29 Maart 22:59
Kaapstad Verander Area

Donderdag

22°C / 17°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Vrydag

18°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 14°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Sondag

20°C / 15°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Maandag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Buite
Wally, vir jóú slaan ek klim-voet!
Die soeke na Wally se Grot het begin.

Nadia Krige het met Wally op Facebook en Instagram kennis gemaak en toe besluit om voet te slaan na dié crinkle cut-grot op Leeukop. 

Op ’n Woensdagmiddag in Februarie, so skuins ná vieruur, klim ons Leeukop (tussen Tafelberg en Vlaeberg in Kaapstad) met een doel voor oë: om Wally te vind.

Onwerklike foto’s van Leeukop se fantasiewêreld van spelonke in die sosiale media het die saadjie geplant.

Wally se Grot het hard op my radar geflikker: ’n donker crinkle cut-raam waardeur Tafelberg oor sy skouer loer. En foto’s op Instagram waar inkswart mense se silhoeëtte teen die lig en die groen agtergrond poseer.

Vir my gaan grot-avonture gepaard met vasklou aan toue en afglip teen kranse. Tog lyk die skadubeelde van klimmers en stappers op die foto’s nie oormatig toegerus nie. Dan kan dit tog nie te moeilik wees om daar uit te kom nie . . .


’n Wolkkombers wat oor die Gewelberge inrol en Kampsbaai se blou herinner dat Leeukop se hoofroete steeds mooi is. Foto’s: Nadia Krige

Maar hoe? En waar?

’n Paar dae later maak Wally weer ’n verskyning – hierdie keer as ’n inskrywing in my Facebook-nuusvoer. Ek klik deur na www.lifeofmike.co.za (die blog waar die plaaslike fotograaf Mike Eloff sy avonture in teks en foto’s deel) en vind presies wat ek soek: “Where’s Wally – How to find Wally’s Cave on Lion’s Head.”

Ek maak ’n paar aantekeninge van Mike se riglyne en stuur e-pos om te hoor of daar iets is wat hy nie verklap nie. Waar kom die toue en carabiners dan in?

“Nee!” sê hy. “Wally se Grot is so chilled. Dis baie maklik om daar uit te kom, selfs vir beginners. Volg net die aanwysings en jy sal oukei wees.”

’n Sitplek om nié van te droom nie, maar wel ’n uiters belangrike teken dat jy nog op die regte koers na Wally se Grot is.

Ons soektog

En só bevind ons ons op daardie Woensdagmiddag op die berg. Dit wemel van mense. Met die aandurf van die eerste steilte hoor ek hier en daar gespreksgrepies tussen medestappers, maar verstaan bitter min daarvan. Dis ’n gekwetter van wêreldtale op Kaapstad se eie Toring van Babel.

Daar is nou eenmaal iets aan hierdie ronde piek wat mense bekoor – dié wat in sy skadu woon en werk, sowel as dié wat hom met die eerste oogopslag vanuit ’n vliegtuig aanskou. Die feit dat toegang gratis is, dit net ’n gerieflike 10 minute per motor uit die middestad geleë is en mense van alle fiksheidsvlakke die hange kan aanpak, dra baie tot dié gewildheid by.

Wally se Grot

Met ’n pienk aantekeningboekie waarin Mike se aanwysings puntsgewys neergekrabbel staan, pak ons die steilte.

Kort-kort sien niggie Tanee ’n rots-inham en vra dan opgewonde “Oe! Is dit hierdie een?”

Maar die pienk boekie sê dis nog ’n hele ent verder, want ons het nog nie by die eerste leer uitgekom nie. Naderhand bereik ons dié leer. Boekie sê: Hou links. Dit is ’n smal paadjie tussen ’n rotswand en ’n verweerde stuk doringdraad. Die pad kronkel wild, maar darem nie veel gevaarliker as die hoofroete nie. Spore van berg-hardlooptekkies op die stofgetrapte paadjie beduie ander was al voor ons hier.

’n Stukkende bankie kyk oor die Moederstad uit – een van die aanduidings dat ons nog op koers is.

Een keer loop ons ons in ’n effense afgrond vas – ’n teken dat ons na ’n laer paadjie moet terugkeer.

Imar, my broer, loop vooruit en roep oor sy skouer: “Ek dink ons het hom!”

Woerts is ons teen die steilte uit en binne Wally se Grot! Daar is koukiepen-graffiti teen die wande, en my hart sak effens in my skoene. Kan mense nie maar net mooi natuurgoed laat staan nie?

Ek gaan staan heel agter in die grot, haal my selfoon uit my sak en neem ’n foto. Dis die een! Die Simba-tjippie-raam met Tafelberg se skouer in die middel.

Nogal iets, om die wêreld vanuit hierdie ongewone hoek te kan beskou.

Die eerstehandse belewenis van Wally se Grot oortref alle verwagtinge.

Ander grotte

Wally se Grot is nie die enigste grot teen Leeukop nie. ’n Ander inskrywing op Mike se blog vertel van Watchman’s Cave, waarvandaan jy oor Vlaeberg uitkyk. In esoteriese kringe word Watchman’s Cave as ’n heilige plek beskou omdat dit reg noordwes uitkyk, verduidelik ­sacredsites.­co.­za.

Baie mense gaan dan ook na Watchman’s Cave om die wintersonstilstand te beleef omdat die son teen die middaguur by die opening inskyn en die hele grot verlig.

Dean Liprini van die Sacred Site Foundation of South Africa neem mense op begeleide staptogte daarheen.

Hoeveel tyd het jy nodig?

Dit is sowat 40 minute se stap om by Wally se Grot uit te kom en 20 minute om Watchman’s Cave­ te bereik.


Veiligheid

Moenie van die paadjie afwyk nie, bly weg van die afgronde, en dra tekkies of stapskoene met stewige sole.

Moet dit nooit alleen aanpak nie, en hou ’n kannetjie pepersproei byderhand.

Vraag

Weet iemand hoekom dit Wally se Grot genoem word? Stuur e-pos na buite­@­media24.­com!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.