Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Misdaad
Bali-droom ontaard in kokosneut-nagmerrie
Lizane Louw (40) en Gita Claassen (29) met hul kokosneutdrankies, oomblikke voordat hulle onverwags begin hallusineer het.

Dit was vir die twee Suid-Afrikaanse fotograwe ’n paradys: sonskyn, wit strande en die inkblou see van die Kuta-strand in Bali in die Indiese Oseaan.

Lizane Louw (40) van Langebaan en Gita Claassen (29) van Prins Albert het hulle neergevly op hul strandstoele en behaaglik aan hul nie-alkoholiese drankies in oopgekapte kokosneute geteug.

Min het hulle geweet dat dié drankies gedokter was.

Vandag glo Lizane en Gita hulle is gelukkig dat hulle ongeskonde daarvan afgekom het.

Dit het voorverlede Donderdag gebeur. Dit was Gita se eerste oorsese reis en sy wou graag op die strand uit ’n kokosneut drink. Die twee vroue het sowat R97 betaal vir die kokosneute en die huur van die stoele by ’n stalletjie langs die strand.

Vir Gita het die drankie suur geproe. Sy het gedink dis dalk nog groen en hulle het niksvermoedend verder gedrink.

Nooit het ek gedink ek sou bedwelm word helder oordag op ’n strand nie.

’n Man wat hom voorgedoen het as ’n branderry-instrukteur het by hulle rondgehang. “Ek het gedink hy gaan my branderrylesse gee en meer oor die eilandkultuur leer, maar as ek nou daaraan dink, het hy die heeltyd rondgekyk en onrustig gelyk,” sê Lizane. “Sy vriende agter die branderplanke langs die kokosneutstalletjie het lekker gelag en heeltyd vir ons gekyk. Hulle was wit ouens. Nie baie bruingebrand nie.

“Die instrukteur het ’n degerige lyf gehad, met rekmerke aan sy heupe en arms. Hy het nie soos ’n branderry-instrukteur gelyk nie,” sê Gita.

Lizane het haar drankie vinnig gedrink. Toe begin sy warm voel, maar sy het gedink dis die hitte.

“Ek wou swem en het my sonbril en sarong afgehaal en in die water ingegaan. Toe is die instrukteur weer daar.”

Hy het haar lomp begin uitvra, onder meer oor haar ta­toes. Skielik het sy baie sleg begin voel. “Toe gee my bene in. My mond binne het dood gevoel en ek kon nie behoorlik praat nie. Ek onthou ’n lang pouse. Die instrukteur het lank na my gestaar, vir ’n ewigheid. Ek was nog in die water.

“Ek het na Gita op die strandstoel gekyk. Sy het vreemd geglimlag.

“Ek het besef iets was fout.”

Sy het vir Gita geskreeu: “Los die coconut. Kom!”

“Ek het bang geraak, vir my en Gita. Ek het geweet dat daar iets in my sisteem was wat nie daar moes wees nie. Ek het begin hallusineer.”

Gita, wat net die helfte van haar drankie gedrink het, sê sy het net ’n “salige gevoel” gehad, maar sy kon sien Lizane is in die moeilikheid. Sy het haar aan die arm gegryp en hulle het gevlug.

“Die ouens het my onderskat,” sê Lizane. “Ek weet nie hoe ons van daardie strand gekom het nie. As ek nou daaraan dink, dan sien ek twee skoenlappers wat vlieg in ’n groot hok . . . Dit is ’n aaklige gedagte as jy dink dat so iets helder oordag kon gebeur.

“Ek is baie ontnugter. Ek het al die wêreld plat gereis. Nooit in my lewe het ek gedink ek sou bedwelm word helder oordag op ’n strand in Bali nie.

Lizane het by tye erg paranoïes gevoel en het die volgende dag erge hallusinasies en maagkrampe ervaar. Die twee vroue is na die internasionale hospitaal in Nusa Dua en die dokters het vasgestel dat daar “vreemde stowwe” in hul liggame was.

Hulle was te bang om die voorval by die owerhede aan te meld, maar hulle het sedertdien op die internet gelees van talle gevalle van mense wat onwetend in Kuta gedokterde drankies gedrink het.

Meer oor:  Dwelms  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.