18 Augustus 22:14
Kaapstad Verander Area

Saterdag

20°C / 10°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Sondag

18°C / 12°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

Maandag

15°C / 12°C

Wind 31km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 81%

Dinsdag

14°C / 11°C

Wind 37km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 64%

Woensdag

13°C / 10°C

Wind 24km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 79%

Donderdag

13°C / 10°C

Wind 34km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Motors
Voet in die hoek: Nissan het sy punt gemaak

Nissan se pragtige nuwe Navara-dubbelkajuitbakkie is pas in Suid-Afrika losgelaat – en daar’s ’n goeie rede hoekom Suid-Afrika so lank vir hom moes wag. Stuart Johnston het die bekendstelling namens Rapport bygewoon.

Is die nuwe Navara nou die beste dubbelkajuit in Suid-Afrika?

Dis die vraag ná die afgelope week se bekendstelling van Nissan se hoogs indrukwekkende nuwe bakkie, wat onder meer die Internasionale Bakkie van die Jaar 2016-titel gewen het, soos toegeken deur ’n jurie van Europese beoordelaars.

Dit was interessant om van Xavier Gobille, Nissan se bestuurder vir verkope en bemarking in Afrika, te verneem dat die Navara se plaaslike bekendstelling met ’n volle jaar uitgestel is omdat Nissan SA op sekere hersienings aangedring het van die Navara (wat in 2015 al oorsee gebuig het) se veelbesproke en gesofistikeerde vyfskakelagteras met krulvere.

Die belangrikste versoek was vir ’n hoër agterste ryhoogte sonder dat dravermoë en veral die gemak van die nuwe bakkie se ritgehalte ingeboet word. Ná Nissan ­Japan se goedkeuring is ’n ekstensiewe plaaslike toetsprogram dus van stapel ­gestuur.

Aanvanklik kry Suid-Afrika net die kroonprinse van die 4x4-Navara-reeks, onderskeidelik in SE- en die selfs weelderiger LE-spesifikasie.

Die SE-model, in kombinasie met ’n 6-g-handratkas, kan maklik aan 16”-wiele en hoër bandprofiele uitgeken word. Die twee LE-modelle – een met ’n handratkas, die ander met ’n konvensionele 7-g-outokas – ry op 18”-wiele.

Al drie modelle vuur uit ’n splinternuwe 2.3-liter-viersilinder-diesel met twee turbo-aanjaers.

Die eerste, en kleiner, turbo wen maklik en vinnig op om kraguitsette teen lae toere te verbeter, terwyl die groter turbo enjinkrag teen hoë toere aanhelp.

Die twee turbo’s is via ’n stelsel van kleppe en rotors met mekaar geskakel om naatlose kraglewering dwarsdeur die toerstrek te verseker.

Tydens die bekendstellingsritte in die Wes-Kaap het ons 500 km agter die stuur deurgebring, met baie hiervan oor uiters moeilike terrein. Heelwat van die paaie waarop bestuur is, het die soort riffels en groewe gehad wat jou tande normaalweg op mekaar sou laat klap, terwyl die voertuig se bakwerk luidkeels met krake, ­kreune en steune sou geprotesteer het.

Nie die Navara nie.

Weens sy hoogs indrukwekkende vertoning reken ons – sonder die voordeel van ’n direkte toets teen teenstanders – dat die nuweling sy man gemaklik sal kan staan teen die beste wat die plaaslike dubbelkajuitmark tans bied as dit by ritgerief en rigtingvastheid op swak grondpaaie kom.

Bakkies met krulvere op die agteras is niks nuuts nie; die Amerikaners het dit al ’n paar dekades lank in sommige van hul groter “pick-up trucks” probeer.

Maar die spesifieke vereistes in Suid-Afrika verskil van Amerika s’n. By ons dien die dubbelkajuit ook daagliks as gesinsmotor, terwyl dit oor naweke ’n ontspanningsvoertuig word.

Én dan word daar van dieselfde wa ­verwag om ’n vrag te kan dra, soos net
’n boer of ’n bouer van ’n bakkie kan ­verwag.

Ook in hierdie opsig beïndruk die nuwe Navara. Die laaibak is met 67 mm verleng sodat die nuweling meer as ’n ton in SE-handratgedaante kan dra, en amper ’n ton op weelderiger LE-variante met hul laer bandprofiele plus ’n gesofistikeerde pasgemaakte tonneau-dekseil.

Die Navara blink voorts teen hoë snelhede op teer. Stuurreaksies is nou vinniger en die draaisirkel korter, en teen 180 km/h op die klok voel die bakkie steeds so stewig soos ’n rots.

Wat ons by die enjin bring; een van die indrukwekkendste diesels op die mark.

’n Kragpiek van 140 kW ding met die beste syfers uit ander dieseloorde mee, en so ook die wringpiek van 450 Nm – maar dit is die manier waarop dit alles gelewer word wat waarlik bevredig.

Kraglewering is uit die staanspoor, uit luier uit, baie glad, terwyl die kragafplatting bo 4 000 o.p.m. uiters geleidelik is, wat snelwegritte soveel aangenamer maak, daar jy die enjin nou tot by sy maksimum kan boor sonder die skielike en dramatiese uitsny-oomblik wat kenmerkend van baie bakkies se dieselbronne is.

Die gevolg is makliker en veel meer ontspanne verbysteekmaneuvers op die oop pad omdat mens nie haastig die volgende rat moet vind as die krag skielik uitsny asof jy in dryfsand vasgeval het, soos dit op sommige enkelturbodiesels gebeur nie.

Eweneens is dit maklik om bietjie vir jou plek in swaar verkeer te “stoei”.

Die handratkas se verhoudinge is goed gekies, maar die skuifaksie is taamlik ou-skool-handelsvoertuig: effe slordig met ’n lang gooi.

Die outo is egter lekker glad, maar hier en daar – per geleentheid teen ’n lang teerpadopdraande en toe weer op ’n vinnige riffelrige grondpad – het die kas wel tussen laer en hoër gange gejag.

In terme van stilering het Nissan ’n goeie balans gevind tussen gesofistikeerde onderbeklemtoning en daai taai Yankee-voorkoms waarvoor Ford Ranger-kopers so lief is. Visueel vertoon die Navara ­byvoorbeeld veel sterker as die Toyota ­Hilux, maar terselfdertyd ook skoner as die nuwe Mitsubishi Triton met sy versameling van besige krulle en lyne.

En veldvernuf, veral vergeleke met die Navara se markteenstanders?

Net ’n direkte vergelykingstoets op ­identiese paaie sal natuurlik die ware rangorde kan bepaal.

Tot op hede het ek egter geglo dat die VW Amarok nie sy gelyke op ’n vinnige, slegte grondpad ken nie.

Maar die nuwe Nissan-dubbelkajuit – met sy wring-gevektorde, remondersteunde beperkte glipewenaar plus daai gesofistikeerde krulveeragteras – skrum beslis as ’n gelyke teen die Amarok. Ek wil-wil selfs sê dat die Navara moontlik ’n nuwe peil stel.

Waaroor mens nie hoef te twyfel nie, is hoeveel geriefliker die Navara is, en hoeveel akkurater mens hom op teer kan plaas as byvoorbeeld markleiers soos die Ford Ranger en Toyota Hilux.

Selfs die agterkajuit is ruim en gerieflik met sy driesitplekbank se rugleuning wat so lekker na agter terugleun, terwyl lugversorging oor jou blaas!

Van agter die stuurwiel het die voor­paneel na klas gelyk, sonder enige tier­lantyntjies.

En op uiterse swak grondpaaie het die bakkie se bakstewigheid ’n punt oor bougehalte gemaak.

Die nuwe Navara is nie goedkoop nie, maar pryse ding goed met dié van ander vervaardigers se topmodelle mee.

’n Yster, dan, Nissan se nuutste.

  • PRYSE*

* Alle pryse sluit ’n indrukwekkende 6 jaar/150 000 km-waarborg en 90 000 km-diensplan in.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.