Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Buite
Glamping
Vryheid = ’n huis op wiele
Die VW T3 Comfort Campervanin Tietiesbaai.
Die VW T3 Comfort Campervan by die plaaskamp in Nieuwoudtville. Foto: Verskaf
VW T3 Comfort Campervan in Namakwaland.
Die VW T3 Comfort Campervan.
Die VW T5 Africana Campervan.
Die VW T5 Africana Campervan in die Kogelbaai-kampeerplek.

"Ek het van die kampeer-ding gehou, maar daardie elke aand en oggend se kamp op- en afslaan het my ondergekry. Ons het elke derde aand in ’n selfsorgeenheid ingeboek, net sodat ek weer tot verhaal kon kom,” vertel ’n vriend van sy eerste gesinskampeer-ervaring.

Maar wat as jy die twee kon kombineer?

Jy kampeer elke dag op ’n ander plek sonder die tentpenne of die opblaasmatras? Jy parkeer net iewers in die wye natuur, steek ’n vuurtjie aan en gaan slaap later op ’n sagte bed?

Hallo, kampeerbussie, die hoofbestanddeel van glamping (kort vir glamorous camping). Koebaai tentpenne en grondseile.

My eerste ervaring van ’n kampeerbussie (ook genoem ’n kampeerwa of ’n ryhuis) was ’n paar jaar gelede op ’n rietskraal begroting in Australië. Motorhuur én verblyf was net te duur.

Iemand vertel my toe hulle het ’n kampeerbussie gehuur en dit vreeslik geniet. Ek het ’n engelekoor hoor sing – die perfekte oplossing!

Nou nog onthou ek dit as een van my lekkerste kampeervakansies. Ons het die kus platgery, en daar waar ons moeg of dors geraak het, het ons die minibus geparkeer, die stoele opgeslaan en die yskas oopgemaak vir ’n koue. Sela.

Op Nieu-Seeland se smal paadjies was ek ons minibussie baie dankbaar toe ek sien hoe die ouens met die groot ryhuise om die nou kronkels sukkel.

Ons het twee sitplekke voor gehad, en in die agterste deel was ’n bed, ’n kombuisie en baie pakplek vir die kampeertafels en -stoele.

Daar was selfs ’n afdakkie wat ons vir die son en weer kon afslaan. Op die Suideiland van Nieu-Seeland was ek dankbaar om uit die reën en wind in my snoesige bed in te kruip sonder om bang te wees ek gaan in ’n plas water wakker word.

Ook ‘local’ raak dit lekker

Ook in Suid-Afrika word kampeerbussies al hoe gewilder. ’n Mens sien gewoonlik die toeriste wat toer met die groot ryhuise waarin jy jou fietse, toilet én skoonma kan in pas. Die kleiner kampeerbussies merk ’n mens moeiliker op, omdat dit soos gewone minibusse lyk.

Hannes en Greta se gunsteling-kampplekke

Wes-Kaap

  • Tietiesbaai: Wild en wonderlik, ver uit die stad, na aan die see.
  • Kogelbaai: Gedurende die week en buite seisoen, na aan die Kaap. Ongelooflike uitsigte op die berg en see.
  • Leeuwenboschfontein: Binneland, afgeleë en veilig. Mense wat vir die eerste keer kampeer.
  • Citrusdal: Warmwaterbronne– perfek in die winter.
  • Buffelsbaai: Wonderlike ligging, eindelose strand en na aan die gewilde Knysna en sonder die stres.
  • Karoo Nasionale Park: Tussen die doringbome, perfek vir sterrekyk langs die N1. Kamp met kinders.
  • Beaverlac: Groot kamp. Jy kan nog ’n stil hoekie kry al is dit gewild. ’n Hele rivier vol poele om te ontdek.
  • Palmiet: Grasstaanplekke, strandmeer vir die kinders, see en berg.
  • Vensterklip naby Elandsbaai: Elke kamp het sy eie ablusies, baie goed ontwerp, swembad en lekker restaurant.

Die geheim:

  • Calitzdorp-stasie (http://­www.­calitzdorp.­co.za/­calitzdorpstation.­htm): Steeds relatief onbekend, maar al ons klante is gek oor die plek.

Elders

  • Addo-olifant Nasionale Park: Dié kamp stel ons nooit teleur nie. Skoon en privaat, en baie diere.
  • Keurboomsstrand-kamp agter Enrico’s: Dit voel asof jy in die bos is, maar jy is net langs die strand. Lekker vir die somer onder die melkhoutbome.
  • Stormsrivier, Tsitsikamma: Dis reg langs die brekende branders.

Ek het Lekker Camper, ’n plaaslike maatskappy wat VW-kampeerbussies bou en verhuur, opgespoor. Hannes van Tonder en Greta Wermig het die wêreld platgetoer, en baie keer ook in ’n ryhuis. Toe hulle net mooi genoeg gehad het van Londen se weer en die saai kantoorlewe, het hulle hul eie ryhuisonderneming hier te begin.

“Die locals hou van ons kampeerbussies vir ’n alternatiewe vakansie of wittebrood vir ’n lekker en nuwe manier van toer. Oupa en Ouma kontak ons ook gereeld as hulle ’n ryhuis soek vir die kinders wat uit die buiteland kom kuier,” vertel Hannes.

Voordele

“Met ’n kampeerbussie kom ’n mens van die hoofpaaie af en het jy algehele vryheid om enige tyd na enige plek af te draai – sonder om vooruit te bespreek en sonder om op te pak,” verduidelik Greta.

 “Jy kan ook maar net goeie koffie, jou flipflops, tjoppies en goeie geselskap bring, want die bussie is ten volle toegerus en het ’n kombuisie. Jy kan maklik by ’n watergat stop en wild kyk terwyl jy ’n koffietjie maak.

 “Die bussies is kleiner as die groot ryhuise en pas in ’n gewone parkeerplek en kan by parkeerarkades in. Jy het ook nie ’n spesiale rybewys nodig om dit te bestuur nie. Dit bestuur makliker in die wind en verbruik minder petrol as groot ryhuise,” vertel Greta. “Een van my gunsteling-toebehore in die nuwe bussies is die sonpanele. Dit beteken jy kan enige plek kampeer sonder om van ’n kragpunt afhanklik te wees.”

Dit klink lekker – koue bier in die middel van nêrens. Onverbeterlik.

Die hippie-bussies

Waaroor ou Volkswagen-liefhebbers mal is, is die ouer model Volkswagen-hippiebussies wat ook deel van die Lekker Camper-vloot is.

 “Los die elektroniese toestelle tuis,” gee Greta raad. “Die lewe is kort en die wêreld is mooi. Partykeer moet ons net die politiek los, die pad vat, ’n bietjie rondom ons kyk en die natuurlike skoonheid van ons land geniet en ons passie uitleef.”

  • Vir meer inligting besoek www.lekkercamper.co.za of www.facebook.com/lekkercamper of stuur e-pos na info@lekkercamper.co.za

 

Meer oor:  Kamp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.