24 April 15:24
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

23°C / 14°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Donderdag

20°C / 16°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Vrydag

20°C / 14°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Saterdag

28°C / 16°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Sondag

18°C / 15°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 76%

Onderwys
Maties 'vir die wolwe gegooi'
Poekie se pa, dr. Joggie Briedenhann, ’n ortodontis van Windhoek.
Jo-Anne Cloete en Poekie Briedenhann.
Mathew Smorenburg: “Dit word gesien as swart, finish en klaar.”
Die foto wat na bewering gemanipuleer is om die meisies swart te laat lyk.

Die Universiteit Stellenbosch het twee studente wat valslik van “black­face” beskuldig is, vir die wolwe gegooi en universiteitsamptenare het aanvanklik geweier om selfs eers na hul kant van die storie te luister.

Die US het uiteindelik – ná ’n “ondersoek” van sewe dae – laat eergistermiddag eers amptelik die “tydelike” skorsing van Christine (Poekie) Briedenhann (20) en Jo-Anne Cloete (19) uit hul koshuis opgehef.

Maar onderhoude met die meisies en ’n rekonstruksie van die gebeure die afgelope week suggereer dat die universiteit binne enkele ure nadat die aanvanklike klagte gelê is, reeds geweet het dat die meisies hulself pers en nie swart geverf het nie. Tog het die universiteit hardkoppig volgehou om hulle van wangedrag te beskuldig en aan ’n onnodige en vernederende tugondersoek onderwerp.

“In 25 jaar in die praktyk het ek nog nie so ’n flagrante vertrapping van ’n student se regte deur sy eie universiteit gesien nie,” het Danie Rossouw, Briedenhann se prokureur, gister gesê. Briedenhann en Cloete oorweeg tans ’n siviele skadevergoedingseis teen die universiteit, die studenteraad, individuele amptenare en studente wat hulle aan intimidasie skuldig gemaak het.

Dit is veral die optrede van Mathew Smorenburg, verbonde aan die universiteit se sentrum vir studentestrukture en -gemeenskappe, wat sterk onder verdenking is.

Pers gesigte: Bevinding teen Rapport

Die persombudsman, dr. Johan Retief, het die afgelope week bevind Rapport se berig oor die persgesigdebakel verlede maand, “Maties ‘vir die wolwe gegooi’ ”, het sekere regulasies van die SA Pers­kode oortree. Retief het bevind dat aspekte van die berig – waarin twee Matiestudente wat daarvan beskuldig is dat hulle hulself aan “blackface” skuldig gemaak het, hul kant van die storie vertel – onakkuraat en onbillik was.

Lees meer hier

Smorenburg het kort nadat die foto’s van Briedenhann en Cloete verlede Vrydagoggend op sosiale media verskyn het, die twee studente en Natanja van Rooyen (’n studente wat op van die foto’s verskyn, maar wie se lyf nie geverf was nie) na sy kantoor ontbied waar hy hulle oor die kole gehaal het. Ook teenwoordig was dr. Leslie van Rooi, die inwonende hoof van die Simonsberg-manskoshuis en Heemstede se primaria, Demi Roodt.

Die twee kamermaats het die aand tevore ’n partytjie van hul koshuis, Heemstede, bygewoon. Die tema van die aand was “Stellar Space” en hulle is vroeër die dag na ’n Chinese winkel waar hulle botteltjies rooi en blou verf gekoop het waarmee hul pers verf gemeng het. Hul uitrustings is afgerond met blinkertjies op die gesig en versierings wat hulle uit tinfoelie gemaak het.

Briedenhann vermoed dat ’n foto wat sy die volgende oggend op haar Instagram-profiel gelaai is, deur ’n voormalige Heemstede-inwoner en lid van Open Stellenbosch (OS) gesien is. Dié persoon het dit na bewering afgelaai, digitaal gemanipuleer om hulle swart te laat lyk, en verder versprei. ’n BSc-student en aktiewe OS-lid, Tshepo (Crocky) Modiri, het toe ’n klag van “blackface” by die universiteit gaan lê.

Die meisies sê tydens die vergadering het Smorenburg hulle op ’n “baie intimiderende, baie intense, effens beledigende en baie geïrriteerde wyse en met baie handgebare” begin toespreek. Hy was nie eintlik geïnteresseerd in hul verduidelikings nie.

Toe hulle hom daarop wys dat hulle bloot soos aliens aangetrek was, het hy hulle onderbreek: “Moenie daardie woord gebruik nie!” Hy het gesê die term alien of extraterrestrial impliseer dat wit mense dink daar is sekere rassegroepe op kampus wat nie in die samelewing tuishoort nie. Deur sulke woorde te gebruik, het hy gemaan, “kan julle net die situasie vererger”. Toe hulle by hom pleit dat hulle nie eens weet wat “blackface” is nie, het hy hulle glo uitgekryt as “oningelig, naïef en onopgevoed”.

Die meisies beweer verder dat:

  • Smorenburg aan hulle gesê het dat hulle nie ’n regsverteenwoordiger mag kry voordat hy so sê nie;
  • hy nie omgee wat hulle bedoelings was nie, wat saakmaak, is wat ander mense daarvan dink;
  • nadat hulle later die dag nóg ’n foto, wat duidelik wys dat hulle pers geverf was, aan Smorenburg gewys het, hy sou gesê het dat hy nie belangstel om dit te sien nie omdat dit nie saak maak watter kleur hulle was nie. “Dit word gesien as swart, finish en klaar.”

Smorenburg het ook ’n “verskoning” op sy selfoon uitgetik wat hy aan hulle per SMS gestuur het met die opdrag om dit op hul Facebook-profiele te sit. In die verskoning bedank hulle diegene wat “probeer om ons te ondersteun” en “versoek dat (ons vriende) nie probeer om die onverskoonbare te verskoon nie”.

Die meisies was so geïntimideer deur Smorenburg dat hulle presies gedoen het wat hy gesê het. Briedenhann sê toe haar ma haar verskoning sien, was sy uiters geskok en het haar beveel om die “belaglike” verskoning dadelik te verwyder en haar profiel te sluit. Die ander twee meisies het ook hul verskonings verwyder van hul Facebook-blaaie.

Briedenhann se pa, dr. Joggie Bredenhann, ’n ortodontis van Windhoek, sê toe hy later die middag vir Smorenburg gebel het, het Smorenburg aan hom gesê om nie regsverteenwoordiging vir sy dogter te kry nie, omdat dit die indruk by die
klaers sal laat van ’n “bevoorregte wit meisie met regshulp”.

Daardie middag het ’n menigte EFF- en OS-ondersteuners ook wederregtelik toegang tot die koshuis gekry en daarop aangedring om Cloete en Briedenhann, na wie hulle verwys het as “Crispy Whitebread”, te spreek.

Die meisies moes hulself in hul kamer toesluit terwyl huiskomiteelede en ander studente gedwing is om op die vloer te sit en oor hul “rassisme” aangespreek is. Plakkate is ook op kampus versprei met die twee se gesigte en telefoonnommers.

Die meisies is later die middag deur Pieter Kloppers, direkteur van die universiteit se Sentrum vir Studentegemeenskappe in kennis gestel het dat hulle “tydelik” uit die koshuis geskors word.

Hulle het aan hom gesê hulle is bang en verlang beskerming, maar dit was eers nadat Briedenhann se ouers later in die week in Stellenbosch aangekom het om sy dogter by te staan, dat die universiteit enige daadwerklike stappe gedoen het om hulle te beskerm.

  • Poekie Briedenhann het gister gesê miskien kom daar tog iets goeds uit hul nare ervaring. “Indien ons ondervinding daartoe kan lei dat mense meer begrip en respek vir mekaar se opinies en omstandighede het, sal dit ook vir ons help om hierdie baie slegte ervaring vinniger agter ons te sit.”
  • Lees ook Rapport Sê in Stemme en die universiteit se reaksie.

* Lees ook die regstelling op dié berig soos deur die Persombudsman bepaal

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.