Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Leef
Infertiliteit: Mite of ’n werklikheid?
Foto ter illustrasie. Foto: iStock

Die meeste vroue droom daaroor om ’n baba te hê, maar die vreugde van moederskap is nie vir almal beskore nie. 

Linda Lovelace* van Graaff-Reinet deel op ’n humoristiese manier haar stryd om swanger te raak. (Let wel – die lag met die traan.) 

“Wanneer ’n mens begin met die babaprojek (ja, een van ons is ’n projekbestuurder) dan glo jy dit gaan dadelik gebeur, maar dit werk nie vir almal so uit nie. As jy eers by ’n fertiliteitspesialis uitkom, weet jy hier gaan geld uitvloei vinniger as by ’n staatsdepartement. Dit is ondersoeke en bloedtoetse en soms sit ’n mens ure lank by die kliniek en wag. 

“Partykeer voel jy lus om tou op te gooi wanneer die dokter vir jou sê: ‘Probeer maar weer, want daar is niks regtig fout met jou nie.’ En tog werk dit net nie. 

“Ons het swanger geraak ná drie jaar se gehuil, gebid en die huislening wat net groter en groter word. Vandag sal ek my pragtige seuntjie met sy potblou ogies vir niks in die wêreld verruil nie,” sê Linda. 

Dan is daar ook die hartseer wanneer jy moet besef en aanvaar dit gaan nooit gebeur nie.

Die skok dat my huwelik op die rotse kan wees, het my hard getref.

Soms moet jy handdoek ingooi

Adéle Jonker* van Kokstad en haar man, Philip, het ses jaar lank probeer om swanger te raak. “Ek het drie keer vir behandeling gegaan en elke keer met groot opgewondenheid gewag net om elke keer teleurgestel te word. Die dokters en spesialiste kon geen fout by my of Philip kry nie. Die antwoord was dat ek gespanne is en dat ek te hard werk,” sê sy.

“Op ’n dag het Philip vir my gesê ons moet besluit of die ‘obsessie’ nie dalk besig is om ons verder uitmekaar te dryf nie. Die skok dat my huwelik op die rotse kan wees, het my hard getref. Ons het al hoe meer oor die finansiële gevolge van die behandeling baklei,” huil sy.

“Ná berading het ons besluit om eerder op ons huwelik te fokus en te aanvaar dat ons nooit kinders gaan hê nie en dalk aanneming moet oorweeg,” sê Adéle.

Infertiliteit word gedefinieer as die onsuksesvolle poging om binne 12 maande swanger te raak.

Só sê die kenner

Egpare tussen die ouderdom van 20 en 40 jaar beskou infertiliteit dikwels as ’n mite en dink dat dit net by sommige egpare voorkom. Die werklikheid is dat een uit elke vyf egpare ’n probleem daarmee het. 

Infertiliteit is nie ’n moderne probleem nie – ons dink byvoorbeeld aan Sara en Hanna in die Bybel wat albei nie swanger kon raak nie. 
Vandag het egpare die voordeel dat daar verskeie infertiliteitsklinieke in Suid-Afrika en wêreldwyd is met bekwame en opgeleide spesialiste (ginekoloë en laboratoriumpersoneel). 

“ ’n Mens moet egter onthou dat hierdie klinieke nie kinders ‘maak’ nie en dat dit steeds in die hande van ons Skepper is,” sê Derick Hamlett, reproduktiewe bioloog van die Pasteur Fertiliteitsentrum in Bloemfontein. 

“Ons beskou elkeen wat ons sentrum besoek as ’n individu en nie as ’n nommer nie, omdat elke geval uniek is. Hulle het nie ‘gesondmaak-medisyne’ nodig nie, hulle het ’n brandende begeerte om ’n kind te hê,” sê hy. 

“Infertiliteit word gedefinieer as die onsuksesvolle poging om binne 12 maande swanger te raak. Die probleem is dat die meeste egpare vandag eers hul studies voltooi en aan hul loopbaan aandag gee voordat hulle met ’n gesin begin. Vrugbaarheid neem met die ouderdom af, maar dit is uiters belangrik om elke egpaar individueel te hanteer,” sê Hamlett.

Hoewel infertiliteitklinieke bogenoemde as die norm gebruik, is egpare altyd welkom om ’n kliniek te besoek as hulle net gemoedsrus wil kry vir die toekomstige beplanning van ’n gesin. 
Alle infertiliteitsbesoeke eindig nie noodwendig in behandeling of opvolgbesoeke nie. Klinieke is ook daar om inligting oor moontlike swangerskappe aan egpare te verskaf. 

“Die vrou is gewoonlik die eerste persoon wat met ’n infertiliteitskliniek kontak maak omdat dit algemeen aanvaar word dat die probleem by haar lê. Dit is daarom dikwels vir die mans ’n skok as hulle besef dat die oorsaak van infertiliteit in tot 50% van die gevalle by die man kan lê. 

“Oorsake van manlike infertiliteit sluit in faktore soos hoë temperature, alkohol, strawwe rookgewoontes, medikasie, steroïede, stres, hormonale afwykings en obstruksie in die saadbuise,” sê Hamlett.

By vroue kan die volgende probleme voorkom: hormonale steurnisse, anovulasie, polisistiese ovariële sindroom, obstruksie van die Fallopiaanse buise, stres en ouderdom. Stres word wel as een van die grootste oorsake beskou. 

“Gelukkig kan die meeste van die oorsake behandel word, maar dit is baie belangrik dat die egpaar die nodige toetse doen om vas te stel wat die oorsaak is sodat hulle die korrekte behandeling kan kry. Onthou, dr. Google is nooit ’n betroubare dokter nie,” sê Hamlett.

Om swanger te raak is nie so maklik as wat algemeen aanvaar word nie. Die gemiddelde egpaar het slegs ’n 25%-kans per maand om ’n swangerskap te bewerkstellig, dus moet egpare nie moedeloos raak indien die eerste behandeling onsuksesvol is nie, sê hy.

Vertrou eerder die deskundiges as inligting op die internet.

Wat moet jy verwag?

“Tydens die eerste konsultasie met die ginekoloog sal die vrou sekere toetse en ondersoeke ondergaan in ’n poging om die moontlike oorsaak van infertiliteit vas te stel. By die man sal ’n ontleding van sy semen gedoen word om te bepaal of sy spermproduksie tot ’n swangerskap kan lei. Dit is baie belangrik om te onthou dat ’n semenontleding maandeliks en selfs weekliks kan verskil. Daarom is dit soms nodig om ’n tweede en selfs ’n derde semenontleding te doen,” verduidelik Hamlett. 

In ’n opvolgkonsultasie sal die resultate van die vrou en die man met die egpaar bespreek word waarna daar op behandeling besluit sal word. 

“Verskeie behandelings is beskikbaar wat wissel van die eenvoudige hormoonbehandeling vir die vrou om meervoudige volwasse eierselle (oosiete) te ontwikkel, tot die bekende Kunsmatige Inseminasieprosedure (KI), asook meer gevorderde prosedures soos In Vitro Bevrugting (IVB) en Intra Sitoplasmiese Sperminspuiting (ICSI). 

“Dit is beter om al die behandelings in die spreekkamer te bespreek sodat dit met grafika verduidelik kan word. Vertrou daarom eerder die deskundiges as inligting op die internet,” beklemtoon Hamlett. 

In die algemeen word daar met die eenvoudigste behandeling begin tensy toetse duidelik obstruksie van die Fallopiaanse buise uitwys, waarna onmiddellik met IVB begin sal word. As die semenontledings van die man dui op lae spermtelling of lae normaliteit van die spermatozoa, sal met die ICSI-prosedure begin word. 

Daphné Grundling. Foto: Armon Barnard

Statistieke van infertiliteitsklinieke kan misleidend wees omdat sekere klinieke slegs pasiënte tussen 25 en 30 jaar sal behandel en dan ook slegs vir sekere diagnoses, terwyl ander klinieke meer ingewikkelde infertiliteit sal behandel. 

Vroue met ’n geskiedenis van borskanker sal nie onmiddellik behandel kan word nie omdat sekere hormone tydens die behandeling riskant is. Daar sal dus eers bepaal moet word watter hormone gebruik kan word. Daar moet ook daarop gelet word dat die gebruik van hormone kan lei tot gemoedskommelings, naarheid en in sommige gevalle gewigstoename. 

“Ongelukkig is daar geen waarborg tot sukses met enige infertiliteitsbehandeling nie en kan die behandeling baie duur wees. Die vreugde ken egter geen perke as die vrou wel swanger raak nie – vir haar en vir ons,” sê Hamlett. 

* Vir meer inligting bel Derick Hamlett by 083 236 0796 of besoek die Pasteur Fertiliteitsentrum in Bloemfontein.

* Skuilname is gebruik om mense wat hul stories met ons deel te beskerm. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.