28 Julie 00:38
Kaapstad Verander Area

Vrydag

20°C / 12°C

Wind 27km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Saterdag

18°C / 13°C

Wind 24km/h

Reënval 1mm

Humiditeit 64%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

22°C / 15°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 49%

Dinsdag

16°C / 15°C

Wind 39km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 80%

Woensdag

15°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 5mm

Humiditeit 66%

Buite
Al ooit hiér kom rondstap?
Adel Abels is die bestuurder van die besoekersentrum by Heart of Abalone asook een van die gidse.

By Heart of Abalone in Hermanus se Nuwe Hawe moet die span van Abagold, een van die oudste en grootste perlemoenplase in Suid-Afrika, die hart van bykans 16 000 000 perlemoene wat in 45 000 mandjies woon, gelukkig hou.

Nie dat ’n perlemoen ’n hart het nie.

So lyk dit binne-in die tenks waar die perlemoen gekweek word

Leer meer van perlemoen

’n Perlemoen is ’n weekdier (ook gastropood genoem) of ’n buikvoetige seedier wat veral in die koue water van die Kaapse kus voorkom.

Perlemoene kom egter ook tot by Elandsbaai aan die Weskus en tot by Oos-Londen aan die Ooskus voor.

Die perlemoenspesie wat in Suid-Afrika voorkom, is Haliotis midae.

Die woord “perlemoen” is aan Nederlands ontleen – dit kom van die woord paarlemoer, wat “moeder van die pêrel” beteken en verwys na die pragtige kleure aan die binnekant van die skulp.

As jy gereeld koerant lees of nuus luister, sal jy bewus wees van al die perlemoensmokkelary, perlemoenbeslagleggings en perlemoensindikate. Maar dit is ’n ander storie.

Wit waterboetse staan in gelid en wag op besoekers aan die perlemoenplaas.

Ter see en op land

Heart of Abalone se perlemoenplaastoere word op Abagold se plase in Hermanus aangebied.

Daar leer jy meer van akwakultuur en hoe perlemoene in mandjies in seewater – maar nie in die see nie – gekweek word.

Die mandjies hang in rye en rye tenks op die perlemoenplaas.

Hier word elke maand sowat ’n miljoen babaperlemoene gekweek!

Die perlemoene word tot vyf jaar in mandjies in die water gehou voordat hulle 280 gram weeg. Teen 280 gram is hulle van “skemerkelkie-grootte”, ’n gewilde grootte vir die mark.

In hul natuurlike habitat in die oseaan stel perlemoenmannetjies in die lente (in September en Oktober) tussen 12 en 15 miljoen spermselle vry. Op hul beurt stel perlemoenwyfies dieselfde aantal eierselle in die see vry.

Perlemoene leef in kolonies – hulle kleef aan rotse vas – en dit verhoog die effektiwiteit van hul teling.

By Heart of Abalone aangekom, moet jy spierwit waterstewels aantrek voordat jy jou na die hart van die perlemoenplaas kan begewe.

Hierdie stewels verseker dat die higiëniese standaarde of bio-sekuriteit te alle tye gehandhaaf word.

Jy moet ook deur ’n poeletjie chloorwater loop om seker te maak dat geen kieme die terrein binnekom nie.

Tyd om perlemoen te proe

Ná die toer deur die perlemoenplaas word ’n opsionele perlemoenproe aangebied. Drie perlemoengereggies word voorgesit.

Eerste kan jy perlemoen-carpaccio van geblikte gaar perlemoen met ’n romerige vinai­grette en swartseewierkaviaar proe.

Daarna word die Peruaanse perlemoen-ceviche opgedis. Die perlemoen word in suurlemoensap gemarineer, wat dit ligweg gaarmaak, en daarna as slaai voorgesit saam met tamatie, komkommer, rooipeper, swartsesamsaadjies, rooiui, sprietuie, lemmetjiesap en dasji.

Dasji is ’n Japanse aftreksel of geurmiddel wat tradisioneel van water, gedroogde seewier en bonito-visvlokkies gemaak word.

'n Perlemoen(tjie) van hierdie grootte is so twee jaar oud.

Laastens word perlemoenpêrels (klein heel perlemoene) met ’n spesiale Asiese sousie (’n taaierige, geurige konkoksie van varkskenkels en eendpote) aangebied.

Stap van hawe tot hawe

Behalwe vir perlemoenplaas-toere is hier ook ’n begeleide staptog van die Ou Hawe langs Zwelihle na die Ou Hawe in Hermanus.

Almal wat stap ontmoet die gids by die kanonne by die Ou Hawe. Van hier is dit drie kilometer na die Nuwe Hawe.

Terwyl jy stap, leer ’n gids jou meer van die kuslyn en die mariene ekologie van Hermanus.

Dis egter maklik om sonder die begeleiding van ’n gids te stap. Dis onmoontlik om te verdwaal!

Die paadjie is netjies geplavei en daar is aanwysingsborde. Orals langs die rotsagtige kuslyn kyk jy oor Walkerbaai uit. Kyk mooi of jy Danger Point se vuurtoring in die verte kan raaksien as die dag nie te mistig is nie.

Van Junie-Julie tot November is jou kanse goed om walvisse te sien.

As jy gelukkig is, spring een dalk met ’n sierlike boog uit die water of spuit ’n fontein bo sy kop uit.

Op pad na die Nuwe Hawe stap jy verby Fick se Poel in Westcliff. Fick se Poel is ’n kleinerige getypoel tussen die rotse. Jy klim met ’n stel trappies af tot onder by die poel.

Dis ’n gewilde swemplek tydens laagwater vir kinders sowel as ’n goeie plek om die son te sien sak.

Laastens kan jy ook – as deel van die toer – ’n golfenergie-omskakelaar sien. Die demonstrasiemodel is tans onder konstruksie met die doel om hernubare energie langs die aktiewe kuslyn op te wek.

Hierdie model word nog nêrens op groot skaal of kommersieel gebruik nie.

Meer inligting

Perlemoenplaastoere word van Maandae tot Donderdae om 11:00 en om 15:00 asook Vrydae om 11:00 aangebied. Besprekings is noodsaaklik oor naweke of vir meer as vyf mense in ’n groep.

Hoe lank? 1 uur en 15 minute

Koste van ’n toer: R130

Perlemoenproe-koste: R170

Hawe-tot-hawe-stap: Van Maandae tot Vrydae om 09:00. Net per afspraak en met minstens vyf mense in ’n groep.

Tydsduur: 1 uur en 30 minute

Koste: R350

Bespreek by: 083 556 3428 |

www.heartofabalone.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.