23 Augustus 08:15
Kaapstad Verander Area

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 18km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 78%

Donderdag

14°C / 11°C

Wind 25km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 59%

Vrydag

16°C / 11°C

Wind 22km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 66%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Sondag

17°C / 12°C

Wind 36km/h

Reënval 0

Humiditeit 56%

Maandag

18°C / 8°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 55%

Leef
Om die stad te voel
Hulle is al bekendes in Johannesburg se strate, die trolliemense wat berge plastiek, papier en metaal op trollies agter hulle saamsleep vir hul daaglikse brood. Twee Johannesburgers het dié mense se stories op kamera en in woorde vasgevang, skryf AJ Opperman.
Hulle werk dikwels tot 12 uur per dag, net om ’n bestaan te voer.
Met hul trollies onderhou sommige ’n hele familie.

Die idee om boeke oor Johannesburg die lig te laat sien, het sommer met Tanya Zack en Mark Lewis se eerste ontmoeting minder as drie jaar gelede ontstaan toe hulle besef het hul albei se gunstelingboek is Nine Lives deur William Dalrymple.

Dié boek skets die lewe van nege Indiërs.

“Ek is mal oor hoe keurig Dalrymple besonderhede weergee,” vertel Zack.

Die verskillende lae waaruit die boek bestaan, het Zack en Lewis die idee gegee om ’n reeks boeke oor Johannesburg te publiseer – ’n projek wat nou by die halfpadmerk is.

Die reeks dek verskillende onderwerpe rakende die Goudstad en hoe mense sekere ruimtes met die ongewone vul. Good Riddance, die vyfde boek in ­Wake Up, This is Joburg, ’n reeks van tien boeke, het onlangs by Fourthwall Books verskyn.

Good Riddance is deeglik nagevors. Lewis het die foto’s geneem en Zack het die teks geskryf.

“Toe ons oor ’n boekreeks begin gesels het, was die mense wat die trollies stoot een van ons eerste idees, hoewel ons eers materiaal vir van die ander boeke ingewin het,” vertel Lewis vroegmiddag aan die kombuistafel in Zack se ­Victoriaanse huis in Parkview, Johannesburg.

Kyk dieper

Jy herken die mense in die boek – hulle wat met die trollies loop.

Lewis en Zack het dié mense gevolg en gekyk hoe hulle leef deur die strate van woonbuurte soos Parkwood, Melville en Windsor.

Soos die swanger Naleli Kgomo en Lebo Selemela wat hul families in Lesotho onderhou. Mettertyd is haar en Selemela se kind gebore. Kgomo wou sommer twee dae ná die geboorte na die straat terugkeer, maar Selemela het dit probeer verhoed deur eers haar trollie weg te steek en dit oplaas te verkoop.

Soms is die name van die mense op versoek verander.

“Daar was sensitiewe goed wat ons versigtig moes hanteer,” sê Zack. “Jy moet die storie vertel sonder om hierdie mense te veel bloot te stel. Jy plaas jouself in hul skoene. Wat sou jy skryf? Watter foto’s neem jy en watter nie?”

Sy en Lewis vul mekaar aan deur die loop van die gesprek. Lewis sluit by haar aan: “Die trolliemense het ’n stem. Hulle kon sê dit is oukei of nie en ’n mens moet dit respekteer.”

Dis ’n storie van individue, sê Zack. En dis die punt van die hele boekreeks: mense moet dieper kyk.

Dis húl storie

Om Good Riddance saam te stel, moes hulle die vertroue wen van mense wat hul bestaan uit die insameling van herwinbare materiaal en die sleep van swaar trollies maak, soos die Fourie-gesin in die suide van die stad. “Dit is nie ’n geval van ek daag net op en begin foto’s neem nie. Dis ’n sagte benadering. En ons vra of dit moontlik sou wees om foto’s te neem en hulle te volg.

“Integriteit is belangrik. En ons vind dat wanneer ons belangstelling toon in iemand se lewe X met integriteit X is hul benadering dieselfde.”

Zack voeg by: “As iemand ‘nee’ sê, neem ons dit nie verder nie.”

’n Gesprek vorm naderhand terwyl die lewens gedokumenteer word.

“Ek stel belang in hul lewe,” sê Lewis. “Nie net oor die foto’s nie, maar daar is ’n empatie. Ek stel belang in hoe hulle leef, en hoe hulle dit regkry om ’n bestaan te voer. Hoe hulle slaap, hoe hulle eet.”

Eerstens reik hy uit as mens, dan as fotograaf, sê Lewis.

Lewis sou partykeer by die mense wat hy afgeneem het aankom op ’n Saterdag. Sonder ’n kamera. Sommer om te groet en om vir hulle die foto’s te wys wat hy geneem het.

Tanya Zack en Mark Lewis, wat saam ’n boekreeks aangepak het om mense dieper te laat kyk na die stories van Johannesburg.

“Ek sou graag wou glo daar is ’n verhouding. Hulle hou van die foto’s wat hulle sien. Niemand dink jy sal die foto’s kom wys nie en wanneer jy dit vir hulle bring, help dit ook vertroue skep.

“Die feit dat hulle die foto’s sien, vorm deel van hul deelname aan die projek. Jy leer die familie ken. Jy vra hulle baie uit oor hulself. En jy moet oop wees vir dieselfde.”

Dit was vir Zack, ’n stadsbeplanner, belangrik dat die stories wat sy oordra net soveel oor Johannesburg as die onderskeie individue moet gaan.

“Dit neem ’n tyd om te kyk en te voel en jouself in die storie te verloor. Die konteks, die aktiwiteit en die persoon is die drie aspekte waarmee ek altyd speel in my skryfwerk. Dit is wat ek wil oordra.”

Hulle vertel dit is ’n hengse taak om só ’n rommeltrollie te sleep. Tot 12 uur se stap per dag.

Deur die venster sien ons hoe die reëndruppels saggies val.

“Stel jou voor wanneer hul goed nat is,” vertel Zack. “Die gewig is seker dubbel so swaar. Hulle sleep dikwels ’n vrag swaarder as hul liggaamsmassa.”

Soos die man wat sy in Norwood raakgeloop het in gietende reën.

“Ek doen toe die dom ding om vir hom ’n sambreel aan te gee. Hy sê toe hoe gaan hy die sambreel vashou?” lag sy oor daardie oomblik.

“Ek sê toe kom ons sit alles in my motor en hy vra, ‘maar wat van die trollies?’.”

Lewe uit herwinning

Die mense met balaklawas oor hul oë getrek teen die koue en berge vol herwinbare materiaal op tuisgemaakte trollies is ’n bekende gesig in voorstedelike strate.

Tanya Zack en Mark Lewis het vir Good Riddance, die vyfde in hul Wake Up, This Is Joburg-reeks, van die mense gevolg wie se dagtaak dit is om deur ons vullisblikke na bruikbare artikels te soek en dit kilometers ver in die bloedige son of gietende reën na afvaldepots te neem vir ’n skamele inkomste – net om dan weer van voor af te begin.

Die boek wys dié lewe is taai, maar dit laat mense toe om die huur te betaal, hul kinders op te voed en selfs te spaar vir ’n beter lewe.

Good Riddance kos R180. 

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.