30 Mei 11:19
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

22°C / 12°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Woensdag

18°C / 14°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Donderdag

18°C / 13°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Vrydag

22°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Saterdag

21°C / 16°C

Wind 41km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Sondag

17°C / 14°C

Wind 15km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 65%

Buite
Jip, jy kán met robbe swem!
Die robbe soek jou op, nie omdat hulle gevoer word of enigiemand hulle dwing nie, maar net omdat hulle uiters nuuskierige wilde geeste is, sê Steve Benjamin. Foto’s: Steve Benjamin

Wat is ’n rob? Doodgewoon en sonder ’n greintjie betowering, of ’n mistiese, grasieuse spesie saam met wie jy wil swem? Nadia Krige het saam met dié grootoë by Houtbaai gaan swem om uit te vind.

Lank, lank gelede het die Kelte geglo robbe is magiese wesens wat elke nou en dan hul dik pels afskud om in naakte mensvorm onder ’n soel somersmaan te dans en te baljaar – ene lang, wilde hare en blink oë.

Selkies, is hulle genoem. So mooi was hierdie wesens dat enige eenvoudige visserman of -vrou wat met hulle te doen kry, net daar en dan verlief op hulle sou word . . . en dan besete raak.

Die tragiese romanse van hierdie legendes het my nog altyd aangegryp, hoewel robbe se elegante rol nooit 100% geklop het nie. Of dalk, besluit ek toe, is die koddige klomp wat luilekker op ons Kaapse hawemure vergader, maar net ’n minder grasieuse spesie as dié van die Keltiese kuslyn en die Noordsee.

Grasieuse onderwaterdansers wat hulself as lomp landdiere vermom.
Digby Duikereiland by Houtbaai waar nie minder nie as 5 000 Kaapse pelsrobbe woon, kan marieneliefhebbers saam met die grootoë swem. Foto’s: Steve Benjamin

Eerste ontmoeting

Maar soos die noodlot wil hê, val ek toe ook eendag – heel onverwags – in die selkie se strik. Dit was tydens ’n snorkel-ekspedisie saam met Animal Ocean dat ek die metamorfose kon aanskou: ons gewone ou Kaapse pelsrobbe was toe al die tyd grasieuse onderwaterdansers wat hulself as lomp landdiere vermom.

Gepantser in verskeie lae neopreen, dik duikbril wat aan my wange en voorkop vassuig, en vinne wat ongemaklik lank my voete vervang, dryf ek gewigloos in die yskoue Atlantiese Oseaan iewers langs die kus van Houtbaai. Eintlik nie sommer iewers nie – in ’n vlakkerige sloep digby Duiker Eiland, waar nie minder nie as 5 000 Kaapse pelsrobbe woon.

Ver bo my hou Karbonkelberg wag en onder my begin ’n wonderwêreld ontvou. Die bamboeswoud wieg hipnoties en tussendeur duik, spin, dwarrel en draai lang gladde lywe – elkeen gesluier in ’n mantel van piepklein borrels wat soos pêrels glinster in die see-gesyferde lig.

“Kan iemand dalk vir my sê waar die tandarts is?” Die robbe by Duikereiland swem tot byna teen jou.

Flitslig-oë

Hulle gewaar die halfbekende vorms wat soos wolke bo hulle hang en kom nuuskierig nader om met ronde flitslig-oë deur dik plastiek duikbrille te tuur. Hier en daar kou ’n kleintjie aan ’n vin, terwyl die ouer garde ons betrek in speletjies waarvan slegs hulle die reëls ken.

’n Driekwartier glip verby en net voor die koue te diep begin knaag, word ons teruggeroep na die werklikheid. Op die boot wag ’n groot kan warm water – waarvan ’n bietjie in elkeen se pak gestort word om die ledemate weer aan die lewe te kry – ’n fles sjokolademelk en ’n groot bak koekies.

Reeds op die terugtog hawe toe begin my onderbewussyn die ondervinding iewers in die droomlaai liasseer en maande later wonder ek steeds of dit werklik gebeur het.

Ons Kaapse pelsrobbe is grasieuse onderwaterdansers wat hulself as lomp landdiere vermom.

Animal Ocean

Wat hierdie ervaring dalk so betowerend maak, is die natuurlike intimiteit daarvan.

Steve Benjamin, stigter van Animal Ocean, stel dit só: “My gunstelingdeel van snorkel saam met robbe is die feit dat jy vir daardie tydjie in ongerepte wildernis is. Die diere soek jou op, nie omdat hulle gevoer word of enigiemand hulle dwing nie, maar net omdat hulle uiters nuuskierige wilde geeste is.”

Met ’n akademiese agtergrond in biologie, toergids-ervaring en ’n voorliefde vir die see, het Steve Animal Ocean in 2009 begin om die onderwaterwonders van die Kaapse oseane met toeriste te deel.

Maart is veral spesiaal omdat dit die tyd is wanneer die babarobbe begin swem en vir kostelike vermaak sorg.

Hoewel hulle aanvanklik ’n wye verskeidenheid avonture aangebied het – ook duik saam met blou- en sewekiefhaaie – het hy mettertyd besef dat die voorspelbaarheid van die robbe se bewegings dit ’n toeganklike én prettige ondervinding vir oud en jonk maak. Dus het hulle daarop begin konsentreer.

Soos met enige buitelug-aktiwiteit in die Kaap, maak die weer partykeer amok en moet hulle af en toe uitstappies kanselleer (jy kry darem jou geld terug in dié gevalle).

Die hele ervaring – bootritte ingesluit – neem gewoonlik nie langer as drie uur nie, met die snorkel wat tussen 45 minute en ’n uur duur (afhangende van hoe koulik jy is).

Volgens Steve is die beste tye van die jaar om dit te doen tussen Oktober en November en tussen Februarie en April.

Besoek http://www.animalocean.co.za/ vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.