Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Misdaad
Sluier bietjie vir bietjie gelig oor lughawe-rooftog
Die foto wat opspraak gewek het. Foto: VERSKAF

Die polisie het nóg vyf mense, onder wie ’n polisielid, in hegtenis geneem in verband met die gewaagde rooftog van miljoene rande by die O.R. Tambo-lughawe.

Intussen het die polisie bevestig twee mans op ’n foto saam met ’n Lamborghini waarop hulle glo beslag gelê het, is nie verdagtes in die rooftog nie, soos aanvanklik beweer is.

Die foto is wyd in die sosiale media gedeel en deur sommige nuusmedia gepubliseer.

Thokwane Simon (37), Mathabatha Frans Manaka (30), Sibusiso Job Mnisi (39), Prince Rafael Dube (43) en Mosiwa Steven Motani (35) het almal Maandagmiddag in die Kempton Park-landdroshof verskyn in verband met die rooftog op 7 Maart.

Hulle sal op 28 en 29 Maart om borgtog aansoek kan doen.

Brig. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, wou nie sê watter een van die beskuldigdes die polisiebeampte is nie.

Een van die ander beskuldigdes is volgens betroubare bronne van Tembisa en werk glo as ’n veiligheidsbeampte by Guardforce International Transportation, wat die geld moes bewaak.

’n Tweede is glo ’n veiligheidswag by die veiligheidsmaatskappy G4S wat in Elandsfontein werk.

’n Verteenwoordiger van Guardforce het by navraag gesê hulle kan geen inligting bekend maak nie en G4S kon nie dadelik kommentaar lewer nie.

Een van die mans wat by die Lamborghini van R5 miljoen afgeneem is, sê hy is nie een van die rowers nie, maar ’n polisiebeampte wat die saak ondersoek.

Mosiwa Mutame en Khulekani Sibanda, albei van Zimbabwiese afkoms, het verlede week in die landdroshof in Kempton Park verskyn en is op borgtog van R50 000 elk vrygelaat.

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiehoof, het Maandag in ’n verklaring gesê daar is geen plek vir “korrupte of misdadige elemente” in die polisiediens nie.

Met verwysing na die foto van die mans by die Lamborghini het Phahlane gesê die polisie is teleurgesteld dat dit gepubliseer is.

“Ons vra dat ons ondersoekers toegelaat word om met hul ondersoeke voort te gaan en dat kredietwaardige inligting uit die hofverrigtinge verkry word.”

Hy het gesê die media se funksie as waghond word gerespekteer, maar daar is kommer dat polisielede inligting aan die media uitlek.

Die polisie probeer vasstel wie die inligting en foto’s laat uitlek het.

Een van die mans wat by die Lamborghini van R5 miljoen afgeneem is, sê hy is nie een van die rowers nie, maar ’n polisiebeampte wat die saak ondersoek.

Hy het op sy Facebook-blad geskryf: “So almal dink ek is die O.R. Tambo-dief, haai.”

Hy sê die foto is geneem in die huis van een van die verdagtes toe dié in hegtenis geneem is.

De Beer het gesê: “Ons distansieer ons as polisie heeltemal van hierdie berigte omdat dit nie deur amptelike kanale bevestig is nie en kan ongelukkig nie kommentaar hierop lewer nie.”

“ ’n Lamborghini is wel een van die items waarop daar in die ondersoek beslag gelê is, maar as die polisie kan ons glad nie bevestig of dit dieselfde voertuig is wat op die foto verskyn nie. Ek kan wel bevestig dat die twee mans op die foto glad nie as verdagtes beskou word nie.”

* Die rowerbende het luidens ’n vroeëre uiteensetting van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) omstreeks 19:23 met ’n wit bakkie wat soos ’n polisievoertuig gekamoefleer was en ’n wit voertuig met loeiende sirenes en flitsende blou ligte by ’n beperktetoegangsone by die lughawe se Noordhek 1 ingery.

’n Paar gewapende mans, van wie sommige glo polisie-uniforms aangehad het, het toe glo vuurwapens op die veiligheidswagte by die hek gerig.

Op die aanloopbaan het hulle miljoene rande kontant in 27 pakke uit ’n verseëlde houer verwyder.

Die voertuie wat in die rooftog gebruik is, is later naby Pretoria gevind.

Die rooftog word deur ’n hoëvlak-taakspan van lede van die Valke, die misdaadintelligensie-eenheid en die speurtak ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.