23 Augustus 13:56
Kaapstad Verander Area

Woensdag

14°C / 12°C

Wind 19km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 78%

Donderdag

14°C / 12°C

Wind 28km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 60%

Vrydag

16°C / 11°C

Wind 26km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 63%

Saterdag

16°C / 11°C

Wind 25km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

18°C / 12°C

Wind 33km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Maandag

20°C / 9°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 51%

Nuus
Kyk saam: Lag-lag haal Des & Dawn 50 jaar
Satire ál wat land kan red, sê die Lindbergs ná halfeeu saam in bedryf
Vanjaar vier Des en Dawn Lindberg 50 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en is ook 50 jaar getroud. Foto’s: Simone Kley
Des en Dawn Lindberg
Ons het die regte kunstenaars en ons het die regte produksies in hierdie land. Daarom moet ons aanhou om meer boude op die stoele te kry.

Des en Dawn Lindberg oorleef al 50 jaar in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. En een van hul vernaamste oorlewingswenke is om te lag oor presies daardie dinge wat die res so die josie in maak.

Soos Eskom. Of standbeelde wat verniel word. Want volgens Des en Dawn is satire ál wat ons deesdae kan red.

“Om saam met minibustaxi’s op ’n pad te bestuur is nog ’n oorlewingswenk wat elke Suid-Afrikaner moet leer,” sê Dawn. “Soos wanneer ek vir Des moet leer om nié vir minibustaxi’s ’n zap-teken te wys nie . . .”

Dié sanger-paar vier vanjaar ook hul 50ste huweliksherdenking én Dawn word oor ’n maand 70 jaar oud.

“Ons was eers maar net folk singers in Hillbrow se coffee bars,” sê Des (74).

“Daarna het ons begin rondreis met ’n sleepwa en oral gaan sing waar ons stilgehou het.

“En ja, dit was die jaar 1965.”

Hulle had dit boonop nie breed nie: “Al wat ons gehad het was twee katte, twee kitare, twee luidsprekers, twee mikrofone en ’n tweeuurkonsert,” sê Dawn.

Vroeg in 1965 het Des met meer as 25 000 verkope in minder as ’n maand blitsvinnig goue status bereik met sy eerste Afrikaanse treffer, “Die gezoem van die bye”.

Die jong Engelsman het sedertdien nog baie Afrikaanse harte gesteel.

“In daardie dae was ek die ­Engelse Steve Hofmeyr,” terg Des en maak dan dadelik keel skoon. “Ek bedoel as sanger en ster. Ons praat nie politiek hier nie . . .”

Des se weergawe verskil van die oorspronklike tradisionele treffer, “In die land van melk en heuning”, deur Louis Combrinck.

“Ons het in Mosambiek gaan kamp, toe hoor ek ’n klomp ouens wat sit en partytjie hou en hierdie Afrikaanse weergawe van ‘The Big Rock Candy Mountain’ op die strand sing,” vertel Des.

Des en Dawn Lindberg in aksie wanneer hulle terugdink oor 50 jaar se musiekmaak en lostrek met ’n ou treffer soos The Seagull’s Name was Nelson.
Des en Dawn Lindberg 'n klompie dekades gelede.

“Ek kon net die refrein onthou met ‘die gezoem van die bye’ in, toe gaan skryf ek die res van my liriek maar self.”

Daarom is daar vandag twee weergawes van dié treffer. Des sing van “lekker turksvye” terwyl Combrinck, en later in die 1960’s ook die Grobler-broers, van “wilde turksvye” sing. Die Grobler-broers se weergawe is ’n mengelmoes van wat Combrinck en Lindberg geskryf het.

Waar die tradisionele weergawe vertel van buitensporighede soos “springbokbiltongberge” en “miedens daggagerwe”, is Des se weergawe selfs meer ligsinnig en satiries: “Die springbokke spring, die blesbokke bles, die boerbokke boer, die krokodille krok, die likkewane lik, die aasvoëls aas, knorhane knor, brommers brom, akkedisse ak, kakkerlakke lak en bobbejane bob in die berge.”

Sommer in dieselfde jaar van “Die gezoem van die bye”het Des besluit om saam met Dawn ’n duetalbum op te neem.

“Folk on Trek was ons duet­debuut. Dit het stoute weergawes van kinderrympies op gehad en ons het ook ’n negro spiritual daarop gesing,” lag Des.

“Daardie plaat was sommer dadelik geban, want die owerhede het gesê dit was ‘obskuur’.”

Altesame 16 albums het gevolg, met groot treffers soos “16 Rietfonteins” en “The Seagull’s Name was Nelson”, ’n proteslied wat opgedra was aan oupres. Nelson Mandela in die tronk.

SAUK-radio het dit in die apartheidsjare uitgesaai omdat hulle gedink het dit gaan regtig oor ’n seemeeu . . .

Omdat daar verskillende platemaatskappye in hul loopbaan was, waarvan die meeste nie eens meer bestaan nie, het nóg Des nóg Dawn ’n benul van presies hoeveel plate hulle al in Suid-Afrika verkoop het. Hulle is egter seker dit is al meer as ’n miljoen. Selfs hul kinderplate het lag-lag platinumstatus (meer as 50 000) bereik.

“Ons het in elk geval nog nooit op albumverkope staatgemaak nie,” sê dié paartjie, wat in hul jong dae die hele Suid-Afrika én die destydse Rhodesië platgery het.

“Ons het eintlik maar ons geld met live shows gemaak. Dít was hoofsaaklik waar ons sukses gelê het: Ons het vir jóú in jóú dorp kom sing.”

Die laaste album wat hulle uitgereik het, was Des and Dawn: Their Best in die vroeë 1990’s. Daarna het hulle nooit weer opgeneem nie, maar tot vandag toe is Des en Dawn betrokke by die teaterwêreld. Hulle tree nog gereeld op met hul eie musiekkonsert, Des and Dawn: Still Truckin’.

Dawn bestuur nou al 11 jaar lank suksesvol die Naledi-teatertoekennings, ’n mylpaal vir verhoogakteurs.

“Teater is vir ons alles,” sê Dawn. “Ons het die regte kunstenaars en ons het die regte produksies in hierdie land. Daarom moet ons aanhou om meer boude op die stoele te kry.

“Veral met iets soos satire, want dit laat toe dat ’n land lekker vir homself kan lag. Dit is baie belangrik om soms só van ons stres ontslae te kan raak.”

 Die Naledi-toekennings gebeur Dinsdagaand.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.