Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Gesondheid
Hou op suiker eet, dit is gif

“Suiker is gif. Trek jul suikertande. Ons het nie suiker nodig nie.”

So het Leonie Joubert, skrywer van die boek The Hungry Season, Donderdag gesê by die uitreiking van die Wêreldnatuurfonds (WWF) se verslag “Reconnecting South Africa’s Food Sys­tems to Its Ecosystems”.

Joubert het gesê suiker word verbind met Alzheimer se siekte, verskeie ander neurologiese kwale, kanker en diabetes.

Al hoe meer navorsing word oor suiker gedoen en die gevolgtrekking is: “Suiker is baie sleg vir ’n mens.”

Medici is besig met veldtogte in wetenskaplike publikasies om suiker uit mense se dieet te kry, het Joubert gesê.

Karen Thomson, navorser en stigter van die Help-program, wat mense help om suikervry te leef, het gesê sy stem met Joubert saam.

Suiker is verslawend.

“Dit is selfs meer verslawend as kokaïen.”

Volgens Thomson is mense nie daarvan bewus hoeveel kossoorte, en veral verwerkte kos, suiker bevat nie.

“Selfs vrugtesap is gif. Mense moet weer leer om water te drink. En as hulle werklik lus is vir koeldrank, drink dan eerder flou, koue rooibostee.”

Sy het gesê mense moet vrugte eet. In een lekkergoedstafie is daar byvoorbeeld dieselfde hoeveelheid suiker as in tien appels.

Joubert het gesê deur jou vol suiker te stop, word hongerpyne tydelik gestil en jou bloedsuiker skiet die hoogte in, maar sodra daardie euforiese gevoel weg is, daal ’n mens se bloed­suiker en slaan moegheid toe.

In haar navorsing vir The Hungry Season het sy bevind een uit elke vyf kinders in Suid-Afrika is ondervoed. Sy het op arm huisgesinne op die platteland afgekom waar ouers hul kinders soggens witbrood, gedoop in suikerstroop, gee voordat hulle skool toe gaan.

“Daardie kinders is ’n kort tyd versadig, maar daarna chronies honger.

“ ’n Algehele revolusie sal moet plaasvind om ’n toekomstige honger wêreld van 9 miljard mense (binne die volgende paar jaar) te voed.”

Die veldtog teen suiker is besig om geweldig veld te wen.

Dit het gesondheidswerkers en aktiviste byna 50 jaar gevat om mense te laat besef rook veroorsaak long- en keelkanker.

“Ons is nou dáár met die suiker­bedryf,” het Joubert gesê.  

Foto: pinterest

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.