Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Gesondheid
Outisme: Vroeë diagnose help bestuur
Blou ligte skyn vandeesweek op die hoofgebou van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus ter bewusmaking van outisme.

Hoe vroeër outisme by kinders gediagnoseer word, hoe beter is hul kans om probleme wat met die toestand gepaardgaan goed te kan bestuur.

“Daar is volwassenes op die outismespektrum wat byvoorbeeld studeer, werk en ’n betreklik normale lewe lei,” sê Hanlie Degenaar, ’n spraak-taalterapeut aan die Instituut vir Sielkunde en Welstand op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus.

Dié instituut is besig met die vestiging van ’n assesseringseenheid waar ’n span bestaande uit onder andere ’n kinderpsi­giater, kliniese sielkundige en spraak-taalterapeut kan help om kinders met outisme te diagnoseer.

“Sodra die diagnose gedoen is, kan ouers gehelp word om meer inligting te kry oor outisme en waar hulle hulp kan kry.

“Ons kan sulke ouers ook ondersteun en leiding gee oor byvoorbeeld die ontwikkeling van taalvaardighede,” sê Degenaar.

Volgens haar is daar ’n groot behoefte aan sulke dienste op die platteland (ook in Noordwes) omdat ouers dikwels lank wag op afsprake by kundiges in groot stede om hul kinders te laat evalueer waar daar ’n vermoede van outisme is.

Die NWU wil nou dié leemte vul deur op veral die Mafikeng-kampus en in Potchefstroom meer navorsing oor outisme te doen en meer gespesialiseerde diagnostiese dienste te begin verskaf.

By die NWU word outisme-bewustheid vandeesweek onder meer gedoen deur saans blou ligte op die hoofgebou op die Potchefstroom-kampus te laat skyn en inligtingspamflette uit te deel. Blou is die internasionaal gekose kleur vir outisme-bewusmaking vandeesmaand.

Hoe vroeër outisme by ’n kind gediagnoseer word, hoe vinniger kan kommunikasievaardig­hede gestimuleer en ontwikkel word.

“Die resultate met terapie is ook baie beter indien die hele familie betrek word,” sê Degenaar.

“ ’n Diagnose van outisme is ’n groot skok vir families, veral oor die moeilike gedrag wat deel is van die toestand en omdat outisme nie verdwyn met tyd nie.”

Outisme neem wêreldwyd toe en raak vier keer meer seuns as meisies. Volgens die organisasie Outisme Suid-Afrika is daar geen duidelike antwoorde oor wat dit veroorsaak nie.

Outisme word gekenmerk deur atipiese neuro-ontwikkeling wat kommunikasieprobleme veroorsaak, sowel as sosiale en gedragsprobleme. Daar word voortdurend navorsing gedoen om te bepaal wat dit veroorsaak.

Outisme Suid-Afrika beklemtoon dit gebeur nie as gevolg van swak ouerskap nie en dat kinders met die versteuring hulself nie uit eie keuse wangedra nie.

Die NWU se Potchefstroom-kampus hou op 20 en 21 Mei ’n simposium oor outisme.

“Enigiemand kan dit bywoon,” sê Degenaar.

  • Stuur ’n e-pos na hanlie.degenaar@nwu.ac.za met navrae daaroor.

Meer oor:  Outisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.