24 April 15:24
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

23°C / 14°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 54%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Donderdag

20°C / 16°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Vrydag

20°C / 14°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Saterdag

28°C / 16°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Sondag

18°C / 15°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 76%

Gesondheid
Dié kanker kan jy keer

Elke jaar word servikale kanker by 8 000 Suid-Afrikaanse vroue gediagnoseer. ’n Inenting kan jou byna heeltemal daarteen beskerm, skryf Alet Wichmann.

Servikale kanker is dodelik. Dis die kanker wat die meeste vroue in Suid-Afrika se lewe eis.

Minstens een uit elke 34 vroue in ons land sal in hul leeftyd servikale kanker ontwikkel, maar dié getal is waarskynlik erg onderskat en is eerder nader aan een uit elke 25, sê dr. Trudy Smith, ’n onkologiese ginekoloog by die Donald Gordon Mediese Sentrum in ­Johannesburg.

Die serviks is by die opening van die baarmoeder waar dit aan die vagina ­koppel.

Servikale kanker word veroorsaak deur die menslike papilloomvirus (MPV). Omdat die virus seksueel oordraagbaar is, is die serviks besonder kwesbaar, maar die MPV kan ook anus-, penis- en keelkanker veroorsaak. Sowat die helfte van alle gevalle van die laasgenoemde kankers word deur die MPV veroorsaak, sê dr. Xavier Bosch, senior konsultant by die Katalaanse Instituut vir Onkologie in Barcelona, Spanje.

Daar is verskeie soorte MP-virusse. Tipes 16 en 18 veroorsaak byvoorbeeld servikale kanker, terwyl tipes 6 en 11 verbind word met vratte op geslagsdele.

Hoewel dié vratte nie lewensgevaarlik is nie, kom dit algemeen onder jong mense voor. Dit kom gewoonlik terug ondanks behandeling en veroorsaak veral selfbeeldprobleme.

Dis belangrik om getoets te word

Omdat servikale kanker geen simptome wys voordat dit in die gevorderde stadium is nie, is dit belangrik om jouself gereeld te laat toets. Die eerste tekens dat die kanker reeds ontwikkel het, is vaginale bloeding en pyn ná afloop van seks.

As servikale kanker vroeg gediagnoseer word, kan dit meestal baie suksesvol behandel word.

Gaan minstens elke drie jaar vir ’n papsmeer. Tydens dié prosedure word ’n klein monster servikale selle geneem en ondersoek vir abnormaliteit.

Nuwe MPV-toetse, wat toets vir die teenwoordigheid van die MPV in servikale selle, het selfs ’n groter sukseskoers om servikale kanker vroeg te diagnoseer, sê Xavier. Die toetse kos sowat R530.

Inentings teen MPV

Daar is geen behandeling wanneer jy reeds die MPV het nie en daarom is dit belangrik om dit eerder te voorkom. Die inentings se beskerming teen die tipes MPV wat die entstof bevat, is tussen 85 en 90%.

Daar is twee soorte inentings in Suid-Afrika beskikbaar.

Gardasil beskerm gebruikers teen tipes 16 en 18 van die MPV, wat servikale kanker veroorsaak, én tipes 6 en 11, wat vratte kan veroorsaak. Dit kos sowat R1 000 per inspuiting. Tot op 14 jaar het ’n mens twee inspuitings nodig en daarna ’n herhaling van drie inspuitings.

Cervarix kos dieselfde om privaat toe te dien en bied beskerming teen tipes 16 en 18 van die MPV. Tot op 14 jaar het ’n mens ook twee van hierdie inspuitings nodig en daarna ’n herhaling van drie inspuitings.

Die meeste mediese skemas betaal deesdae vir die inentings, hoewel uit jou spaarfonds.

Die staat ent nou meisies tussen 9 en 14 jaar oud gratis in staatskole in, maar ouers met kinders in private skole sal dit self by ’n kliniek moet laat doen.

Daar is nie ’n ouderdomsperk vir die inentings nie en vroue én mans kan dit kry, sê Xavier. “Dit word net spesifiek vir jong meisies en seuns aanbeveel omdat hulle waarskynlik nog nie voorheen deur die MPV geïnfekteer is nie,” sê hy.

Vir ouer vroue en mans wat negatief getoets het vir die MP-virusse sal die entstof egter net soveel beskerming bied. As jy positief toets vir een tipe van die MPV, sal die entstof jou steeds beskerming bied teen die ander tipes wat dit bevat.

Is die inenting veilig?

Hoewel Gardasil al verbind is met skade aan die eierstokke en vervroegde menopouse en daar tans ’n hofsaak in Japan aan die gang is oor die newe-effekte van Cervarix, sê Xavier en Trudy albei die inentings is veilig om te gebruik.

Volgens Xavier word die veiligheid van die inentings gewys in die meer as 250 miljoen dosisse wat versprei is, meer as 118 miljoen meisies wat geteiken word met inentingsprogramme en ’n geraamde 40 miljoen meisies wat al die volledige kursus inentings ontvang het. Hy sê ook daar is wêreldwyd liggame wat die veiligheid van die entstof monitor en dit steeds aanbeveel.

“Daar is geen erge newe-effekte wat regstreeks met die entstof verbind word nie,” sê Trudy.

Sy sê ook dat die sukseskoers in Australië ’n teken is van die belangrikheid om ingeënt te word. Sedert die entstowwe daar beskikbaar gestel is, het die getal vroue tussen die ouderdomme van 18 en 24 wat met die MP-virus besmet is, met 77% afgeneem.

Newe-effekte wat wel met die inentings gepaardgaan is rooiheid, swelling en pyn op die plek waar jy ingespuit is en hoofpyn en koors ná die inspuiting.

By ekstra kassie. Foto:

Dieetoorlog

Sampioene teen borskanker

Navorsing het gewys vroue wat een sampioen (sowat 10 gram) per dag eet, se kans om borskanker te ontwikkel halveer. Dis waarom Pick n Pay, Thermopac en die Suid-Afrikaanse Sampioenboervereniging elke jaar in Oktober saamspan om geld in te samel om borsprosteses te koop vir vroue wat borskanker oorwin het en nie die geld het om rekonstruktiewe chirurgie te ondergaan nie.  

Jy het waarskynlik die pienk pakkies sampioene op rakke gesien. 

Hulle het pas weer R465 000 wat in Oktober 2016 ingesamel is, aan die Reach for Recovery-stigting oorhandig. In 2016 is 535 vroue gehelp met die geld wat in 2015 ingesamel is. Een prostese kos R748. 

Alternatiewe behandeling

Immunoterapie is ’n betreklik nuwe strategie om kanker te behandel. Dit stimuleer jou lyf se immuunstelsel om die kankerselle aan te val en te vernietig, sê dr. Lizanne Langenhoven, onkoloog by die Panorama-onkologiesentrum in Kaapstad.  

      “Ons weet die liggaam het aanvanklik wanneer die kanker net begin groei  die vermoë om die kankerselle aan te val, maar soos wat die kanker groei en versprei, verloor hy die vermoë. Immunoterapie is ’n groepsnaam vir behandelings wat hierdie natuurlike aanvalsvermoë weer laat opvlam.”

Die newe-effekte van immunoterapie is nie so geweldig soos chemoterapie s’n nie. Laasgenoemde veroorsaak naarheid, haarverlies, lae bloedtellings en moegheid, terwyl die oorstimulasie van jou immuunstelsel veluitslae, diarree en inflammasie van die longe en die skildklier tot gevolg het. “Die meeste van die nuwer immunoterapie-medikasie se newe-effekte is matig en beheerbaar,” sê Lizanne. 

     Tog is immunoterapie nog in die vroeë fases van navorsing en nie ’n behandeling wat goedgekeur is vir servikale kanker deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) nie. Diegene wat dit wil ontvang as kankerbehandeling moet spesiale toestemming van die MNR kry. 

Uit haar eie ervaring het Lizanne gevind dat immunoterapie onvoorspelbaar is. Party pasiënte gaan heeltemal in remissie, sommige se kanker verbeter maar genees nie en ander ervaar geen verskil nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.