Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Hof
Groep betoog toe vermeende moordenaars verskyn
Moses Sibiya het volgens die polisie uitwysings ná die moord op sers. Sthembile Mdluli gedoen. Foto: Alet Joubert
Richard Shabangu word ook van die moord verdink. Foto: Alet Joubert

Vriende van die vermoorde sers. Sthembile Mdluli het Vrydag buite die landdroshof in Mbombela betoog teen moontlike borgtog vir haar vermeende moordenaars.

Mdluli, wat verbonde was aan die polisie se voertuigdiefstaleenheid in Witrivier, se lyk is Woensdag in Sabie gekry nadat sy verlede week spoorloos verdwyn het.

“Ons het haar as vermis aangemeld by die polisie,” sê Nonhlanhla Ndlovu, ’n jare lange vriendin van Mdluli.

“Sy het altyd haar foon geantwoord of sou ingebel het werk toe as sy nie kon opdaag nie. Daarom was ons paniekerig toe sy nie haar foon geantwoord het nie.”

Sy en vriende het plakkate omhoog gehou met “Geen borgtog” en “Laat geregtigheid geskied” daarop geskryf. Hulle het die plakkate ook in die hof omhoog gehou totdat die landdros ingekom het.

Sers. Sthembile Mdluli was die enigste broodwinner in haar gesin. Foto: Verskaf

Die twee verdagtes, Moses Sibiya, in ’n beige baadjie en Richard Shabangu, in ’n groen Springbokhemp, is uit die aanhoudingselle voor die distrikshof gebring waar hulle teregstaan op aanklagte van moord, ontvoering en motordiefstal.

Brig. Leonard Hlathi, ’n polisiewoordvoerder, sê Sibiya het ná “intensiewe ondervraging” hulle gaan wys waar Mdluli se lyk agtergelaat is. Haar motor is in Kabokweni teruggevind.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat Mdluli bedwelm is voordat sy ontvoer en met ’n stomp voorwerp doodgeslaan is. Sibiya en Shabangu word ook daarvan verdink dat hulle haar motor wou verkoop.

Sibiya het in die hof gesê hy en Shabangu het ’n prokureur wat tans in Johannesburg is en eers aanstaande week beskikbaar sal wees.

Die saak is tot 28 April uitgestel sodat die polisie die twee verdagtes se adresse en misdaadgeskiedenis kan nagaan.

Mdluli (37) was die broodwinner en laat haar dogter, Chantell (18), seun Neo (4) en haar ma, Nozizwe (64), wat almal in Lekazi in Kanyamazane bly, agter.

“Haar ma is nie gesond nie en nou moet sy na Sthembile se kinders omsien,” sê Pinky Nkosi, ’n niggie van Mdluli.

“Sthembile was ’n goeie mens wat altyd na haar gesin omgesien het. Sy was so vol liefde en vreugde.”

Vriende van die vermoorde polisiesersant Sthembile Mdluli betoog buite die hof in Mbombela. Foto: Alet Joubert

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.