Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
aanval in lansdowne
Prokureur blameer Pagad ná pypbom
‘Werk in hof dalk motief’
Werkers herstel gisteroggend die skade wat aan Noorudien Hassen se huis in Lansdowne aangerig is. ’n Motor wat ten tyde van die aanval voor die huis geparkeer was, is ook beskadig. Hassen het gister gesê hy tref nou bykomende maatreë

KAAPSTAD. – ’n Kaapse prokureur wie se huis verlede week met ’n pypbom aangeval is, wys die vinger na Pagad.

Noorudien Hassen het gister gesê Pagad ontken dat hy agter die aanval sit.

“Hulle ontken dit, maar hoekom het hulle verlede Saterdagoggend in ’n motorkonvooi verby my huis gery?” wou hy weet.

Die huis waarin Hassen saam met sy vrou, kinders, ma en broer woon, grens aan hul familie-onderneming, Hassen Brothers Superette, op die hoek van Roy-straat en Lansdowneweg.

Hassen het gesê hy was Woensdag omstreeks 23:30 nog besig in die winkel toe hy die slag gehoor het.

“Ek het onmiddellik huis toe gegaan. Ek het eers gedink dis iets in die huis wat ontplof het.” Hy het egter gesien die voordeur is beskadig.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Hassen het gesê hy weet nie of die motief vir die aanval is dat hy vermeende bendelede in die hof verteenwoordig nie.

“Almal het die reg op verteenwoordiging in ’n hof en dis wat ek doen,” het hy gesê.

Intussen het die Pagad-leier, Abdus-Salaam Ebrahim, gesê sy organisasie was nie vir die aanval verantwoordelik nie.

Hy het erken hulle het Saterdagoggend verby Hassen se huis gery.

“Ons het verby sy huis gery nadat hy Pagad en van sy lede Vrydag gedreig het.”

Gevra of hy die dreigemente gehoor het, het Ebrahim gesê dit is so aan hom oorgedra.

’n Provinsiale polisiewoordvoerder, lt.kol. Andrè Traut, het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.