Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Gesondheid
Onseker of hospitaal herbou gaan word ná brand
Die Swartland-hospitaal is Saterdag in ’n brand verwoes. Foto’s: Swartland-munisipaliteit

Dit is nog onduidelik of die Swartland-hospitaal herbou gaan word ná ’n verwoestende brand die 73-jarige gebou Saterdag in puin gelê het.

76 pasiënte en 30 personeellede was in die gebou toe die brand ontstaan het.

Met behulp van nooddienste is die pasiënte eers na die NG kerk se saal in Malmesbury geneem voordat hulle later na verskeie nabygeleë hospitale oorgeplaas is.

Die hospitale sluit in die Stellenbosch-, Paarl-, Wesfleur- in Atlantis, Lapa Munnik- in Porterville, Radie Kotze- in Piketberg en Vredenburg-hospitaal.

Sylvia Fortuin (52), een van die pasiënte, is na die Paarl-hospitaal oorgeplaas.

Volgens haar seun, Valentino Fortuin, is sy ma verlede week met ’n longkwaal in die Swartland-hospitaal opgeneem. “Sy het ons vertel dat sy en nog ’n pasiënt van buite af gekom het toe hulle die rook ruik. Hulle is gou uit die gebou gesit, want die rook sou baie nadelig wees vir haar omdat sy reeds ’n longkwaal het.”

Sylvia is toe na die Paarl-hospitaal oorgeplaas.

Die nadraai van ’n verwoestende brand by die Swartland-hospitaal.

Getruida Peterson (83) van Malmesbury en Fransina September (76) van Moorreesburg was ook ten tyde van die brand in die hospitaal en is tans in die Wesfleur-hospitaal in Atlantis, berig Murphy Roberts.

Peterson en September het al hul persoonlike items in die brand verloor.

Peterson, ’n diabeet, sê haar familie het haar reeds besoek by die Wesfleur-hospitaal, terwyl September sê sy wonder of haar gesin weet sy is weer geskuif.

September het ’n operasie in die Paarl-hospitaal ondergaan en is later oorgeplaas van die Swartland-hospitaal.

Felicia Humphreys, raadslid van die Swartland-munisipaliteit, sê sy is bekommerd oor vervoer na die naburige hospitale.

“In die algemeen is openbare vervoer ’n nagmerrie in Malmesbury. Om vervoer te kry om geliefdes te gaan besoek buite Malmesbury hou net ’n erger kopseer in.”

Volgens Leensie Streicher, woordvoerder van die Weskus-gesondheidsdepartement, is dit nog onduidelik of die hospitaal herbou gaan word, maar die Malmesbury-kliniek in Jakarandastraat is beskikbaar vir noodgevalle, wat kraamgevalle insluit.

“Die algemene sale, teaters, bestralingseenheid en dele van die noodeenheid is in die brand beskadig. Die elektrisiteit is weer aan, maar die watertoevoer is steeds af.

“Die deel wat in die brand vernietig is, is nog onveilig om te betree. Ons wag op die verslag oor wat die skade alles insluit. Die polisie sal eers Woensdag op die toneel toegelaat word,” sê Streicher.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.