18 Augustus 10:52
Kaapstad Verander Area

Vrydag

17°C / 8°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Saterdag

19°C / 10°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Sondag

18°C / 11°C

Wind 25km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Maandag

15°C / 12°C

Wind 33km/h

Reënval 8mm

Humiditeit 81%

Dinsdag

12°C / 10°C

Wind 24km/h

Reënval 19mm

Humiditeit 69%

Woensdag

14°C / 10°C

Wind 25km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 76%

Politiek
Molefe as LP is 'geskenk vir opposisie'
Brian Molefe, uitvoerende hoof van Eskom.

Brian Molefe wat binnekort ’n ANC-LP word, is ’n “geskenk vir die opposisie” wat ook in ’n albatros om die nek van die ANC kan ontaard.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het Vrydagmiddag só gereageer nadat die parlement bevestig het dat Molefe binnekort as parlementslid ingelyf sal word.

Die aankondiging dat Molefe ’n vakante ANC-LP-pos van Noordwes sal vul, is Vrydag ook wyd as ’n teken beskou dat pres. Jacob Zuma heel waarskynlik binnekort sy kabinet gaan skommel.

Dít kom nadat die ANC-jeugliga op dieselfde dag Pravin Gordhan, minister van finansies, se kop geëis het.

Molefe, ’n Zuma-lojalis, het verlede jaar as uitvoerende hoof van Eskom bedank nadat hy deur adv. Thuli Madonsela, gewese openbare beskermer, in haar verslag oor staatskaping geïmpliseer is. Dié verslag het ook sy bande met die omstrede Gupta-familie blootgelê.

Gerugte doen reeds ’n geruime tyd die ronde dat Zuma sy kabinet gaan skommel om plek te maak vir sowel Molefe as vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, uitgetrede hoof van die Afrika-Unie. Die verwagting is dat Molefe vir Gordhan of dalk vir Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, kan vervang sodat die Zuma-faksie in die ANC ’n hand op die tesourie kan kry.

Steenhuisen het gesê Molefe is ’n “totaal onvanpaste” keuse as LP.

“Dit is ’n teken dat die ANC nie die stryd teen korrupsie en wanadministrasie ernstig opneem nie, deur iemand as LP te benoem wat so fundamenteel onvanpas is en wat steeds onder die massiewe wolk van die openbare beskermer se staatskapingsverslag leef, en nadat hy ook bedank het as hoof van Eskom.”

Dié aanstelling sal volgens Steenhuisen veroorsaak dat Molefe ’n albatros om die nek vir die ANC in die parlement word.

Cope beskou dié besluit deur die ANC as “niks anders nie” as ’n bevestiging dat ’n kabinetskommeling op hande is. “Dit is duidelik dat Zuma vir Molefe as minister van finansies wil aanstel. Die aanhoudende aanvalle deur die ANC-jeugliga en die ANC-vroueliga op Gordhan is ’n bewys dat die Zuma-faksie van hom ontslae wil raak en ’n lakei van die president in die kabinet wil aanstel,” sê Dennis Bloem, Cope-woordvoerder.

Bantu Holomisa, UDM-leier, het Molefe as LP verwelkom en die hoop uitgespreek dat sy ervaring besprekings in die parlement sal bevoordeel. “Diegene wat vroeër te kenne gegee het dat hy sou parlement toe kom, was reg. Ons wag nou om te sien of hy inderdaad vir Gordhan gaan vervang.”

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, het vrae oor die benoemingsproses na die ANC in Noordwes verwys. Hy wou hom nie uitlaat oor gerugte dat Molefe in die kabinet opgeneem sal word nie.

Theo Venter, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê dié stap is ’n duidelike teken dat Molefe op pad is na die kabinet.

“Zuma kan nie bekostig om van Pravin Gordhan as minister van finansies ontslae te raak nie. Hy sal heel waarskynlik vir Mcebisi Jonas na ’n mindere portefeulje skuif en vir Molefe in sy plek aanstel.

“Daarmee stel hy in effek ’n skoothondjie aan wat kan waghou oor Gordhan.

“Sy afdanking van Nhanhla Nene as minister van finansies in Desember 2015 het in Zuma se gesig ontplof en nou kom hy met ’n draai om te probeer om die oorhand oor die tesourie te kry.”

Op die vraag of Madonsela se verslag oor staatskaping nie ’n donker wolk oor Molefe se kop laat nie, het Venter gesê Zuma se modus operandi is om alle hofsake teen hom te vertraag.

“Hy sloer nou ook met sy hersieningsaansoek met Madonsela se verslag en teen die tyd dat dit in die hof sal beland, sal Zuma al baie naby aan die einde van sy termyn wees.

“As Zuma die flou makou is wat sommige meen hy is, gaan hy baie gevaarliker word as wat hy tans is. Die moontlike aanstelling van Molefe as adjunkminister van finansies sal nog ’n oorwinning vir die Zuma-faksie in die ANC beteken, wat tans alles in die stryd werp om volle beheer oor die tesourie te verkry,” sê Venter.

Die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het Vrydagaand aan Janet Heard gesê haar verwagting was dat niemand uit hul pos verwyder sou word, of na 'n hoër pos toe bevorder sou word totdat die kommissie van ondersoek sy bevindinge bekend gemaak het en hulle of vrygespreek het of die beskuldigings teen hulle bevestig het nie.

"Dit is jammer dat daar onbehoorlike vertraging is om so kommissie op die been te bring. Anders lyk ons respek vir etiek as 'n nasie, wat 'n grondwetlike noodsaaklikheid in terme van seksie 195 is, na 'n gemors.

"Dit is nog meer kommerwekkend dat verwarrende boodskappe uitgestuur word oor ons verbintenis tot etiese regering aan die jong generasie en die wêreld."

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.