22 Augustus 20:35
Kaapstad Verander Area

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 18km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 78%

Donderdag

14°C / 11°C

Wind 27km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 59%

Vrydag

16°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Saterdag

18°C / 10°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 56%

Sondag

19°C / 11°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

Maandag

21°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Jip
Onderhoud
Geen keer aan Vicki
Vicki Fourie (24) is ’n voorbeeld vir talle jongmense wat deur ’n moeilike tyd gaan en weer hul pad wil vind. Sy was die grootste deel van haar lewe doof. Mieke Hofmeyr het met haar gesels oor haar nuwe boek en die prosedure wat haar gehelp het om haar kat se “miaau” vir die eerste keer te hoor.
Vicki Fourie

Sy is sprankelend en ’n lopende voorbeeld van die woordeboekdefinisie van ’n rolmodel. Vicki Fourie was in 2009 Mej. Dowe Suid-Afrika en in 2010 in Las Vegas die eerste prinses in die Mej. Dowe Internasionaal-kompetisie.

Sy het haar eerste boek en memoire, Viva la Vicki!, in 2012 bekend gestel, en haar nuwe boek, God Lief My, is vroeër dié maand uitgereik.

Alleen maar nie alleen

Vicki sê sy het baie alleen en uitgesluit gevoel toe sy op hoërskool was.

Sy het inspirasie gevind in die boek getitel Power to ­Soar. “My omstandighede het dieselfde gebly, maar iets binne my het die wêreld se verskil gemaak. En só het my toekoms verander,” vertel Vicki.

Sy sê dié boek het haar nie net die krag gegee om op te staan en aan te beweeg nie, maar haar ook laat besef sy is nie die enigste mens wat soms alleen voel nie.

“Verwarring kom wanneer ons ons identiteit soek by die verkeerde plekke, soos by vriende, die skool, sport, ensovoorts. Daardie goed het ons nie gemaak nie. Hoekom sal ons aanvaarding dáár gaan soek?”

Dit is Vicki se hoop vir haar boek om dié verwarring te bespreek.

Sy sê sy wil jong mense help om “hul identiteite in God te vind”, nes sy haar eie het. God  Lief  My raak temas aan soos vrees, vergifnis, vriendskap, respek en seksualiteit.

Dapper om te deel

Vicki bied gereeld motiveringspraatjies aan om mense met haar verhaal van dapperheid en uithouvermoë te inspireer. Hoe doen sy dit?

“Ek deel uit my alledaagse ervarings. Ek hou dit persoonlik, en dit bly ’n getuienis. Dít is wat mense aanraak; wanneer jy eerlik is, maar tog positief bly.”

Sy sê sy groei ook self daardeur. “Elke optrede was tot dusver besonders gewees. Ek is ’n ryker mens ná vyf jaar se optredes.”

Vicki is dalk ’n inspirasie vir ander, maar sy het ook mense nodig om haar gegrond te hou. “Ek het ’n wonderlike gesin wat my nog altyd bystaan, ondersteun en saam met my drome droom,” sê sy.

Lae én hoë note

Vir iemand wat nie biologie het nie, was die verduideliking van Vicki se kogleêre inplanting vir my meer Grieks as ’n algebrasom. Sy het haar eerste kogleêre inplanting in Augustus verlede jaar gekry.

“Ek het gehoorverlies van 97% gehad, maar met my gehoor­apparate kon ek ongeveer 40% hoor. Ná my inplanting kan ek ongeveer 80% hoor in my regteroor. Dit raak al hoe beter.

“Dalk hoor ek een van die dae 100%,” sê sy opgewonde. “Ek kan nou hoë én lae klanke hoor.

“Om vir die eerste keer my kat te kon hoor miaau, was vir my ’n groot hoogtepunt. Ek kon dit nooit voorheen hoor nie, want die frekwensies was te hoog.”

Daar is natuurlik risiko’s verbonde aan so ’n prosedure en dié risiko’s het Vicki lank in die gesig gestaar.

“Ek het twee jaar geworstel met die idee. Op die ou einde moes ek self besluit, en toe ek het, het ek vrede gehad,” voeg sy by. “Ek het geweet ek wil nie aan die einde van my lewe kom en wonder ‘wat as’ nie.

“Ek moes eenvoudig die kans vat. Soms moet ’n mens ’n keuse maak en net jou oë toeknyp en dit doen.

“Ek was maar senuweeagtig, want soos met elke nuwe ding weet jy nie wat om te verwag nie. Maar dit was een van die beste besluite wat ek geneem het.”

God Lief My is by verskeie takke van Bargain Books en Exclusive Books beskikbaar. Jy kan dit ook by ​Voelgoedwinkel of direk by Vicki bestel. “Ek sal die boek teken,” sê sy. Stuur e-pos na  vickifourie­@­yahoo.­com.

Meer oor Vicki

Haar motto in die lewe is: “Dapperheid is nie ’n gawe nie, dis ’n keuse.”

Al het sy net 3% gehoor gehad, kon sy soos ’n horende praat. Sy het van jongs af leer lippelees.

Sy het ’n twee jaar lange internet-skryfkunskursus in haar matriekjaar voltooi.

Tot dusver het sy meer as 120 artikels in plaaslike en internasionale tydskrifte gepubliseer.

Sy het in 2010 die tydskrif Cosmopolitan se Fun Fearless Female-prys vir haar motiveringspraatjies gewen.

In 2013 het sy in die band Straatligkinders se ​musiekvideo vir die liedjie “Petrus” verskyn.

Lees gerus Vicki se ​blog.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.