Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Misdaad
Hof moet sê of eNaTIS flater is
‘Húlle is nie bevoeg om oor boetes te besluit’
Dit is ’n fundamentele beginsel van ons grondwetlike bestel dat almal onskuldig geag word totdat hul skuld bewys word...

Terwyl die departement van vervoer sê hy gaan die verlamde eNaTIS- lisensiëringstelsel binne die volgende jaar landwyd uitbrei, word die toepassing daarvan in die hooggeregshof bevraagteken.

Fines4U vra die hooggeregshof in Pretoria om die bevoegdheid van beamptes van die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) om oor vertoë teen dié boetes te besluit, te hersien en tersyde te stel.

Die aansoek deur Fines4U, ’n maatskappy wat verkeersboetes namens maatskappye en individue bestuur, sal volgende Maandag voor die hof dien.

Cornelia van Niekerk, Fines-4U se direkteur, sê in hofstukke die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) laat motoriste toe om vertoë aan RTIA-beamptes te rig wat “geringe verkeersoortredings” betref, maar die wet tref nie ’n onderskeid tussen geringe en ernstige oortredings nie.

Volgens Van Niekerk het sy in September 2013 namens ­Audi Centre Johannesburg by die RTIA navraag gedoen oor 639 Aarto-boetes van altesame R322 860 wat tussen 2008 en 2013 uitgereik is. Van Niekerk het verkeersvertoë teen 570 van die boetes ingedien.

Van Niekerk sê beamptes van die RTIA het inkonsekwent opgetree deur van die boetes te kanselleer, maar in ander gevalle vertoë van die hand te wys. Van die 570 vertoë wat Van Niekerk gerig het, was 155 suksesvol, 208 is van die hand gewys en oor die oorblywende 207 is daar geen besluit geneem nie.

Op elk van die onsuksesvolle vertoë het die RTIA ’n administrasietarief van R200 gehef. Dit beteken Audi Centre Johannesburg moet ’n bykomende R41 600 daarvoor opdok.

Volgens Van Niekerk het sy die RTIA gevra om die inkonsekwente besluitneming aan haar te verduidelik. Die verduideliking van die RTIA was dat haar vertoë nie die feitedispuut getakel het nie.

“Dit is ’n fundamentele beginsel van ons grondwetlike bestel dat almal onskuldig geag word totdat hul skuld bewys word en dat geen skulderkenningsboete of vonnis arbitrêr sonder ’n regsproses afgedwing sal word nie,” lui Van Niekerk se hofstukke.

Sy voer ook aan dat Aarto nie voorsiening maak vir die feit dat die poskantoor nie in staat is om die kennisgewings binne die voorgeskrewe tien dae per geregistreerde pos af te lewer nie.

Die RTIA staan haar aansoek teen.

Volgens Japh Chuwe, registrateur van die RTIA, beskik die RTIA oor die vermoë om die wetgewing af te dwing. Wetswysigings sal eersdaags deurgevoer word om die toepassing daarvan makliker en goedkoper te maak.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het vroeër gesê die eNaTIS-stelsel gaan gebruik word om niebetalers van e-tol by te kom.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.