkbank: 50 ml borsmelk kan ’n lewe red
21 April 2017 08:00
Daar is ’n spermbank en ’n bloedbank, maar weet jy van ’n melkbank?

Vir desperate ma’s van pasgebore honger babas is dit ’n plek van hoop. Vir dié wat daar werk, heet dit sommer die melkbank. Ineke Coetzee berig oor Milk Matters-melkbank, ’n gemeenskapgebaseerde organisasie sonder winsbejag by die Mowbray-kraaminrigting.

Drie kinders later en sy weet steeds nie hoe dit voel om te borsvoed nie. Toe haar jongste dogter drie maande te vroeg op 16 Maart haar opwagting gemaak het, kon Liezl Dikela (37) van Grassy Park net ’n paar druppels melk uitkry.

Hoewel Dikela ook nie met haar vorige twee swangerskappe kon borsvoed nie, is haar dogters, Christyl (nou 15) en Noa (nou ses), gesond gebore.

Baba Hope het net 670 g geweeg met haar geboorte in die Mowbray-kraaminrigting en moes dringend borsmelk kry.

“Sy was baie, baie klein. Sy het gesukkel om asem te haal en hulle het vir my gesê hulle is hoopvol dat sy ’n uur sou lewe,” sê Dikela.

Die verpleegpersoneel by die Mowbray-kraaminrigting het Dikela van die melkbank vertel. Milk Matters verskaf borsmelk aan babas wat prematuur gebore is in sowel staats- as private hospitale.

Dikela was eers skepties daaroor.

“Wie se melk gaan nou in my kind se mond en in haar magie in? Dis mos maar altyd ’n worry met al die siektes…
Hope se ma

“Wie se melk gaan nou in my kind se mond en in haar magie in? Dis mos maar altyd ’n worry met al die siektes… daar is TB en daar is vigs. Toe die personeel my meer inligting daaroor gegee het, het ek meer gerus gevoel. Ek het ingestem dat my babatjie die borsmelk kan kry,” sê Dikela.

Jenny Wright, uitvoerende hoof van Milk Matters, verduidelik dat daar deeglike ondersoeke en toetse gedoen word voordat hulle die skenkermelk van ’n ma aanvaar of aan die babas gee wat dit nodig het.

“Die ma wat wil melk skenk, word medies ondersoek en die melk wat geskenk word, word getoets voordat dit vir ’n baba gegee word. Die borsmelk word ook gepasteuriseer voordat dit na die verskillende hospitale geneem word,” sê Wright.

Sy benadruk dat die melk net aan die kleinste babatjies gegee word – dié wat dit regtig benodig.

“Dit is net die babatjies wie se ma’s nie vir hulle die borsmelk kan gee wat hulle benodig nie. Die ma se borsmelk word nie vervang nie. Dis borsmelk wat gebruik word as ’n ma te min melk of geen melk het,” verduidelik Wright.

Hope strek uit in haar ma, Liezl, se hande. Hulle is van Grassy Park en Liezl is dag in en dag uit langs Hope se bedjjie.Foto: Ineke Coetzee
Olga Zoneleni, ’n melkprosesseringsbeampte van Milk Matters, is mal oor wat sy doen. “Ek help om klein babatjies se lewe te red met dié melk.”Foto: Ineke Coetzee
Jenny Wright, uitvoerende hoof van Milk Matters, staan by hul nuwe pasteuriseringsmasjien wat meer melk sal kan pasteuriseer vir babas in nood. Foto: Ineke Coetzee

Astrid Hendrickse, ’n verpleegster in die Kangaroo Mother Care (KMC)-afdeling van die Mowbray-kraaminrigting wat nou saam met Milk Matters werk, beaam dit, maar wys ook daarop dat hulle eers alles in hul vermoë doen om die ma te help met borsvoeding.

“Wanneer ’n ma nie kan borsvoed nie, voel sy magteloos en onbevoeg. Ons stel haar gerus dat al probeer sy net, doen sy steeds die beste wat sy kan doen. Ons sal eers medikasie voorskryf om te help met die borsmelk wat nie wil kom nie, en as dit nie werk nie, gee ons die ma die opsie om skenkermelk vir haar baba te gee,” sê Hendricks.

Wright verduidelik dat ma’s wat borsmelk skenk nie betaal word nie.

“Ma’s kan dalk hul borsmelk verkoop om die verkeerde redes en hul baba ontneem van voeding. Ons sal nooit vir borsmelk betaal nie.”

Hoe kan ek melk skenk?

Kontak Milk Matters by 021 659 5599 of stuur ’n e-pos na info@milkmatters.org
Jy sal dan gevra word om:

* ’n Ondersoekvorm in te vul;

*’n Toestemmingsvorm te teken waarin jy toestemming gee dat jy vir MIV en hepatitis B getoets kan word;

* ’n Gratis bloedtoets vir MIV en hepatitis B ondergaan;

* Bottels wat by Milk Matters gesteriliseer is af te haal;

* Borsmelk in die gesteriliseerde bottels te pomp;

* ’n Etiket op die bottel te plaas en die melk volgens instruksies te vries; en

* Die bevrore borsmelk by een van die Milk Matters-depots af te laai of ’n ander reëling met die organisasie te tref.

Langtermynskenkers moet die MIV-bloedtoetse gereeld laat doen.

Soos met ’n bloedbank, droog die melkbank se voorraad ook soms op. Tydens die wintermaande, Paasfees en Kersfees is daar veral ’n tekort.

“Van ons ma’s wat gereeld skenk, gaan weg vir die vakansie. Hoewel daar altyd babas is wat melk kort, het ons nie altyd melk nie,” sê Wright.

Hoeveel skenkings melk is genoeg?

“Ma’s hoef nie groot hoeveelhede melk te hê voordat hulle skenk nie. Slegs 50 ml melk, sowat vier eetlepels, kan ’n baba wat minder as 1 kg weeg vir ’n volle 24 uur voed,” sê Wright.

Hoewel Hope al beter vaar, weeg sy steeds net 760 g en kan eers die hospitaal verlaat wanneer sy 1,75 kg weeg.

“Ek sê elke dag baie dankie aan die ma’s wat die melk vir ons skenk. Vir my beteken dit baie, verskriklik baie. Dit help my kind elke dag,” sê Dikela.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier