Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Misdaad
Melkboer veg verbete terug ná hou met graaf
Albie van Jaarsveld (45) voor die melkery waar hy aangeval is.Foto: Verskaf

Albie van Jaarsveld (45) het Vrydagaand, ten spyte daarvan dat hy pas met ’n graaf teen die kop geslaan is, net geweet hy moet terugbaklei.

“Dit was ’n hárde hou. Gelukkig het die aanvaller my met die graaf se plat kant getref, en meer teen die nek as teen my kop,” het hy van sy noue ontkoming vertel.

Van Jaarsveld en sy vrou, Hannelie, bly op die hoewe langs sy skoonouers se melkboerdery in Rayton, oos van Pretoria.

Die Van Jaarsveld-egpaar bestuur die boerdery, waarop daar ook skape is.

“My skoonma was weg vir die naweek. Daar is ’n kampie by die stoor en melkstal waar siek skape gehou word en toe ek hoor die honde daar gaan erg tekere, het ek oorgery na my skoonma se grond.

“Daar is baie diere om na om te sien. Daardie diere is ons lewe en inkomste, so ek kan dit nie net los as iets fout is nie, ek moet gaan kyk.

“Dit het al gebeur dat van hulle uitkom en in die teerpad beland,” het Van Jaarsveld verduidelik.

Hy wou die soeklig kry wat in die ander bakkie by die siek skape geparkeer was.

Hy het uit sy bakkie geklim, gesien die een siek skaap lê op haar sy en oor die heining geleun om haar te help.

Toe tref ’n harde hou my van agter af. Ek is dadelik grond toe.
Albie van Jaarsveld

“Toe tref ’n harde hou my van agter af. Ek is dadelik grond toe.”

Hy het iemand bo-op sy rug gevoel. Ten spyte van die hou met die graaf, het die boer begin terugbaklei.

“Ons het erg gestoei. Kyk, ek is groot, maar die man was groter. Ek kon voel hy is sterk.

“In ’n stadium het ek hóm op die grond gekry en besef ek moet nóú slaan.”

Van Jaarsveld het ’n hou in die aanvaller se maag geplant – en toe sy bewussyn verloor.

“Ek moes ’n goeie 20 minute uit gewees het. Toe ek bykom, was ek op die grond en my polse met kabelbinders aan ’n paal vasgebind.”

Hy het sy selfoon hoor lui. Dié het in die stoeiery onder die een bakkie beland.

Daar was verskeie oproepe van sy vrou en dogter wat die bakkie se ligte – sonder ’n teken van Van Jaarsveld – sien brand het.

“Ek het die foon met my voet nader gehark gekry. Daar was nog sand in my oë ook, so dit was ’n gesukkel om die foon te beantwoord.”

Hannelie en ’n buurman was eerste daar, nadat sy dié en die buurtwag gekontak het.

Hannelie en ’n buurman was eerste daar, nadat sy dié en die buurtwag gekontak het.

Van Jaarsveld was “heeltemal gedisoriënteerd” toe hulle hom ophelp.

Hy onthou daar was ’n ambulans en iemand het “in my oë gekyk en gesê ek het harsingskudding, ek moet dokter toe”.

“Maar ek was so vuil, ek wou net was en bed toe gaan. Daar was darem nou nie oop wonde of bloed of iets gebreek nie.”

Hannelie het bygevoeg: “Dit was net genade dat hy nie te ernstig seergekry het nie.”

Van Jaarsveld sê sover hulle kon vasstel, is niks gesteel nie, maar die polisiekaptein wat op die toneel was, vermoed die aanvaller wou ’n skaap steel.

“Daar was sedert Vrydagaand alarms in die omgewing wat afgegaan het soos mense oor heinings klim en drade knip, so dit klink of hulle rondloop en shop voor Paasfees,” het hy gesê.

Meer oor:  Rayton  |  Pretoria  |  Harsingskudding  |  Hoewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.