Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Buite
Stilbaai se skaapwagter

Eendag, op pad na Stilbaai digby die R305 wat van die N2 af koers kies see toe, trek ’n langnek-“skaap”, bruin van kleur’, tussen die gewone kortbeen-wattebolle ons aandag.

Ons het dadelik saamgestem: ’n Alpakka moet dit wees. En ons doop hom toe Pablo, vanweë sy Suid-Amerikaanse herkoms en ter ere van die Chileense digter Pablo Neruda.

Die ontmoeting

Omtrent ’n jaar se verbyry by dieselfde plek het verbygegaan sonder ’n enkele teken van hom; maar uiteindelik kry ons toe die kans om Pablo in lewende lywe op sy tuisgrond op die plaas Klein Soebattersvlakte te ontmoet.

Ons is amptelik voorgestel deur Rianda Rabbets, Pablo se hanteerder wat toe ook doodluiters die nuus oordra dat Pablo nie Pablo heet nie, maar Austin. Huella Austin Powers, om presies te wees.

Die Desemberson is ongenadig en op ’n kol gaan lê hy sommer plat soos ’n pannekoek op sy sy tussen die graspolle terwyl sy skaapkudde onder ’n melkhoutboom skaduwee opsoek. Iewers blêr ’n ontevrede lam, en Austin lig sy kop en brom ’n sagte sus- “woord”.

Rianda vertel dat hoewel hy mense nie juis as ’n bedreiging beskou nie, hy nie by hulle sal aandag soek nie.

“Ons het besluit om hom van die begin af so wild moontlik te hou. Hy is immers hier om skape op te pas en nie om ’n troeteldier te wees nie.”

Soos die skape word hy van tyd tot tyd vir bosluise en ander parasiete behandel. Hy eet wat hulle eet en word saam met hulle geskeer as dit skeertyd is.

Alpakkas as kuddebestuurders

Hoewel dit in Suid-Afrika (veral in die Klein-Karoo) al hoe meer aftrek geniet, laat die konsep van hierdie oënskynlik onskadelike diere as kudde-oppassers steeds baie boere kopkrap.

“Dit was ná baie debatte, artikels en navorsing dat ons uiteindelik besluit het om ’n alpakka aan te koop toe ons lamseisoene al hoe meer drasties beïnvloed is deur die teenwoordigheid van rooijakkalse,” vertel Rianda.

Hulle het Austin op Wellington gekry nadat sy oorspronklike eienaar groot skade gely het deurdat ’n luiperd byna haar trop alpakkas uitgeroei het. Hy was een van die min oorlewendes en het toe nog nie skape opgepas nie.

“Ná slegs ’n week het ek met groot verbasing gesien hoe Austin na die kraal aangestap kom met die ooie en lammers soos getroue volgelinge agterna.”

Binne ’n paar maande het Austin ook sy vernuf met die afweer van roofdiere bewys toe Rianda-hulle somme maak en sien dat lamverliese aan roofdiere verlede jaar minimaal was in vergelyking met dié van ander boere.

‘Kroek’-bollie

Hoewel sy nie heeltemal seker is hoe Austin te werk gaan nie, vermoed sy dat dit soortgelyk is aan die manier waarop[ hy optree wanneer haar skaaphond naby is: Wanneer Austin hom gewaar, sal hy intimiderend naderstap en die hond agternasit as hy weghardloop. Hy toon egter geen neiging om die hond te lyf te gaan nie.

Verder glo Rianda Austin se gewoonte om sy trop se kamp af te baken deur die vier hoeke as sy ‘‘toilette’’ te gebruik, speel ’n rol. “Omdat hy elke keer dieselfde plekke gebruik, vermoed ek dat die jakkalse die groot hope mis vir ’n groter roofdier– dalk ’n leeu of ’n luiperd s’n – aansien.”

Nasionale Alpakkadag

Alpakkas behoort tot die kameelfamilie en is oorspronklik in die hoogliggende plato’s van die Andesgebergte in Suid-Amerika aangetref, waar hulle as makgemaakte diere aangehou en geteel is vir die uitsonderlike gehalte van hul wol.

In die laaste paar dekades het die teel van alpakkas gier-status bereik en word hulle tot in die uithoeke van die wêreld aangetref, en al hoe meer in Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikaanse Alpakkatelersvereniging (SAABS) bied ondersteuning aan telers en doen reklame om mense aan alpakkas voor te stel. Trouens, op 30 April vier die organisasie Nasionale Alpakkadag en word plase regoor die land vir besoekers oopgestel.

 Op die SAABS-webtuiste by http://www.alpacasociety.co.za/ is meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.