Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Onderwys
Die Puk samel die meeste nóg in vir liefdadigheid
Karabo Maragelo ontvang Saterdagaand sy deel van R2,8 miljoen van Puk-studente se skenkings vir liefdadigheid. By hom is prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), Pukki en Janine Möller, voorsitter van die studente-jool-gemeenskapsdiens (SJGD), wat die R2,8 miljoen ingesamel het. Foto: Aldus Smith
Karabo Maragelo voordat hy sy kunsbeen gekry het waarvoor die NWU-Pukke se studente-jool-gemeenskapsdiens (SJGD) geld ingesamel het. Foto: Verskaf

Studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus het die afgelope jaar op eie stoom R2,8 miljoen vir liefdadigheid ingesamel.

Dis die meeste nog. Die reuse-oes is Saterdagaand aan tientalle individue en organisasies oorhandig.

“Dis ’n voorreg en onbeskryflik om soveel hoop te kan uitdeel,” sê Janine Möller, voorsitter van die Studente-jool-gemeenskapsdiens (SJGD) op die Potchefstroom-kampus.

Pukki, die kampusgelukbringer, het R1,1 miljoen ingesamel.

Daarvan is R400 000 aan behoeftige studente geskenk, R49 000 vir kos en beddegoed vir behoeftige studente en R72 000 vir die kampus se katversorgingsprojek.

Karabo Maragelo, ’n Puk-student wat sy regterbeen in Oktober 2014 in ’n ongeluk verloor het, het R90 000 van Pukki ontvang vir ’n kunsbeen wat hy reeds in Desember gekry het.

“Dit beteken so baie. Ek kan nou meer doen en word minder aangestaar. Ek kan selfs partytjies bywoon en koeldrank saam met my vriende drink terwyl ons op die kampus loop.”

Maragelo sê hy moes ná die ongeluk langer as ’n jaar met krukke oor die weg kom. “Ek het byna moed opgegee en selfs daaraan gedink om op te skop en myself om die lewe te bring.”

Karabo se lewe het egter verander nadat hy by Corrie Rheeder, ’n traumaberader by die kampus se ingrypingsdienste, beland het.

“Sy het die wiele aan die rol gesit en SJGD betrek.

“Ek sou ook nie hierdeur kon kom sonder die ondersteuning van my vriendin, Molebogeng Hennecks, nie.”

Karabo het ná sy ongeluk sy graad in rekenaarwetenskap en inligtingstudie voltooi en is nou besig met ’n honneursgraad in dié rigting. Hy sien daarna uit om te begin werk, ’n verskil in ander se lewe te maak en iets terug te gee – nes die SJGD vir hom gedoen het.

Benewens met die jaarlikse jool samel SJGD ook geld in met tientalle projekte soos die Kaalvoet- en Blikkieskosdag, asook die werwing van geld.

Nog organisasies en individue wat skenkings uit die R2,8 miljoen ontvang het, is Famsa (R10 000), Childline in Noordwes, (R20 000), die gestremde student Selouna Visser (R10 000) en die Potchefstroomse Hoër Volkskool vir koshuisgeld (R5 000). R91 000 se uitbetalings is aan buite-instansies gedoen.

“Ons spesifiseer waarvoor geld aan instansies gebruik moet word,” sê Möller. “Dan volg ons later op om vas te stel of die geld wel so gebruik is.”

Meer oor:  Noordwes-Universiteit  |  Nwu  |  Susan Cilliers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.