Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
Lizz Meiring: ‘Ons kan akteurs se verval nie toelaat’
Bystandsfonds help oud-kunstenaars
Die aktrise Lizz Meiring leer ’n papiervolstruis in die Absa-kuierkamer van nader ken. Foto: Deon Raath

Die aktrise Lizz Meiring se oë skiet vol trane.

“Ek was nou die dag by ’n baie bekende oud-akteur se huis, waar ek net ’n halwe boksie suur melk in die yskas en in die koskas ’n pakkie beskuit gekry het wat reeds twee jaar gelede verval het,” vertel sy van haar huisbesoeke aan bejaarde akteurs.

“Ons gaan gewoonlik twee-twee. Die ander persoon maak geselsies, maar my werk is om in die kaste te gaan krap.”

Sy is vanjaar tot raadslid van die Teater Bystandsfonds (TBF) verkies. Dié fonds, wat 52 jaar gelede gestig is, onderhou tans 52 bejaarde kunstenaars. Dit sluit onder meer akteurs, tegnici, kunste-joernaliste en fotograwe in.

“Ons het verlede jaar vir Kersfees skoendose vir hulle gepak. Binne-in die boksies was ’n koekie seep, ’n tandeborsel, ’n waslappie, ’n blikkie koffie en ’n pakkie koekies. Dít was hul Kersgeskenk.”

Sy raak weer tranerig.

“Jy sal nie glo hoe daardie mense gehuil het nie. Dit is dieselfde mense wat ons jare lank op die kassie en op die verhoog vermaak . . . gedien het. En moenie dink hulle het met geld gemors nie. Tog vind ons van hulle wat nou onwettig in vervalle fabrieke slaap, omdat hulle eenvoudig niks anders kan bekostig nie. Ons kan mos nie toelaat dat dit met hulle gebeur nie en daarom neem ons verantwoordelikheid vir ons eie mense.”

Die fonds staan ook werkende kunstenaars by wat mediese onkostes moet dra, soos die kameraman wat onlangs ’n dubbele heupvervanging ondergaan het.

Sy preek ook nou gereeld vir die jong akteurs: Gaan neem nóú daardie annuïteit uit.

“As jy jonk is, is jy baie soos ’n Teflon-pan – enigiets gaan van jou afspring. Maar ek sê vir hulle: Eet minder uit en los liewers daardie mooi paar skoene in die venster en betaal eerder jou mediese fonds se rekening.” 

■ Dié berig het oorspronklik in die feeskoerant Krit verskyn.

So kan jy help

 Sms TBF na 40770 om ’n R20-donasie te maak.

 Betaal skenkings regstreeks in TBF se Absa-spaarrekening (9305193377).

 Kies TBF as jou My School-begunstigde.

Vir meer inligting besoek die Teater Bystandsfonds seamptelike webwerf

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.