27 Julie 00:41
Kaapstad Verander Area

Donderdag

17°C / 8°C

Wind 15km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 55%

Vrydag

20°C / 13°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Saterdag

18°C / 13°C

Wind 23km/h

Reënval 1mm

Humiditeit 64%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

21°C / 13°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Dinsdag

16°C / 14°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Buite
Struisbaai se liefling: Pylstert verwerf roem ná 'ontvoering'
Ernest Lonsdale (54) van Struisbaai in die vlak water in die hawe slaan op die water om Parrie – die bekende pylstert wat glo hier in die hawe bly – te lok. Foto’s: Nadia Krige

Parrie, die pylstert wat ’n Kaapse draai in die Twee Oseane-akwarium gaan maak het en toe op ’n tegniese punt weer in haar tuiswaters by Struisbaai vrygelaat is, is hierdie stranddorpie se trots en lok talle nuuskieriges en natuurliefhebbers wanneer sy in die vlak water kom swem, skryf Nadia Krige. 

Dit is ’n Saterdagoggend op Struisbaai en slegs die effense byt in die lug bevestig dat die herfs einde se kant toe staan.

Ons staan op die punt van die kaai en staar stip na die water, op soek na Parrie, ’n bekende pylstert wat glo hier in die hawe bly.

Die son skyn helder glinsterend op die deurskynende blou water, en vissersbote dobber rustig benede die seemeeue se gekrys.

In die vlak water sien ’n mens klein sandriwwe wat deur die golfies se ligte gekabbel gevorm is. Dit is prentjiemooi, maar waar is Parrie?

Ons oë gly weer na die hawebodem. Niks nie.

Dan sal ons maar net langer wag en langer uitkyk, want ons móét Parrie – die verpersoonliking van wat moontlik is wanneer mense regtig saamstaan – sien!

Hier kom ek, Parrie!
'n Duiker leer Parrie van naderby ken.
Parrie en 'n jong bewonderaar.

Parrie se ‘ontvoering’

Parrie het roem verwerf toe ’n span van die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad in 2003 Struisbaai toe gekom het om een van die plaaslike pylsterte vir die roofvistenk te vang en hulle die grootste pylstert van die klomp – dit was Parrie – gevang en Kaapstad toe geneem het.

Struisbaai se mense was siedend, want Parrie, het hulle gesê, is húl geliefde pylstert, die grote wat al 20 jaar by hulle in die hawe kom kuier.

Parrie was toe nog naamloos, maar terwyl die stryd verskerp het om hul geliefde pylstert terug op Struisbaai te kry, het die naam Parrie opgeduik en vasgesteek.

Parrie, het die Struisbaaiers voet by stuk gehou, is ontvoer, al het die akwarium toestemming gehad om ’n pylstert te vang.

Naderhand is inspekteurs van mariene en kusbestuur by die stryd betrek. Hulle het ondersoek ingestel, en dit het aan die lig gekom dat Parrie met ’n net gevang is. Die gebruik van ’n net in die hawe is nie heeltemal wettig nie, en danksy hierdie tegniese punt is beslis dat Parrie na Struisbaai – die see waar hy/sy hoort – moet terugkeer.

Die pylstert-fluisteraar

As Shadow wat saam met sy honde-pa Ernest Lonsdale in Struisbaai kom aftree het, kon praat, sou hy jou ook van Parrie kon vertel.

Met dié stukkie geskiedenis in ag genome kan enige natuurliefhebber seker verstaan waarom ons daar in Struisbaai se hawe gestaan en kyk en kyk en soek en soek het totdat ons Parrie gesien het.

Ons sien die man wat rustig op die kaai sit en sy voete heen en weer bo die water swaai. Ons dink dit maak ’n mooi prentjie, maar slaan nie verder ag op hom nie, want ons is daar om Parrie te sien. Ons wil ook saampraat oor dié beroemde pylstert.

Skielik skreeu fietsremme agter ons. “Is hy al hier, Oom?” vra die seuntjie, uitasem getrap.

“Hmm, daar kom nou een aan,” antwoord die man. “Sien jy daardie donker kol? Hou hom maar dop.”

Aha! Ook húlle soek Parrie!

“Praat julle van Parrie?” vra ek geesdriftig.

Die man haal nie sy oë van die water nie.

“Ek het nog nie Parrie vandag gesien nie, maar die een wat nou hier aankom, het ek sommer Petite gedoop.”

Sowat nege pylsterte besoek die hawe gereeld, veral wanneer die vissersbote laatmiddag of vroegoggend van die diepsee terugkeer, hoor ek.

Die pylsterte herken die gedreun van die enjins en assosieer dit met die voedsame bloedwater wat ná ’n vangs uit die bote gepomp word.

Ons begin gesels. Hy is Ernest Lonsdale (54), sê die man. “En die hondjie wat daar anderkant op die strand staan en blaf, is Shadow.”

Shadow is ’n dachshund-spanjoel-kruising, gesels Ernest verder. “Ná sewe jaar se op en af ry al langs die kuslyn van Alexanderbaai in die weste tot by Richardsbaai in die ooste het ek so anderhalf jaar gelede besluit ek en Shadow sal hier op Struisbaai kom aftree.”

Ernest hervul motors se lugverkoelingstelsels en herstel windskerms by sy woonwa, wat digby die hawe staan. Werk is maar skaars buite die seisoen, sê hy.

“Maar dit maak nie saak nie. Ek kom sit hier op die kaai en wag vir die pylsterte. Hulle ken my al goed, en ek voer hulle elke dag.”

Vandat hy onlangs in ’n program op Discovery Channel verskyn het, herken mense van heinde en ver hom as die pylstert-fluisteraar, vertel Ernest.

“Wag, laat ek jou wys!” sê hy en spring in die water.

Wraggies, ’n ronde donker skadu onder die water kom aangesweef. Ernest klap op die water en die vis kom nog nader. Dit bly ’n oomblik hang en draai dan weer weg.

“Ai, dis jammer ons het nou nie vis om hulle te voer nie,” sê hy.

Die swanger ‘vrou’

Teen dié tyd is die kaai propvol mense, almal op die uitkyk vir Parrie.

Intussen verneem ek by Ernest dat die legendariese pylstert inderdaad ’n wyfie en boonop dragtig is.

Nou is my oë éérs op die op water vasgenael. Pylsterte kom en gaan, maar nie een blyk Parrie te wees nie.

“Jy kan sommer sien, sy is baie groter as die res. Kyk daardie swelling daar langs haar stert. Dis waar haar babas nou soos pannekoeke opgerol is.”

Eindelik kom ’n tamaai skaduwee onder die wateroppervlak aangesweef. “Daar kom sy!” roep Ernest opgewonde uit. “Jy kan sommer sien, sy is baie groter as die res. Kyk daardie swelling daar langs haar stert. Dis waar haar babas nou soos pannekoeke opgerol is.”

Parrie het almal op die kaai in vervoering. Kameras klik en kinders spring op en af.

’n Vissersboot kom in en Ernest kry ’n paar halfbevrore sardyne in die hande. Hy breek die vissies in stukkies en strooi dit op die see. ’n Tenger blonde meisie kom aangehardloop en vra: “Oom, kan ek ook vir Parrie voer?”

Sy bly om hom zoem. Naderhand merk Ernest ernstig op: “Ja, as ek eendag weg is, gaan hulle my werk moet oorneem.” Hy kyk na die meisie. “Ek moet hulle dus mooi leer.”

Net voordat ons gaan, sien ek die pylstert aangeswem kom na waar Ernest, sardyn in die hand, staan en wag. Die meisie se moed begewe haar en sy mik vir die strand. Net toe sy op ’n veilige afstand is, draai sy om en kyk aandagtig.

Eendag sal sy ook die pylsterte voer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.