28 Julie 00:36
Kaapstad Verander Area

Vrydag

20°C / 12°C

Wind 27km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Saterdag

18°C / 13°C

Wind 24km/h

Reënval 1mm

Humiditeit 64%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

22°C / 15°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 49%

Dinsdag

16°C / 15°C

Wind 39km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 80%

Woensdag

15°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 5mm

Humiditeit 66%

Onderwys
Persgesig-drama
US se SR wil nie ekskuus sê
Stry nog oor of dit ‘blackface’ was of nie
Jo-Anne Cloete (19) en Poekie Briedenhann (20) Foto: Facebook

Kaapstad. – Die stof oor die “persgesig”-drama by Maties het nog nie gaan lê nie.

Hoewel die rektor van die Universiteit Stellenbosch, prof. Wim de Villiers, ’n onafhanklike kommissaris gaan aanstel om die instelling se hantering van die saak te ondersoek, blyk daar nog “polarisasie” oor die voorval op die kampus te wees.

’n Week nadat die US erken het dat dit nie ’n blackface-voorval was nie, debatteer die US se studenteraad (SR) steeds oor die saak.

“Daar is nog nie enigheid in die studenteraad of dit wél blackface was of nie,” het ’n woordvoerder van die SR, Marc Rudolph, Donderdag gesê.

“Ons gaan wag op die verslag van die universiteit se onafhanklike kommissaris voordat ons weer iets oor die saak sê. Dis ’n sensitiewe saak wat gegrond is in ’n ideologiese debat.

“Natuurlik is daar studente wat die hele ding afskryf as ’n comedy of errors. Daar is egter nog heelwat polarisasie hieroor. Aan die een kant voel party mense dat die studente op ’n tegniese punt vrygespreek is.”

AfriForum Jeug het Donderdag op die Rooiplein op die kampus byeengekom om ’n versoekskrif aan die US te oorhandig.

“Ons wil weet hoekom die universiteit daardie twee meisies skuldig verklaar het voordat hy ordentlik ondersoek ingestel het. Ons wil weet waar die misverstand ingekom het en hoe die universiteit seker gaan maak dat dit nooit weer gebeur nie,” het Bernard Pieters, AfriForum Jeug se koördineerder by die US, Donderdaggesê.

Hy en ondersteuners van AfriForum Jeug het hulself ook pers geverf voordat hulle die versoekskrif en ’n inkleurboek aan Pieter Kloppers, US-direkteur van studentestrukture en -gemeenskappe, oorhandig het.

“Ons het vir hom die inkleurboek gegee sodat hy leer om nie oor die lyne in te kleur as dit by studentepret en onskuldige studente-aksies kom nie en sodat hy verskoning moet vra vir sy kleurblindheid.”

Die “persgesig”-drama het twee weke gelede begin toe ’n foto van Christine (Poekie) Briedenhann (20) en Jo-Anne Cloete (19) op sosiale media begin versprei het waarop dit aanvanklik gelyk het asof hulle hul gesigte swart geverf het vir ’n partytjie.

Die twee is kort daarna tydelik uit die vrouekoshuis Heemstede geskors. ’n Week later het dit aan die lig gekom dat die studente pers geverf was om soos ruimtewesens te lyk, waarna die skorsing opgehef is.

Sedert die US erken het dat dit nie ’n blackface-voorval was nie, het die SR egter nog nie sy swaar bewoorde verklaring oor die voorval teruggetrek nie.

“Ons glo dat enige onsensitiewe optrede waar mense hulself verf onaanvaarbaar is in 2016 . . .” lui die verklaring.

“Die optrede is oningelig en gaan teen ons waardes omdat dit ’n institusionele kultuur van uitsluiting in die universiteit voortsit.”

Briedenhann en Cloete se ouers beplan om regstappe teen die US, Open Stellenbosch én die SR te doen.

‘Ons moet regstel wat verkeerd is, lesse leer’

Daar is die laaste ruk baie gesê oor die sogenaamde “blackface”-voorval by ons Heemstede-vroue­koshuis twee weke gelede. Ek gebruik graag hierdie ­geleentheid om my standpunt te stel, skryf WIM DE ­VILLIERS.

Ek bevestig die Universiteit Stellenbosch (US) se spyt oor waaraan die twee studente in die oog van die storm blootgestel is. Dit was uiters onaangenaam en ek is jammer oor wat hulle deurgemaak het.

’n Dringende interne ondersoek die week ná die voorval het bevind die twee is heeltemal onskuldig. Hulle het pers lyfverf gebruik om hulle as ruimtewesens uit te beeld vir ’n partytjie by die koshuis – sonder kwade bedoelings. 

’n Foto wat op sosiale media geplaas is, is egter as “black­facing” geïnterpreteer, wat in die lig van ons land se geskiedenis van rassisme groot ontsteltenis veroorsaak het. 

Medestudente van die twee betrokkenes het beswaar aangeteken en klagte ingedien en die universiteit se relevante strukture het toegetree.

Intussen het bewerings aan die lig gekom dat die universiteit die situasie verkeerd hanteer het. Ons het hiervan kennis geneem en vandeesweek ’n bykomende ondersoek deur ’n onafhanklike kommissaris van stapel gestuur. Ons wil hê daar moet omvattend na alle fasette van die voorval gekyk word, insluitend die universiteit se hantering daarvan. 

Hieruit sal spesifieke aanbevelings aan die universiteit voortvloei.

Die twee studente is intussen terug in die koshuis en kan nou weer fokus op hul studie, waaroor ek baie bly is. 

Die universiteit het hulle voortdurend bygestaan ten tyde van die voorval en sal voortgaan om dit te doen.

Ons het ’n groot verantwoordelikheid teenoor die jong mense wat aan die universiteit kom studeer. Ek gee om vir al ons studente. Ek wil hê hul tyd aan die universiteit moet verrykend en vervullend wees. 

In dié proses loop dinge egter van tyd tot tyd skeef. 

Ons moet egter regstel wat verkeerd is en lesse leer. 

Ek moedig uit die staanspoor die oop gesprek by die US aan. 

Hoe ons met mekaar omgaan, moet egter in ooreenstemming met die universiteit se waardes wees: diensbare leierskap, uitnemendheid, innovasie, medeverantwoordbaarheid en empatie.

Waar hierdie waardes uitgeleef word, word veilige ruimtes vir interaksie geskep waar daar nie plek is vir intimidasie, manipulasie, dreigemente, haatspraak, rassisme, seksisme, homofobie en ander vorme van diskriminasie en verontmensliking nie.

Die oop gesprek behels praat én luister. Ek hoor swart studente sê hulle voel uitgesluit deur ’n institusionele kultuur wat nie verwelkomend teenoor hulle is nie. Ek hoor wit studente sê hulle ervaar ’n verlies aan identiteit weens die persepsie dat die universiteit hulle versaak.

 Oral op die kampus sien ek jong mense wat met mekaar oor die weg kom – ondanks oënskynlike verskille. Ek sien jong mense wat mekaar met respek en menswaardigheid behandel – ongeag kleur, geloof, geslag of seksuele oriëntasie.

Ons sou dwaas wees om ons te verbeel dat die US in ’n lugborrel funksioneer. Die hoër onderwys bevind hom midde-in die woelinge in ons land. Dit gaan gepaard met frustrasies oor diepgewortelde ongelykhede en uitsluiting in ons samelewing. Daar is ook verwagtinge van kitsoplossings en sterk politieke druk op die staat en instellings soos universiteite.

Die US is nie hiervan vrygestel nie – juis in die lig van historiese realiteite.

 
Daar is ’n siening dat wit bevoorregting hier voortduur. Dit is ongegrond, maar die persepsie dra tot die kompleksiteit van die situasie by.

Aan die ander kant skyn daar ’n verwagting te wees dat die US verskansing teen transformasie in die land moet bied. 

Sommige wil kwansuis hê ons moet ’n laaste vesting vir Afrikaans en Afrikanertradisies wees; ’n misdaadvrye kampus en dorp; ’n vakuum waarin daar geen politieke invloede en protesaksie is nie. Dit is eweneens onrealisties.

Ons kan studente nie voor­berei om leiers te wees deur hulle van die werklikhede te probeer afsonder nie. 

Ek sien vooroordele voortduur. 

Ek sien ou verdeeldheid weer opduik en nuwes ontstaan – onder meer weens die trant en aard van die gesprek oor die US op veral sosiale media.

Ek sien egter ook ’n nuwe generasie wat die noodwendigheid van verander

ing aanvaar en die noodsaak van voortdurende aanpassing omhels. Ek sien denkleierskap in aksie en dit gee my moed vir die toekoms.

  • Prof. Wim de Villiers is rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.