Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Onderwys
Kyk: Wêreld van boeke gaan vir leerlinge oop
Leerlinge van die Zonnebloem Boys Primary School verken die nuwe skoolbiblioteek wat Woensdag sy deure geopen het.Foto: Le Roux Schoeman

Aan die voet van Tafelberg, in Zonnebloem, het die wêreld van boeke Woensdag vir honderde kinders van die Zonnebloem Girls Primary en Zonnebloem Boys Primary School oopgegaan, toe hulle die eerste keer hul deftige biblioteek gesien het.

Altesaam 650 leerlinge het met groot oë en verwondering gekyk na die “leeshuisies” in die biblioteek, die Sunshine Learning Centre – wat elkeen toegerus is met ’n sitplek, boekrakke en liggies in die dak – terwyl ander nuuskierig was om die verskeidenheid boeke te sien.

Kunsgras dien as matte waarop hulle kan lees en ’n swart geverfde muur sal as ’n skryfbord gebruik word.

Hier kan leerlinge ’n verskeidenheid boeke in Afrikaans, Engels en Xhosa lees.

Zephne Ladbrook, uitvoerende hoof van die Otto-stigting wat die projek behartig, sê die biblioteek is meer as net ’n plek waar kinders boeke kan leen, dit is ’n plek van veiligheid.

“Slegs 25% van die skool se kinders woon in die gebied. Die res word almal soggens vroeg van verskillende plekke hierheen aangery. Die skool – ’n kwintiel-5-skool wat min finansiële steun van die onderwysdepartement ontvang – het nie buitemuurse aktiwiteite wat leerlinge ná skool kan besig hou nie. Dit is waar die biblioteek ’n belangrike rol sal speel,” sê Ladbrook.

Die bou van die biblioteek het sowat ses maande geduur en tot dusver het dit reeds skenkings van meer as 5 000 boeke ontvang. Die kapasiteit van die biblioteek is egter 12 000, sê Karin Breytenbach, woordvoerder van die stigting.

Sy sê die plan is om later e-leertoerusting, soos tablette en rekenaars, aan te skaf.

Biskop Garth Counsell van die Anglikaanse kerk in Kaapstad spreek die eerste groep leerlinge van die Zonnebloem Girls Primary School en Zonnebloem Boys Primary School toe wat die skool se nuwe biblioteek besoek het. Foto: Le Roux Schoeman

“Dit is een ding om ’n biblioteek te bou, maar dit moet ’n mooi en interessante gebou wees waar die leerlinge regtig wil gaan lees. Dit moet meer as net ’n paar boeke en boekrakke wees,” sê Ladbrook.

Die stigting het ook ’n beradingsentrum, Community Keepers, geopen waar maatskaplike werkers en sielkundiges tot die leerlinge se beskikking sal wees.

“Ons dink dat die psigiese welstand van die kinders net so belangrik soos hul opvoeding is, en het die organisasie genader om ’n kantoor op die skoolperseel te open,” sê Ladbrook.

Die biblioteek is deur ’n biskop van die Anglikaanse kerk in Kaapstad, Garth Counsell, met ’n gebed geopen.

“Boeke is die ruggraat van kennis. Om te lees maak nuwe wêrelde vir jou oop. Dit is hier waar julle ’n plek van veiligheid sal vind,” sê Counsell.

Meer oor:  Kaapstad  |  Lees  |  Leerlinge  |  Biblioteek  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.