Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Hof
‘Mammie is beste’, toe sterf sy
Jan de la Hunt se moordverhoor in die rondgaande hof in Virginia sal Donderdag voortgesit word. De la Hunt staan tereg weens die moord op sy vrou, Twanette. Foto: Alet van der Walt

“Dankie, Mammie is die beste ma in die wêreld,” het Twanette de la Hunt enkele ure voor haar skietdood aan haar ma, Ronel Minnaar, gesê.

Minnaar het Woensdag in die rondgaande hof in Virginia in trane uitgebars toe sy oor die gebeure op 27 April 2016 getuig het.

Waarnemende regter B.R Lefenya moes die hof ’n tyd lank verdaag.

Twanette is op dié dag in haar en haar man, Jan, se huis geskiet en op pad hospitaal toe oorlede. Jan de la Hunt word van haar moord aangekla.

Minnaar het vertel hoe sy en haar ander dogter, Heidi le Roux, Twanette die middag voor haar dood in Ventersburg raakgeloop het.

Minnaar het aan Twanette ’n oliebol gegee, waarop Twanette haar aan haar arm gevat het en gesê het sy is die beste ma.

“Dit was die laaste keer wat ek haar gesien het,” het Minnaar getuig.

Twanette het dieselfde oggend angstig gelyk en was besig om buite te hark toe sy en Heidi by die De la Hunt-huis opgedaag het.

Petra en Willie Joubert, die suster en swaer van Jan de la Hunt, het Woensdag se hofverrigtinge bygewoon.Foto: Alet van der Walt

Jan de la Hunt was besig om gras te sny.

Minnaar het gesê Twanette se familie en vriende is nooit toegelaat om die huis te besoek nie, tensy De la Hunt toestemming gegee het.

Sy het wel soms in die huis gekom as haar skoonseun by die werk was.

Minnaar het gesê wanneer De la Hunt hulle genooi het, moes hulle ook so vinnig moontlik opdaag, anders het Twanette angstig geraak en weer gebel om te hoor of hulle al op pad is.

Adv. Pieter Nel, vir De la Hunt, het aan Minnaar gesê De la Hunt se suster Petra Joubert beweer dat Twanette depressief was omdat sy nie kinders kon kry nie en omdat De la Hunt se tweede vrou, Liana, hom probeer terugwen het.

Minnaar het ontken dat Twanette aan depressie gely het.

Twanette se boesemvriendin, Zelda Marx, het ook Woensdag getuig. Ook Marx was baie emosioneel toe sy aan die hof vertel het van die gebeure in die weke voordat Twanette dood is.

Marx het getuig dat sy en Twanette hegte vriendinne was en saam in die dorp se buurtwag gewerk het.

Teen die einde van Maart 2016 het sy bewus geword dat daar spanning in die egpaar se verhouding was.

Twanette se betrokkenheid by die buurtwag was glo vir De la Hunt ’n probleem, het Marx getuig.

Zelda Marx, ’n boesemvriendin van Twanette de la Hunt, het Woensdag getuig oor die gebeure voordat Twanette dood is. Marx het ook vertel van die spanning tussen die De la Hunt-egpaar. Afdrukke van Whatsapp-boodskappe tussen Marx en Twanette het deel van haar getuienis gevorm. Regs is die tolk Jeremiah Tollie.Foto: Alet van der Walt

Op 23 Maart het Marx en Twanette saam patrollie vir die buurtwag gery. Hulle het in die hoofstraat, naby ’n taverne, op ’n bakleiery tussen twee mans afgekom.

Twanette het uit die voertuig geklim en die twee mans uitmekaar gestamp. Marx het intussen die polisie gebel, omdat sy bang was Twanette word beseer.

“Twanette was fisiek en emosioneel ongelooflik sterk,” het Marx getuig.

Marx het aan die hof gesê toe Twanette sien hoe ’n polisievoertuig ’n ent weg by die polisiestasie wegtrek, het sy gesê: “Ry, Tannie, ry.”

De la Hunt was die aand aan diens en Twanette wou nie hê hy moet hulle sien nie.

Sy het aan Marx gesê dit is beter as De la Hunt nie weet sy het die bakleiery gestop nie.

’n Paar dae later het Twanette aan Marx gesê sy gaan van De la Hunt skei.

Marx het haar probeer bemoedig en gesê dinge sal weer beter gaan, maar Twanette het in ’n Whatsapp-boodskap gesê: “Nee dinge het hierdie keer te ver gegaan.”

Marx het getuig dat sy nooit in die De la Hunt-egpaar se huis was nie. Twanette het háár altyd besoek en wanneer sy Twanette besoek het, sou dié by die hek vir haar wag.

Sy sou dan sê: “Jan het ietsie gevat en maak te veel praatjies, dit is beter as ek na Tannie toe kom.”

Adv. Jannie Botha kla aan. Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Virginia  |  Jan De La Hunt  |  Twanette  |  Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.