27 Maart 00:48
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 35km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Woensdag

23°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

19°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 72%

Buite
Oos, wes, Victoria bes
Dirk Ras van die Rietpoort Herberg in Victoria-Wes speel die “Boesman-klavier”. Foto’s: JACQUES MARAIS

Die inwoners hier sê ’n mens huil minstens twee keer in Victoria-Wes: die eerste keer wanneer jy daar aankom en dan wanneer jy jou tasse moet pak.

Ja, ja, ek weet dié storie doen die ronde oor baie plekke in ons mooi land, maar hierdie keer wil ek diep in my boerehart glo dat dit waar is.

Dié deel van die Bo-Karoo lê blerrie ver, maak nie saak van waar jy ry nie. Beaufort-Wes is die naaste groot sentrum – die Vic-Wessers noem dit die “Sodom en Gomorra” – en dis ’n goeie stoot deur die wye vlaktes wanneer jy al met die N12 noordwaarts suiker.

Wanneer jy die Pramberge rondborstig op die gesigseinder sien pronk, weet jy jy is amper in dié dorp, wat in 1843 gestig is. Die NG Kerk het naamlik ’n deel van die plaas Zeekoegat gekoop en in erwe verdeel en na die destydse Britse koningin genoem.

Een van die pragtige petrogliewe wat die Boesmans eeue gelede op Rietpoort se rotse gemaak het.

Die “Wes” is bygevoeg omdat later ’n dorpie met dieselfde naam in die Oos-Kaap tot stand gekom het.

Daar is seker goed ’n dosyn dinge wat ek kan skryf oor hierdie dorpie, waarvan min buitestanders weet. Neem nou maar die Apollo: Dit is heel moontlik die beste voorbeeld van ’n art deco-teater in die land.

Die streek is ook een van die min plekke waar jy petrogliewe (oftewel Boesman-rotsgravures) te siene kan kry.

Dan is daar die derduisende rooivalkies wat jaarliks hier opdaag om op die vlaktes te jag; en die feit dat Mannetjies Roux een van Victoria-Wes se bekendste seuns is. So kan ’n mens aangaan. Vir meer inligting besoek www.openafrica.org

Die dak van die deli-en-restaurant Karoo Jaart kry ’n nuwe laag verf.

Dinge om hier te doen

By dorpies is plaaslike kennis koning, want hoe anders sal ’n mens ooit al die Karoo se karakters opspoor?

Ek was dus gelukkig om hier in die hooglande ’n “fiekser” soos André Bester te kon kry. En hoe lekker is dit nie wanneer ’n vae Facebook-konneksie ’n paar dae later in ’n bladskud-broer ontwikkel nie?

In elk geval, André het hier grootgeword en ken die omgewing soos die palm van sy hand. Hy was dus nét die man om my al Vic-Wes se wegsteekplekkies te wys.

Ons bestemming eerste op die lysie was al met die Richmond-pad langs tot by die Rietpoort Herberg, waar ons by ’n ou maat van hom, Dirk Ras, gaan inloer het.

  • Meer inligting: 053 004 0150 | www.rietpoortguesthouse.co.za
Dirk Ras en André Bester by die “spinnekop”-viertrekvoertuig wat eersgenoemde self gebou het.

Dirk het ons in sy 4x4-spinnekop gelaai. Dis ’n veldvoertuig wat hy op eie houtjie omgebou het. Daarmee het ons die dolerietkoppies ingevaar. Die heuwels hier is vol petrogliewe, veral naby die permanente fontein op Rietpoort, wat uit die Steentydperk dateer.

Selfs interessanter was die Boesmanklavier. Dis glo volgens antropoloë wat hier kom kuier het, ’n seldsame verskynsel. Op die kruin van die koppie wys Dirk ons ’n rotsstapel wat doodgewoon lyk; maar wanneer jy ’n klip vat en daarteen begin kap, speel jy vyf klokhelder note wat oor die landskap eggo.

’n Fynproewersburger word in die Karoo Jaart berei.

Die hoë silika-inhoud en unieke struktuur van hierdie vulkaniese riolietrotse het die Boesmans toegelaat om op hul seremonies musiek te maak. En soos André sê: Dink nou net as jy Mike Oldfield van Tubular Bells-faam kon kry om die klipklavier te kom speel!

Dis maar een van Victoria-Wes se vele avonture.

Met die eerste lig die volgende oggend het ons begin trap tot bo-op die dorp se berg, van waar jy tot in ewigheid oor die Bo-Karoo se vlaktes kan sien.

En dan is daar die dorpsdam, wat ná die ­reëns goed volgeloop het en meer as genoeg water het vir ’n 2 km-swem terwyl die son in die weste sak.

Meer inligting

Hoe om daar te kom

Ry op die N1 van Kaapstad tot omtrent 73 km anderkant Beaufort-Wes – kyk uit vir die N12. Daarna is dit sowat 59 km tot in Victoria-Wes. Jy sal altesame sowat ses tot sewe uur op die pad wees.

Waar om te bly

Nou ja, ’n kuier in ’n Karoodorp is onvolledig sonder ’n geginnegaap oor ’n paar koue biere en ’n glasie of twee rooiwyn nie.

Ons het in die puik Merino Junction Hotel tuisgegaan. Dit was die oorspronklike hotel in die hoofstraat, maar is onlangs in ’n meer byderwetse verblyfplek omskep. ’n Mens het ’n keuse van kamers, en daar is ’n à la carte-restaurant (nogal met ’n Kokkedoor-sjef), ’n gelisensieerde kroeg met ’n hip merino-tema, ’n boetiekwinkel wat wol verkoop, ’n speelruimte vir kinders, ’n instap-wyn­boe­tiek en ’n biblioteek. Onverbeterlik!

  • Meer inligting: Gaan kyk op Facebook na Merino Junction | 082 613 6381

Waar om te eet

Net langsaan is die Karoo Deli, waar puik koffie en ligte maaltye voorgesit word. Hier is rakke vol tuisgemaakte konfyt, ingelegde vrugte, beskuit, soetgebak, biltong en droëwors wat jou mond laat water.

  • Meer inligting: www.­facebook.­com/­thekaroodeli | 053 621 0453

’n Bietjie verder op die Drie Susters-pad is die Karoo Jaart, ’n pragtige koffiekroeg/restaurant wat spesialiseer in fynproewersburgers, antieke Karooskatte en ’n reeks tuisgemaakte produkte wat plaaslik vervaardig word.

  • Meer inligting:www.­facebook.­com/­karooyard | 082 464 2690

En uiteindelik, bo-op die bult, wag die Moonlight Manor Gastehuis op jou. Oor dié bekoorlike ou Victoriaanse huis kan ek nie uitgepraat raak nie. Moderne toevoegings soos lugversorging, DStv, elektroniese kluise en gratis Wi-Fi is standaard, en heelparty puik staproetes begin hier.

  • Meer inligting: www.­moonlightmanor.­co.­za | 053 621 0055

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    NETWERK24 Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.