Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Leef
Facebookblad ondersteun ma’s en hul word vriende
Foto ter illustrasie. Foto: Facebook

Met ’n ledetal wat aan 40 000 raak, is Mammas 24/7 op die oomblik een van die grootste ondersteuningsgroepe vir Suid-Afrikaanse ma’s en oumas op Facebook.

Charné Cronjé van Kimberley wat die blad bestuur, vertel dat ’n vriendin die blad in 2012 begin het, maar dat sy weens familieverpligtinge die blad in 2013 aan haar oorgegee het.

“Ons het net ’n paar ma’s as lede gehad, maar die blad het die afgelope vier jaar geweldig gegroei. Ek wou graag ’n plek skep waar ma’s mekaar kan ondersteun, bemoedig en die belangrikste, waar hulle vriendinne kan maak. Dit voel vir my of ek deel is van elkeen van ons lede se lewe!”

Cronjé sê dat dit vir haar geweldige vreugde verskaf om te weet dat ma’s oor die land heen ’n veilige plek het om raad te vra en dat al die ma’s op die blad mekaar bystaan en help.

My doel is om aan hierdie entrepreneurs die platform te gee om hul ondernemings te laat groei en tot die volle potensiaal te ontwikkel

“Hierdie is ’n lekker saamkuier-blad waar ons mekaar raad gee, bemoedig en ondersteun. Mammas en oumas baie welkom!” lui die blad se beskrywing.

Charné Cronjé en haar man, Rudi. Foto: Verskaf

Sy vertel dat sy ook ’n groot passie het vir entrepreneurs en het daarom ook ’n Mammas 24/7-webblad begin. “Ná ’n jaar van harde werk en heelwat bloed, sweet en trane het die blad op 1 Februarie vanjaar die lig gesien. Die webblad is ’n verlengstuk vir die Facebookblad en ’n plek waar ons ’n verskeidenheid inligting vir ma's aanbied. Dit is ook ’n tuiste vir mense met klein ondernemings in die babamark waar hulle kan adverteer om blootstelling vir hul produkte te kry.”

Sy verduidelik dat mense met klein ondernemings wat babagoed verkoop dikwels sukkel om die regte platform vir bemarking te kry waar hulle die regte teikenmark kan bereik.

“My doel is om aan hierdie entrepreneurs die platform te gee om hul ondernemings te laat groei en tot die volle potensiaal te ontwikkel. Die

Makayla en Kayden Cronjé. Foto: Verskaf

advertensiespasie op die blad is eksklusief en slegs ’n beperkte ruimte is hiervoor beskikbaar. So verseker ons dat elke advertensie raakgesien word en dit nie tussen ’n klomp ander verdwyn nie.”

Haar wens vir Mammas 24/7 is dat dit vir elke ma en ouma in Suid-Afrika ’n huishoudelike naam sal word. “Dit moet die eerste keuse wees vir ma’s wat raad en ondersteuning nodig het. In die ruimte wat ons skep, hoef geen ma ooit weer te voel dat sy alleen deur enige faset van ouerskap gaan nie.”

Op Woensdag 22 Maart gaan die blad ook sy eerste Facebook LIVE-uitsending aanbied waar drie ma’s oor allerlei onderwerpe gaan gesels. Ma’s kan van 20:00 af hiervoor inskakel om saam te kuier.

Só sê die ma’s

Alice White Dis great om te weet jy as ’n mamma is nie alleen nie. Hier word nie geoordeel nie en die raad is altyd spoton.

Chrisna Orton Die insette en kommentaar is so deel van my soos my oggendkoffie. Elke dag lees ek Mammas 24/7. Na vyf jaar het ek weer ’n baba en dis ongelooflik om ’n netwerk van mammas te hê met hulp, raad en ondersteuning.

Anri Terblanche Vir ’n nuwe ma soos ek bring die blad baie goeie raad en vertroosting. Die ander ma’s is altyd vinnig om te help en baie vriendelik. Ek maak staat op die blad en word nooit teleurgestel as ek dringend hulp soek nie.

Rezanne Hartley Hierdie blad het my deur baie moeilike tye gehelp – van ’n koliekbaba tot nageboortelike depressie en alles tussen-in.

Joria Annandale Al die ma’s se raad kom so handig te pas en het my al baie gehelp. Dankie vir die uitstekende blad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.