Skedel sê: 'Ons was nie alleen'
09 Mei 2017 10:00
Afrika se rykste fossielterrein het nog 'n vonds opgelewer. En die bene is “skitterend volledig”, berig Elsabé Brits.

Afrika se rykste fossielterrein het nog ’n versteekte grotkamer met 131 fossiele van Homo naledi opgelewer en die lang verwagte ouderdom van dié spesie is ook pas bekend gemaak.

Die Homo naledi-fossiele is tussen 335 000 en 236 000 jaar oud – jonk genoeg dat hulle saam met die vroeë moderne mense in Suid-Afrika op die grasvlaktes gewandel het. Die nuwe vonds het ook een van die volledigste skelette van ’n menslike voorsaat (hominied) ingesluit.

Dié aankondiging is Dinsdagoggend om 10:00 deur prof. Lee Berger, paleontoloog van die Instituut vir Menslike Evolusie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), by die Maropeng-besoekersentrum in die Wieg van die Mensdom gedoen. Altesame 52 wetenskaplikes aan 35 instansies het aan dié nuwe navorsing gewerk wat in die vaktydskrif eLife gepubliseer is.

Die ouderdom van die fossiele beteken dat moderne mense ontstaan het toe Homo naledi ook daar was. Ons was nie alleen in Afrika nie.

Die Rising Star-grotstelsel waar die fossiele gevind is, is nou die grootste enkele fossielterrein in Afrika met die meeste individue wat nog op een plek gevind is – minstens 18, het Berger Maandagmiddag op ’n mediakonferensie aan ’n klein groepie uitgesoekte media gesê.

Dit kom nadat hy die eerste aankondiging oor Homo naledi in September 2015 gedoen het. Toe is 1 500 fossiele in die Dinaledi-grotkamer in die Rising Star-grotstelsel in die Wieg van die Mensdom in Gauteng gevind.

’n Tweede grotkamer, genaamd Lesedi (wat “lig” beteken in Sotho), is 145 m verder gevind, met onder meer die fossiele van ’n volwasse man genaamd Neo (wat “geskenk” in Sotho beteken), ’n kind van jonger as vyf jaar en nog ’n volwassene.

Die bene is “skitterend volledig”, sê dr. Peter Schmid, wat honderde ure daaraan bestee het om die skedel weer aanmekaar te sit.

Prof. John Hawks, deel van die span, sê die fossiele is op dieselfde manier as dié in Dinaledi geplaas.

“Dit verleen gewig aan die hipotese dat hulle donker, afgeleë plekke gebruik het om hulle dooies te plaas.”

Die bene van albei kamers is byna identies.

Berger sê ook dat hulle hul dooies op ’n baie unieke manier daar gaan plaas het. Daar is geen bewyse van trauma, siekte, roofdiere of enige uitwissingsgebeurtenis nie.

Waar was die kern van menslike evolusie? Die enjin wat dit gedryf het?

“Hulle het iets baie besonders met hul dooies gedoen, op twee plekke”.

Selfs al was daar ’n ander ingang soos mense beweer, hoe op aarde het net die hominiede oor ’n baie lang tydperk toegang daartoe gehad? Geen dierfossiele is gevind nie, buiten klein diertjies wat later ingekom het.

Volgens die navorsers is die ouderdom verrassend jonk en ses onafhanklike tegnieke (met dubbelblinding) en 19 mense is gebruik om die datering te doen. Dit is moontlik dat Homo naledi vir baie lank – soveel as twee miljoen jaar – saam met ander spesies in Afrika oorleef het. Hawks het verduidelik omdat die spesie ’n mengsel van primitiewe en meer moderne kenmerke het, het hulle waarskynlik baie lank gelede al ontwikkel.

Die ouderdom van die fossiele in die Dinaledi-grotkamer beteken egter dat moderne mense ontstaan het toe Homo naledi ook daar was. Ons was nie alleen in Afrika nie.

Berger sê nog ’n vraag is: Wie het die klipgereedskap gemaak wat so wyd hier voorkom?

“Ons kan nie meer aanneem ons weet wie dit was nie – en indien daar een spesie was wat die wêreld met moderne mense gedeel het, was daar waarskynlik ander. Ons moet hulle net opspoor.”

Drie tande is toe gekies om regstreeks gedateer te word.

Hy sê daar is talle argeologiese terreine in Suid-Afrika wat uit dié tydperk kom, maar dit is nou nie seker wie die gereedskap gemaak het nie. Dit is baie moontlik dat Homo naledi dit kon gemaak het omdat die hand en gewrig – waarvan baie bene gevind is – daartoe in staat was.

“Dit is ’n baie opwindende tyd in argeologie,” sê hy.

“Waar was die kern van menslike evolusie? Die enjin wat dit gedryf het? Al hoe meer bewyse kom na vore dat dit suid van die ewenaar was,” sê hy.

Dr. Marina Elliott, paleontoloog aan Wits, sê die Lesedi-grotkamer was effens makliker om by uit te kom, maar daar was steeds ’n gat van 25 cm in deursnee om deur te wriemel. Daarna moet jy vertikaal in skagte afsak. Nie Hawks of Berger was nog ooit so ver nie omdat hulle te groot is. Berger het al probeer en vasgesit en moes met toue uitgetrek word.

Daar was al drie pogings om DNS uit tande te onttrek, maar dit was tot dusver onsuksesvol. Die span meen die tegnologie vorder vinnig en dit sal in die toekoms moontlik wees.

Berger sê opgrawings op die terrein is gestaak om dit vir die toekoms te bewaar, asook om toekomstige kenners ’n kans te gee om dit met beter tegnologie te doen.

Die fossiele sal tot 28 Mei in die Maropeng-besoekersentrum te sien wees.


Hoe is die ouderdom bepaal?

Die Dinaledi-grotkamer waar die meeste fossiele in 2013 gekry is, is volledig gekarteer (die stratigrafie van die neerslae en druipsteen).

Drie tande is toe gekies om regstreeks gedateer te word. Daar is onder meer radiokoolstof- en paleomagnetisme-datering vir agtergrond gedoen, volgens die navorsing in die vaktydskrif eLife.

Elektronspinresonansie (ESR) wat lae vlakke van natuurlike bestraling in die tande meet, is ook gedoen. Dit kan bepaal hoe lank dit onder die grond was.

Die span het verder uraan- en toriumanalise van die druipsteen in die grotkamer gedoen. Indien die druipsteen bo die fossiele lê, moet die fossiele ouer as die druipsteen wees. Die minimum ouderdom is toe op 236 000 jaar bepaal.

Nog ’n metode wat gereeld gebruik word, is opties gestimuleerde luminessensie (OSL) om klein kwartskorrels wat diep in die neerslae by die fossiele lê te toets om sodoende te bepaal hoe lank hulle in algehele donker was. Die resultate het ooreengestem met die ouderdom van tussen 335 000 en 236 000 jaar.

Die skedel genaamd Neo (“geskenk” in Sotho) is een van 131 fossiele van die spesie Homo naledi wat in ’n tweede grotkamer, genaamd Lesedi, in die Rising Star-grotselsel in die Wieg van die Mensdom ontdek is. Hy was ’n volwasse man en daar is nou bepaal die fossiele is tussen 335 000 en 236 000 jaar oud.Foto: Wits/John Hawks
Die nuwe Neo-skedel van die Lesedi-grotkamer (links) en die eerste skedel (regs) van Homo naledi wat vroeër in die Dinaledi-grotkamer ontdek is. Albei is in die Rising Star-grotstelsel in die Wieg van die Mensdom gekry. Dit is die rykste hominiedfossielterrein in Afrika. Foto: Wits/John Haws
Die volledige skelet van Neo, ’n volwasse man wat in die nuwe Lesedi-grotkamer van die Rising Star-grotstelsel in die Wieg van die Mensdom deur prof. Lee Berger en sy span aan die Universiteit van die Witwatersrand ontdek is. Dit is baie moontlik dat Homo naledi saam met die eerste Homo sapiens kon geleef het.Foto: Wits/John Hawks
Die eerste sowat 1 500 fossiele van Homo naledi wat in 2013 in die Rising Star-grotstelsel onder leiding van prof. Lee Berger van die Universiteit van die Witwatersrand gevind is. Dié aankondiging is in September 2015 gemaak. Nog 131 fossiele is in ’n tweede grotkamer gevind en dié aankondiging is Dinsdag gemaak. Die ouderdom van die fossiele is ook nou bepaal op 236 000 jaar tot 335 000 jaar.Foto: John Hawks/Wits
Dr. Marina Elliott binne-in die nou kronkels van die Rising Star-grotstelsel in die Wieg van die Mensdom, waar nog 131 fossiele van Homo naledi gevind is. Sy het weer gehelp om die fossiele uit te kry.Foto: Wits
Dr. Hannah Hilbert-Wolf bestudeer die druipsteen in nou ruimtes in die Dinaledi-grotkamer in die Rising Star-grotstelsel in die Wieg van die Mensdom.Foto: Wits
Prof. Lee Berger, paleontoloog van die Instituut vir Menslike Evolusie aan die Universiteit van die Witwatersrand en leier van die Rising Star-ekspedisie wat die Homo naledi-fossiele gevind het. Hy het al meer as een keer in dié grotstelsel se nou gange vasgesit. Foto: Wits/John Hawks
Dr. Christa Placzek berei monsters van Homo naledi voor vir datering aan die James Cook-Universiteit in Australië.Foto: Wits
Van die tande van Homo naledi wat vir die dateringsproses gebruik is. Die datum is uiteindelik op tussen 335 000 en 236 000 jaar gelede bepaal, wat beteken hulle kon saam met die eerste Homo sapiens geleef het.Foto: Paul Dirks et al/e-life
Dr. Marina Elliott en dr. Peter Schmid pak Maandagmiddag die fossiele van Homo naledi, wat Dinsdagoggend aan die wêreld bekend gestel sal word, sorgvuldig uit nadat dit van die Universiteit van die Witwatersrand se enorme kluis na Maropeng vervoer is.Foto: Felix Dlangamandla
Dr. Marina Elliott en dr. Peter Schmid pak Maandagmiddag sorgvuldig die fossiele van Homo naledi uit nadat dit van die Universiteit van die Witwatersrand se enorme kluis na Maropeng vervoer is. Dit word Dinsdagoggend aan die wêreld bekend gestel. Foto: Elsabé Brits


Die anatomie van Homo naledi

Hoewel hul brein klein was, was die skedelvorm baie modern en lyk dit baie soos dié van moderne mense.

Hulle was sowat 1,5 m lank en het tot 50 kg geweeg. Uniek aan die fossiele is dat hulle baie dieselfde lyk. Dit is moontlik dat hulle aan mekaar verwant was.

Die vorm van die hand is so dat hulle moontlik gereedskap kon gebruik het.

Die skouers, borskas en bekken is primitief. Die hande en voete is redelik modern. ’n Hand waarvan net een beentjie vermis is, is vroeër gevind.

Hulle sou lang afstande kon loop, wys die voetbene – en hulle sou ook nog ’n bietjie boom geklim het.

Altesaam 300 fossiele is op die Dinaledi-grotkamer se vloer opgetel en 1 200 is opgegrawe. In die Lesedi-grotkamer is 131 fossiele kry.

Die tande is nie primitief nie. Veral die maaltande lyk baie soos moderne mense s’n. (Bron: eLife 2015 en 2017)


Wat is voorheen al in Suid-Afrika gevind?

Suid-Afrika het van die rykste hominiedterreine ter wêreld.

In 1924 is die Taung-kind (Australopithecus africanus) deur dr. Raymond Dart in die hedendaagse Noordwes ontdek. Hy het gewys die hominied het regop geloop en die tande was moderner – die lang slagtande van ’n aap het ontbreek. Dit was die eerste bewys van ’n hominied uit Afrika.

Dr. Robert Broom was vasbeslote om te bewys Dart was reg. Hy het Mev. Ples in 1947 by Sterkfontein in die hedendaagse Wieg van die Mensdom ontdek. Broom het Mev. Ples aanvanklik Plesianthropus transvaalensis ­gedoop, maar by nadere ondersoek het hy gevind dit is ook ’n Au. africanus en haar toe geherklassifiseer.

Little Foot (Australopithecus prometheusis) is in 1997 in die Silberberg-grot by Sterkfontein deur prof. Ron Clark gevind. Dié fossiel is sowat 2,8 miljoen jaar oud. Prof. Phillip Tobias het ook van dié fossiele by Makapansgat in die hedendaagse Limpopo gekry.

Honderde ander Au. africanus-fossiele is oor die jare heen in die Wieg van die Mensdom in Gauteng gevind.

In 2008 het prof. Lee Berger ’n nuwe spesie in Maropeng in die Wieg ontdek. Australopithecus sediba wat 1,97 miljoen jaar oud is, het al meer as 1 000 fossiele opgelewer.

Grafika: Jaco Grobbelaar


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier