Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nuus
Venus kan weer sien
Die jagluiperd Venus lê op die operasietafel in Kaapstad terwyl dr. Anthony Goodhead katarakte van haar oë verwyder. Foto:CANGO WILDLIFE RANCH
Die jagluiperd Venus verken haar kamp op die Cango Wild­life Ranch in Oudtshoorn kort ná haar operasie.

George. – ’n Jagluiperd van Oudtshoorn sterk goed aan nadat sy ’n operasie ondergaan het om haar van moontlike blindheid te red.

Die ses jaar oue Venus van die Cango Wildlife Ranch-wildbesigtigingsentrum in Oudtshoorn het verlede Woensdag ’n operasie in Kaapstad ondergaan om katarakte van haar oë te verwyder.

Tammy Moult, woordvoerder van die Ranch, het gesê ’n plaaslike veearts, dr. Glen Carlisle, het Venus verlede Dinsdagaand ondersoek en verdoof. Sy is in ’n krat gelaai en na die Cape Animal Eye-hospitaal in Kaapstad geneem.

Venus is vergesel van Carlisle, Garrett Eriksen, die dierebestuurder, en Craig Gouws, die kurator wat na die groot katte omsien.

By die groep se aankoms Woensdag in Kaapstad is Venus eers deeglik ondersoek. Sy is verdoof en dr. Anthony Goodhead het die katarakte verwyder. Venus is dieselfde dag terug Oudtshoorn toe.

Volgens Moult het die jagluiperd gou haar omgewing begin verken. “Dit was asof sy alles vir die eerste keer kon sien,” het sy gesê.

Venus sterk goed aan. “Ons mikpunt was om haar lewensgehalte te verbeter.”

Sy moes die operasie kry nadat die personeel agtergekom albei haar oë het agteruitgaan, het Mould gesê.

’n SMS- en Facebook-veldtog is vroeër begin om mense oor Venus in te lig. Die sentrum streef daarna om die genetiese samestelling van die jagluiperd te versterk en die spesie van uitsterwing te red.

• Inligting oor Venus is op Facebook by Cango Wildlife Ranch en by www.cangowildliferanch.co.za. – Jackie Kruger

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.