28 Julie 00:34
Kaapstad Verander Area

Vrydag

20°C / 12°C

Wind 27km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Saterdag

18°C / 13°C

Wind 24km/h

Reënval 1mm

Humiditeit 64%

Sondag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

22°C / 15°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 49%

Dinsdag

16°C / 15°C

Wind 39km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 80%

Woensdag

15°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 5mm

Humiditeit 66%

Leef
‘Ouma, ons koop vir jou ’n halwe hond’
“Ouma, ons gee vir jou ’n halwe hond, want ons het nie nou geld vir ’n hele een nie!” Foto: Carien Grobler

Ongeag hoe lief  ’n mens jou kinders het, het enige ouer soms ’n ruskans nodig. ’n Rukkie om asem te skep, ’n grootmensboek te lees en net vir ’n paar dae die TV vir jouself te hê.

Maar ook om ononderbroke tyd saam met jou lewensmaat deur te bring, in ’n restaurant te eet waar die inkleurblaaie en kryte nie die hele tafel vol lê nie en jou gesprek nie onderbreek word wanneer die kelners luidkeels iemand toesing wat verjaar nie.

Dis dan wanneer oupas en oumas wonderwesens is, want hulle sien weke lank uit dat die skool sy deure moet sluit sodat hulle hul kleinkinders kan kom haal. Om weer vir ’n rukkie pa en ma te speel, maar met die kinkel dat bederf en dissipline nie in dieselfde volgorde toegepas word as toe hulle ons grootgemaak het nie.

Ek het baie vroeg besef dat ’n mens met die geboorte van jou eersteling jou plek as oogappel opgee. Dan kom kuier jou ouers deels vir jou, maar eintlik om met daardie klein mensies te speel waaroor hulle so lank gedroom het.

Op ’n dag in die onlangse verlede het my ma vir die soveelste keer gebel en eers gevra hoe dit met die “seuntjies” gaan en toe na my welstand verneem. “Maak vrede,” het my man geantwoord toe ek my ligte ontsteltenis met hom deel. “Jy sal nooit weer nommer een wees nie.” En dis oukei, want hoe meer mense my kinders liefhet, hoe groter sal hul eie liefde ook vir ander wees. Liefde leer liefde.

Telkens daal ’n ongedurigheid vir ’n dag of wat op my neer wanneer hulle weg is.

’n Ongekende stilte

Terwyl ’n mens smag na alleentyd, is daar geen woorde wat die stilte kan beskryf wanneer vier voetjies saam met hul grootouers in die motor klim en hulle nie meer deur jou huis hardloop nie. Wanneer hul (luide) stemmetjies nie meer die instruksies vir speletjies roep of vra vir iets om te eet nie.

Telkens daal ’n ongedurigheid vir ’n dag of wat op my neer wanneer hulle weg is. Asof ek nie weet wat om met myself te maak nie, want my hande is gewoond om hulle te versorg en ’n leë, pynlik netjiese kinderkamer doen geen ma se hart goed nie.

Maar dan raak ’n mens dit op ’n manier gewoond en geniet jy date night, ’n paar oggende sonder ’n gesoek na skoene en goeters wat in skooltasse hoort en die rus wat ’n mens vind wanneer niemand om 05:00 van albei kante in jou bed inklim en jy soos ’n sardien vasgedruk word nie.

Ouma, ons gee vir jou ’n halwe hond, want ons het nie nou geld vir ’n hele een nie!

Haaltyd is heerlik

As dit tyd word om hulle te gaan haal, voel die pad skielik te lank. Niks is soeter as die groot ogies wat jou motor raaksien, die opgewonde gehardloop en die soene en drukkies waarmee ’n mens na twee weke oorval word nie.

En toe bring ons iemand saam: ’n Hond vir Ouma, want haar vierbeenkind het ’n paar maande gelede oor die reënboogbrug gestap.

Sy het haar self gekies en toe sy Sondag verjaar, gee ek vir Josh die kaartjie met die helfte van die geld wat sy vir Peanuts betaal het. “Special delivery!” het hy aangekondig terwyl Ouma voor die yskas staan.

En toe sy omkyk: “Ouma, ons gee vir jou ’n halwe hond, want ons het nie nou geld vir ’n hele een nie!”

Carien Grobler.

’n Vol huis, want almal is tuis

Met alles uitgepak, die honde en katte gulhartig gegroet en twee seuntjies wat na seep ruik met vol magies besig met hul karretjies, het ons Sondagaand elk met ’n glas wyn op die stoep gaan sit.

En toe kom my Joah-kind aangestap. Met ’n mes en ’n string Paaseiers waarvoor hy in my kruidenierskas moes opklouter. Ek het eers geraas oor die mes en toe verneem of iemand gesê het hy kan die lekkergoed kry.

“Nee, Mamma,” antwoord die driejarige wysneus toe. “Hulle deur gaatjie in kas val en sê ‘eet ons.’”

As Paaseiers kan praat, wie is ek om te stry? Terwyl my koskaste weer leeg geëet word, is my huis weer propvol.

*Lees volgende week verder saam oor my reis deur die wêreld van mawees. 

*Carien Grobler is ’n redaksielid van Netwerk24. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.