Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Gesondheid
‘Geen suiker vir kinders’
Laat hul só gesonder grootword, sê Tim Noakes
Prof. Tim Noakes

As kinders “regte kos” eet, sal hulle baie sterker en gesonder – en hopelik slimmer – grootword, met baie minder gedragsprobleme, sê prof. Tim Noakes oor sy en sy span se komende kinderkosrevolusie.

Die boek Raising Superheroes, wat in Augustus uitgereik word, bevat dieetraad en resepte vir swanger ma’s, babas en kinders geskoei op Die Kos Revolusie, wat ’n laekoolhidraat-, hoëvet-dieet aanbeveel as teenvoeter vir vetsug en tipe 2-diabetes.

“Raising Superheroes verduidelik hoekom kinders vet word en hoe om dit te voorkom,” sê Noakes.

“Toe Die Kos Revolusie uitgekom het, het almal gevra: ‘Watter kos gee ons ons kinders?’,” sê Jonno Proudfoot, wat die resepte in die boek ontwikkel het.

Lees ook:

■ ​Ryk en lekker - só help banting suiwelgroepe

■ ​Banting of laevet: SA vleisbedryf kán by jou dieet aanpas

■ ​Tim Noakes se verhoor nou saak van gebed

■ ​Viva! Die tyd is reg vir ’n kosrevolusie

■ ​Noakes-kosboek vir babas, kinders gou op die rak

“Die Kos Revolusie moes vetsug en tipe 2-diabetes genees, maar voorkoming is die beste geneesmiddel. Ons wil ouers leer om hul kinders só groot te maak dat hulle nooit van vetsug genees hoef te word nie.”

Raising Superheroes moedig ouers aan om suiker, graankos en verwerkte kos in hul kind se

dieet te vermy, maar dit is nie noodwendig ’n geen-koolhidraat-banting-kookboek nie.

Kinders kan selfs nou en dan ’n aartappel of piesang eet.

“Solank jy jou kind nie suiker gee nie, kan hy ’n bietjie koolhidrate inneem,” sê Noakes.

Hy sonder gebottelde en geblikte babakos uit as die eerste tree op ’n pad wat uiteindelik op vetsug en diabetes kan uitloop.

“Daar is meer suiker in pureekos as ooit tevore. Verwerkte babakos was die eerste geïndustrialiseerde kos.”

Die boek Raising Superheroes.

Vroeër is babas met “werklike kos” gespeen. Daardie kinders “was gesond, sterk en nie vetsugtig nie”.

“As kinders regte kos eet, sal hulle baie sterker en gesonder – en ons hoop slimmer – grootword, met baie minder gedragsprobleme. Hulle sal nie vetsugtig wees nie en hulle sal hulle nooit oor hul gewig hoef te bekommer nie.”

Luidens uittreksels uit die boek beveel die skrywers aan dat kleuters vet in kos soos sardyne, avokado’s en neutbotter inkry en hoender met die vel en volroomsuiwel eet.

Elke ete moet ook diereproteïen en groente insluit.

Bridget Surtees, ’n pediatriese dieetkundige wat al jare lank ’n laekoolhidraat-dieet aan kinders voorskryf, het die boek se feite nagegaan.

Noakes was vroeër vanjaar in die pekel toe die Vereniging van ­Dieet-etiek (Adsa) hom by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika aangekla het van onprofessionele gedrag.

Die beswaar was oor ’n twiet in Februarie 2014 waarin

Noakes ’n ma glo aangeraai het om haar baba met ’n laekool­hidraat-, hoëvet-dieet te speen.

Die verhoor is tot November uitgestel ná ’n gekibbel oor die samestelling van die paneel wat hom moet verhoor.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.