Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
Nuwe geboue spring op soos paddastoele in middestad
Roggebaai Place in Jettystraat gaan 14 verdiepings hoog wees, met 12 500 m² vloerruimte. Foto’s: yunus mohamed
Die vloerruimte in Media Quarter in Somersetweg in Groenpunt is 5 000 m².
Atlantic-sentrum in Christaan Barnard-rylaan, met 10 verdiepings en 10 000 m² vloerruimte.
Die Portside-gebou op die hoek van Mechau- en Breestraat gaan 32 verdiepings hoog wees, met 52 000 m² vloerruimte.
Breestraat 22 gaan ook 10 000 m² vloerruimte hê.
Die Touchstone-gebou in Breestraat behoort teen Augustus 2015 voltooi te wees. Dit sal 10 000 m² beslaan.

KAAPSTAD. – Nuwe kantoorgeboue word die een ná die ander in die middestad van Kaapstad gebou.

James Shaw, ’n agent in kommersiële eiendomme by Baker Street-eiendomme, het gesê dit is opwindend om soveel kantoorontwikkelings in die middestad te sien.

“Ons moet die groot maatskappye wat die afgelope jare in ander gebiede belê het, terugbring hierheen. Al die nuwe ontwikkelings bevestig weer die vertroue dat die middestad van Kaapstad ’n wêreldklas-bestemming vir besighede is.”

Kaapstad se Stadsverbeteringsdistrik (SVD) het ’n lys van nuwe kantoorontwikkelings bekend gemaak wat in die middestad in aanbou is of pas voltooi is. Dit sluit in die Portside-gebou, Breestraat 22, Roggebaai Place, Media Quarter, die Atlantic-sentrum en die Touchstone-gebou.

In die geval van Roggebaai Place het bouwerk twee jaar lank stilgestaan.

Rob Kane, voorsitter van die SVD, het gesê die hyskraan op die bouperseel van Roggebaai Place is ’n bemoedigende teken van ’n kommersiële eiendomsmark wat goeie tekens van beter ekonomiese tye wys.

“Dié ontwikkeling van R285 miljoen is ’n positiewe teken van die vertroue wat in die middestad van Kaapstad bestaan. Dit skep verdere vertroue dat die middestad ’n belangrike gebied vir kantoorgeboue is.”

Die SVD glo daaraan dat die grondvloer van kantoorgeboue in die middestad ’n verskeidenheid van ondernemings moet bevat.

“So ’n mengsel van besighede waar mense van die sypaadjie af verwelkom word om hul sake te doen, is noodsaaklik om ’n funksionele stadsgebied te vestig,” het Kane gesê.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.