Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Onderwys
‘Studente sal wegtrek as Puk kultuur verloor’
Alana Bailey, adjunkhoof van AfriForum.Foto: Nico Gous
Die hoofgebou van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus.

Studente sal elders gaan studeer as die kultuur en karakter van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus verdwyn, sê Alana Bailey, adjunkhoof van AfriForum.

Bailey sê dit sal dieselfde wees as om die karakter van Oxford, “wat ’n ryk kultuur en geskiedenis het”, te verander.

“ ’n Universiteit is meer as net ’n leeromgewing. Die Puk het nog al die jare ’n baie sterk kultuur en mense het ’n emosionele verbintenis daarmee. Studente sal dan eerder oorsee gaan studeer of kan dan maar net sowel ’n aanlyn kursus doen,” sê Bailey.

Sy sê dit is “nog die enigste kampus waar Afrikaans nog werklik bestaan”.

Volgens haar sal dit ook “besonder moeilik” wees om een kultuur te skep.

“Die kampusse is ver uitmekaar en dit gaan baie moeilik wees om elke kampus se unieke kultuur een te maak.”

Dit kom nadat die NWU se statuut met ’n nuwe strategie deur dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, goedgekeur is en in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die NWU met sy drie kampusse is nou een en die Potchefstroom-kampus is nie meer ’n Afrikaanse kampus waar anderstalige studente net bloot “geduld” word nie, het prof. Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi, die NWU se visekanselier, vroeër gesê.

Dr. Rolf Stumpf, oudvisekanselier van die Nelson Mandela-Universiteit en voormalige strategiekonsultant by die NWU, sê hy verstaan mense se kommer dat die kultuur by die Potchefstroom-kampus kan verdwyn.

Die Noordwes-Universiteit is egter nie net meer Potchefstroom nie, sê Stumpf.

“Universiteite dien die gemeenskap en is nie net ’n fabriek nie. Dis ’n maatskaplike instelling. Daar is ’n maatskaplike wisselwerking tussen ’n universiteit en sy omgewing. So die mense wat bekommerd is, het goeie rede,” sê Stumpf.

Hy sê egter ’n mens moet ook onthou dat ’n universiteit ’n omgewing is wat studente moet voorberei op die samelewing waarin hulle ná universiteit gaan funksioneer.

“Dit is ’n samelewing wat nie noodwendig in Potchefstroom versinnebeeld word nie. Daar is ’n groter diverse samelewing buite byvoorbeeld Potchefstroom,” sê hy.

Stumpf sê hy ondersteun die nuwe statuut ten volle en sê dit sal daartoe lei dat die universiteit geweldig groei.

“Dit is die regte model op die regte tyd. Daar is baie voordele. Een van hulle is kostebesparing. Waar daar tot op hede byvoorbeeld drie dekane aangestel moes word, is daar net een uitvoerende dekaan,” sê hy.

Volgens hom was daar nie noodwendig fout met die vorige statuut nie en dit het goed gewerk in die tyd wat dit in werking was.

“Dit sou te vroeg wees om vyf jaar terug die nuwe statuut in werking te stel.”

Hy sê daar lê egter nog ’n lang pad voor en dat dit nog ’n paar jaar sal neem voordat die eenheidskultuur ten volle gevestig sal word.

Froneman het vroeër gesê die taalbeleid sal egter nie verander nie.

“Die toepassing van die taalbeleid was nog altyd soepel en met inagneming van die veranderende omstandighede. So doen ons dit steeds. Daarom het ons ’n jaar of wat gelede reeds meer parallelmediumklasse begin aanbied sodat Engelssprekende studente gemakliker kan studeer,” sê Froneman.

Bailey sê sy is bekommerd oor die behoud van Afrikaans en die taalbeleid op die Potchefstroom-kampus.

“Parallelmedium is ’n gevaarlike model, want dan skep jy juis rassesegregasie en dit blyk dit is juis wat die NWU nie wil doen nie met die nuwe statuut,” sê Bailey.

Sy sê veral studenteleiers sal moet ingryp en opstaan en aanspraak maak op dit wat die studente op die Potchefstroom-kampus wil hê.

Lees hier (http://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/nuwe-nwu-statuut-dalk-einde-van-die-naam-pukke-20170330) meer oor die NWU se nuwe statuut.

Meer oor:  Taal  |  Studies  |  Kultuur  |  Universiteite  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.