21 Julie 12:32
Kaapstad Verander Area

Vrydag

17°C / 11°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Sondag

17°C / 11°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

17°C / 11°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Dinsdag

15°C / 9°C

Wind 29km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 63%

Woensdag

14°C / 8°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Kos en Wyn
’n Viering van vryheid

Die naweek van 15 en 16 Julie is dit die jaarlikse DStv-Franschhoek-Bastillefees. Dan word die dorp getooi in die Franse vlag se kleure,  blou, wit en rooi, en dorpenaars en feesgangers kuier en proe aan die beste wyne en kosse wat die streek bied. Nataniël vertel ons van sy ervaring by vorige Bastille-feeste hier en in Frankryk.

Nataniël

Ek is al jare lank stil-stil betrokke by die DStv-Franschhoek-Bastillefees.

My vriendin en mentor, die sjef Topsi Venter, het ’n restaurant, Topsi & Company, in Franschhoek gehad waar sy tot op 79 jaar gekook het. Ek het daar gekuier, geëet, geleer en gekook.

Die voorbereidings vir Bastilledag was ’n groot gedoente. En elke jaar is die kokery ietwat anders benader, afhangende van die soort geleentheid, van kosstalletjies tot groot geleenthede, private aansitetes en eetgoed vir geskenke.

Hulle het navorsing gedoen om buitengewone, historiese resepte op te diep eerder as om dít te gebruik wat mense gewoonlik met Franse kos assosieer. Hier het ek geleer daar steek veel meer in die Franse kultuur as die tipiese smake en kommersiële simbole waaraan mense gewoond is.

Die Franse se vryheid

Bastilledag vier die Franse Revolusie, toe die Bastille op 14 Julie 1789 bestorm is en die Franse nasie dit ’n jaar later op 14 Julie 1790 vir die eerste keer gevier het. Vandag vier Franse gemeenskappe dit wêreldwyd.

In Frankryk is dit dan somer en die feesvierings skop die aand van 13 Julie af wanneer mense die strate met lanterns invaar. Die 14de begin met ’n parade, waarna die Franse op die strand of in ’n park uitspan.

’n Spesiale ete word later genuttig terwyl die Franse wag dat dit donker word – wat eers teen 23:00 gebeur. Sodra die son gesak het, loop mense en sing hul volkslied op straat terwyl hulle na die vuurwerkvertonings kyk. Dis allermins ’n dag van te veel alkohol en rumoerigheid, veel eerder ’n dag van trots en vreugde waarop hulle hul vryheid vier.

Die 14de Julie is eers in 1880 tot ’n vakansiedag verklaar. Dit was ook om te vier hoe die Franse opgestaan het nadat hulle ’n dekade vroeër deur die Pruisiese magte verslaan is.

Die Franse se opperdoel

Op my eerste besoek aan Parys 27 jaar gelede, het ek verlief geraak op Frankryk. Die stad se skoonheid het my oorrompel.

Parys is ’n koorsagtig besige stad wat deur toeriste vertrap word. Soos in Venesië is die inwoners geïrriteerd omdat hulle hul erfenis wil beskerm en ’n normale lewe wil lei. Maar Parys bied kuns, romanse, mode en skoonheid soos geen ander plek ter wêreld nie

Toe my broer ’n Franse burger geword en hom in Nantes, die sesde grootste Franse stad, gevestig het, het ek dié land twee keer per jaar begin besoek. Dié roetine is nou al vir my ’n tweede lewe.

Ek het geleer dat Parys, soos New York, hemelsbreed van die res van die land verskil en dat daar baie wanopvattings oor die Franse is. Hulle is nie ongeskikte mense wat barette dra en trekklavier speel nie. Dit is Hollywood wat hulle as dié stereotipe uitbeeld.

Vir my is hulle die perfekte voorbeeld van sofistikasie: bedagsaam, ruimhartig en trots. Lewensgehalte is vir hulle die opperdoel. Die Franse bestee minder tyd aan studies en werk as enige ander nasie, maar hulle is uiters doeltreffend.

So het die Franse ’n groot ekonomie geskep, hul gesinswaardes staan sterk, kuns en kreatiwiteit geniet voorkeur, en almal vorm deel van ’n gesofistikeerde en ingewikkelde sosiale struktuur.

Nou het hulle ’n jong en aantreklike president. Hiervan kan die res van die wêreld (behalwe die Kanadese) net droom.

Sjampanje heeldag – maar net ’n bietjie

Alles werk en alles is daar vir ’n rede en het ’n aanloop. En kos is die heel belangrikste.

Die Franse is passievol en hulle stry en betoog pal; daar is altyd georganiseerde stakings aan die gang (maar hulle staak hul staking twee uur lank vir middagete).

Hulle eet met toewyding en praat die res van die tyd oor kos. Varsgebakte brood word by elke ete bedien (’n mens sou dink die Franse is dol op stysel, maar hulle raak nie aan rys nie en ek het nog nooit hier ’n gebakte aartappel teëgekom nie).

Wyn en sjampanje word heeldag aangebied, maar net ’n bietjie op ’n slag. Daar is ’n boulangerie, chocolatier, confiserie, pâtisserie, crêperie en macaron-winkel op elke hoek. Tog is die Franse maer en fiks, want hulle weet die geheim vir ’n goeie lewe is matigheid én gehalte.

Waarom DStv betrokke is by die fees

DStv sê: “Die DStv-Franschhoek-Bastillefees bied ons die geleentheid om ’n driedimensionele ervaring te skep rondom die programme wat ons kykers daagliks vasgenael voor die televisie hou.

“Op die fees bou ons betekenisvolle verhoudings met belanghebbendes wat ons voortdurend ondersteun in die proses om ons sakebedrywighede te vernuwe en verryk – almal, van kykers en werknemers tot diensverskaffers en vennote. Deur die borgskap wil ons met kykers skakel en aan hulle dankie sê.

“Feesgangers kan uitsien daarna om hul gunstelingkanale, soos kykNET, Sundance TV en die History Channel te ervaar op maniere waarvan hulle voorheen net kon droom.”

*Inhoud geborg deur DStv

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.