Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Leef
Ma’s is ‘rockstars’, maar word ook siek
Foto ter illustrasie. Foto: iStock

My rubrieke is nie noodwendig diep, grondverskuiwende poëtiese pêrels nie, maar gaan eerder oor die alledaagse dinge wat my laat lag, rustig maak, ontstel, bekommer, laat wonder of sommer net my hart bly of seer maak. Die meeste van die tyd is my kinders die oorsaak van een of dalk sommer al die bogenoemde!

Dit gebeur genadiglik min. Daai dat mamma siek word. Ons byt mos vas en byt vas totdat ons omtrent by die afgrond draai voordat ons ingee.

En ons moet regtig siek – soos in baie siek – wees voordat ons daai tree neem om onsself as’t ware af te boek. Ons is nogal rockstars in daai opsig.

Ek het altyd gesê ek sal eerder siek word voordat my kinders moet siek word. Jy weet, want dis darem so sleg om te sien hoe swaar ’n ou siek lyfie kry.

Maar toe loop kry ek mos ’n wyle terug vir jou so ’n vieslike mengsel van griep en gastro. Dit het my opinie totaal verander.

Ek het besef dat ja, hoe sleg dit ook al is wanneer jou kinders siek is, dit beter is om self gesond te wees sodat jy na hulle kan omsien en hulle kan vertroos wanneer hulle siek is en jou nodig het.

En kyk, ’n mamma is mos maar eintlik lekker hardegat ook. My man (wat ’n engel is en alles oorgeneem het in daai paar dae wat ek soos ’n lewende lyk gevoel het) moes maar harde woorde met my praat toe ek steeds vir my oudste haar natuurwetenskap-toetswerk wou vra ten spyte daarvan dat elke woord uit my mond moeite was om te uiter.

Druk daai rockstar-neigings so nou en dan in jou sak en gaan klim in die bed wanneer jy siek is.

Die rede daarvoor is dat ek nie ’n druppel krag oorgehad het nadat ek en die wit troon in die badkamer mekaar uiters goed leer ken het in ’n baie korte tyd nie.

Hy moes weer groot oë maak toe ek die volgende oggend die skottelgoed wou was.

Blaas ek dalk my eie beuel hier? Miskien so ’n bietjie. Jy sien, ons ma’s besef wat die rol is wat ons in ons huishoudings moet vervul. En ons weet dat ons klein mensies maar baie afhanklik van ons is. Ek dink dis daarom dat ons tawwe girls kan probeer wees wanneer ons siek is en steeds wil probeer aangaan met ons take.

Nou moet ek egter ook byvoeg dat jy na jouself moet kyk sodat jy na ander kan kyk. Dit het ek ook weer besef.

Ek moes myself dwing om te gaan lê (wat darem nie te moeilik was nie aangesien ek omtrent nie kon regop staan nie) en te rus sodat ek gesond kon word.

En onthou nou, daar is drie kabouters in ons huis en elkeen van hulle eis maar hul pond vleis. Om die drietjies alleen op ’n aand te hanteer is baie uitdagend!

So toe luister ek ook maar met een oor uit die kamer hoe die gewone weeksaandchaos in die voorhuis afspeel terwyl die versoeking om te gaan help ál groter word.

Cathy de Lange.

Gelukkig het ek darem ’n jonge dame van nege jaar oud wat so mooi in haar verantwoordelikheid instap wanneer sy moet. Dit help vreeslik baie! Mamma se yster. Ek raak sommer bewoë. My kind word groot!

Anyway, wat ek eintlik wil sê, is dat wanneer ’n ma siek word, sy haarself die tyd moet gun om te herstel. As dit enigsins moontlik is, bygesê.

Ek wéét ons wil net aangaan. Dinge doen. Huis in stand hou. Kinders versorg. Maar as jy uitbrand, of in die hospitaal beland omdat jy nie na jouself gekyk het toe jy siek geword het nie, gaan dit ’n baie groter invloed op jou kinders hê. Ook emosioneel. So druk daai rockstar-neigings so nou en dan in jou sak en gaan klim in die bed wanneer jy siek is.

En net so tussen my en jou: Dis soms ook nogal lekker om die kroos se gewaarwording te aanskou wanneer hulle weer besef hóé nodig hulle jou eintlik het.

En daai koffie en stukkie toast wat bed toe aangedra word, is ook nie te versmaai nie.



*Bron: Mammas 24/7

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.