23 April 21:44
Kaapstad Verander Area

Maandag

24°C / 14°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Dinsdag

24°C / 14°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 49%

Woensdag

21°C / 17°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 73%

Donderdag

20°C / 15°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Vrydag

22°C / 14°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Saterdag

25°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Motors
Kordate Koreaan kuier alte lekker
Hyundai se nuwe Creta het Indiese wortels. Hy lyk dalk nie so byderwets soos sy modieuse Europese mededingers nie, maar as ’n eerlike sportnuts sal hy sy kopers tevrede stel.Foto: Marnus Hattingh

Die segment vir kompakte sportnutsvoertuie is deesdae vuurwarm, en omtrent elke vervaardiger probeer ’n hap van dié snelgroeiende mark kry.

Hyundai was lank effens ’n buitestander; sy ix35 van vroeër en sy Tucson van vandag is net te groot en duur om in dié klas mee te ding.

Maar vroeg vanjaar het die Koreane ook in die swembad gespring met hul nuwe Creta, ’n lywige sportnuts met ’n billike prys. Sal hy die pyp rook?

Die agtergrond

Kom ons skets eers die konteks van die Creta se verhaal.

Soos hierbo gesê, het Hyundai nooit in Suid-Afrika ’n speler in die nutsbukssegment gehad nie – daar waar Ford amper skoonskip maak met sy gewilde EcoSport, Renault die asem laat wegslaan het met sy mooi Captur en jy deesdae ook ’n falanks andere kry (Mitsubishi ASX, Suzuki Vitara, Mazda CX-3 en Honda H-RV).

Die jongste twee mededingers in hierdie segment is Toyota se CH-R en die gawe Audi Q2. Maar ons kan die Q2 kantlyn toe skop, want hy is amper R200 000 duurder as die ander en speel dus in sy eie sandput.

Die EcoSport is gewild, want behalwe dat hy ’n goeie pakket bied en ’n billik prys het, is hy al lank op ons mark.

Dit raak dus ’n selfvervullende profesie: Omdat jy so baie op die pad sien, “adverteer” hy homself en raak hy al hoe bekender en beminder, wat tot nog sterker verkope lei.

Dít is die kryt waarbinne die Creta moet boks.

Toe Hyundai na sy internasionale portefeulje kyk om te sien wat beskikbaar is om hier met dié armada sportnutse mee te ding, was die heel suksesvolle ix25 oorsee te kry.

Eintlik is hy nommerpas vir hierdie rol – behalwe dat sy prys hom op pad na die Q2 sou plaas eerder as na die ideale sub-R300 000-merkie van die EcoSport.

Gelukkig was daar ’n alternatief. In Indië bou Hyundai ’n groterige sportnuts teen ’n baie billike prys wat spesifiek vir daardie mark ontwerp is: die Creta.

Dit is dus ietwat van ’n kompromis om hom na Suid-Afrika te bring. Maar met ’n prysgroepering wat hom reg langs die Toyota C-HR plaas, het Hyundai nou iets waarmee hy kopers kan lok.

Die skoon, meestal swart afwerking is getrou aan wat jy in ander Hyundais sal vind. Vir sy billike prys kry jy heelwat binneruimte en ’n lang lys standaardtoerusting.Foto: Quickpic

Wat het ons hier?

Die Creta is ’n groter voertuig as die mededingers wat ons opgenoem het. Dit is tot jou voordeel, want vir dieselfde geld kry jy meer ruimte binne en meer pakplek.

Vyf mense sal met gemak hulself kan tuismaak – met plek vir almal se tasse. Hy is werklik ’n groterige sportnuts.

Die Creta het ook ’n hoë, plat dak, in egte tradisie van Indiese voertuie (kyk na die Mahindra Bolero).

Twee enjins is te kies: ’n normaal­geaspireerde 1.6-liter en ’n 1.6-liter-turbodiesel (my toetsmodel).

Waar eersgenoemde ’n keuse van ’n sesgang-handrat- of ’n outomatiese ’kas bied, is die diesel as vlagskip net met die outomatiese ratkas te kry.

As jy inklim

Die binneruim is baie “Hyundai-generies” – die instrumentpaneel sal bekend lyk, as jy ’n Accent of Sonata ry.

Die paneel is skoon en eenvoudig sonder tierlantyntjies. Alles is in pikswart afgewerk, die panele en die sitplekke.

Voor in die middel is ’n groot raakskerm wat die radio, lugversorging en tru-kamera bevat. Jy kan ook jou foon koordloos daardeur beheer.

Die laairuim se vloer voel effens hoog, maar die luikdeur swaai hoog oop, en die rugleunings kan platgevou word wanneer jy lang voorwerpe wil inlaai.

Hy is lekker ruim agter – drie volwassenes sal hulle met gemak hier kan tuismaak.

Veld toe

Die turbodiesel is beslis die weergawe wat jy wil hê, as die prys nie ’n te groot probleem is nie. Die petrolmodel is weens die afwesigheid van ’n turbo net te pap wanneer ’n mens passasiers in het en oor die Sir Lowryspas moet ry.

Die sesgang- outomatiese ratkas is nou nie die beste uit Hyundai se onderdelemandjie nie. Daar is ’n ligte ruk met ratwisseling. Maar die enjintjie loop heerlik wanneer jy die voet plant.

My verbruik het net onder 7,0 liter gedraai, wat beter as die vervaardiger se syfer is. Maar vir ’n klein diesel is dit nie die beste verrigting op die mark nie.

Op die oop pad ry hy moeiteloos, en in die dorp parkeer hy maklik danksy jou hoë sitposisie, die groot vensters en die tru-kamera. Op ’n skoon grondpad bied hy ook ’n gemaklike rit. Ek hou veral van die goeie grondvryhoogte (19 cm) wat nie vir middelmannetjies sal skrik nie.

Stof tot stof

Getrou aan Hyundai is sy modelreeks klein; maar met elke voertuig kry jy ’n lang lys standaardtoerusting. Daardie tru-kamera (en die dakrak en hoofligte wat kant toe kyk as jy om ’n draai ry) is byvoorbeeld standaard ingesluit.

Vir die prys kry jy dus ekstra ruimte en meer toerusting as wat sy mededingers bied. Die strak voorkoms is dalk nie so opwindend soos dié van sy hupse Japanse, Amerikaanse en Europese mededingers nie. En die petrolenjin is effe flou. Maar benewens dít maak hy baie sin.

Prys: Hyundai Creta 1.6 CRDi (out.) – R369 900

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.