24 Junie 07:25
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 40km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 79%

Donderdag

14°C / 9°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Reis
Beleef Rosendal se stilte
Bokka du Toit in een van die “waterslanggrotte” op sy spirituele staptog in die omgewing.
Rosendal, ’n kunstenaarsdorpie in die Oos-Vrystaat, is ’n heerlike naweekbestemming. Foto’s: Lientjie Mentz
Besonderse handwerk wat plaaslike vroue in die dorp maak.
Pragtige werke in die Van der Hulme Design Studio in die dorp.
Bloeisels in Rosendal kondig die lente aan.
Willem Pretorius se ateljee is in Genl. Fickstraat in die dorp. Hier is sy vrolike Volkswagen-kombi voor die huis en ateljee.
Chris van Niekerk is terug in sy geliefde Rosendal.

Grotte waar die weerkaatsing van ’n “waterslang” jou boei, geleerdes wat terugkeer na ’n eenvoudige bestaan en ’n grootse gasvryheid is maar net ’n paar van die dinge wat vir my ’n groot verrassing was.

Ek het Rosendal besoek tydens dié dorp se jaarlikse Lentefees van 2 tot 4 September, een van die oulike konsepte wat dié dorp se inwoners ontwikkel het om besoekers te lok. Elke jaar oor die naweek wat die naaste aan Valentynsdag val, vind die Love Rosendal-fees ook plaas.

Tydens so ’n fees word daar talle aktiwiteite aangebied en tydens die Lentefees het inwoners en mense uit die omgewing hul handgemaakte produkte in stalletjies in die hoofstraat kom uitstal. Die inwoners sit dan hul beste voetjie voor en jy kuier heerlik om ’n glasie ystee of wyn terwyl vreemdes vriende word.

’n Heenkome vir vele

Daar is heelwat stedelinge wat naweekhuise in Rosendal het, en dan is daar die kunstenaars wat hier bly en hul onderskeie kunstalente beoefen. So is daar die baie bekende Michèle Nigrini wie se kleurvolle werke in die Meerkatkolonie in Hertzog­straat uitgestal word. Parkeer jou motor sommer daar onder die bome en stap oor na Van der Hulme Design Studio waar Dahla ­Hulme, Henriette en Jonathan van der Walt se byderwetse kunswerke pryk. Dié drie werk dikwels saam om kreatiewe werke te lewer wat oor die land heen in huise, restaurante en korporatiewe instansies pryk.

Ook hier naby is Turksvy Trading waar versamelaars van emaljeware en ander oudhede hulle sal kan verlustig.

’n Nuwe toevoeging langs Turksvy is Angel’s Cafe waar besoekers ligte middagetes en koffie oor naweke kan geniet.

Nie ver van hier is Chris van Niekerk se Stallery waar hy sy Ligvanger-fotokunswerke uitstal asook sy pragtige antieke ware in die winkeltjie langsaan. As jy in die dorp is as Chris een van sy poësie- en prosavoorlesings in sy “teater” doen, moet dit nie misloop nie. Jy gaan dalk sukkel om ’n sitplek te kry, want die plaaslike inwoners stroom na dié gewilde gesellighede toe.

Onder in Genl. Fickstraat by die Skoppelmaai-galery skilder Willem Pretorius sy besonderse landskaptonele en portrette.

In ’n uitstallokaal in Botha­straat stal Zaria en Dewald Martens hul handewerk uit. Zaria weef die mooiste matte en is ook flink met die breinaald, terwyl Dewald besonderse glas- ware maak.

’n Ent straataf is Studio Ben waar André Loots met verskillende weefmasjiene haar besonderse matte weef.

Nog ’n besonderse besoekpunt is Kobus en Joe Kotze wat hul skilderkuns in die galery by hul huis in Van der Merwestraat, die enigste teerstraat in die dorp, uitstal.

’n Mens kan Rosendal beswaarlik verlaat sonder om een van die besonderse werke van een van die kunstenaars huis toe te neem.

In die omgewing

Ek ontmoet vir Bokka du Toit in die gesellige The Rose-hotel op dié dorp. Bokka is ’n man wat in baie dinge belangstel – onder meer argeologie en astronomie en hy skryf ook boeke en maak graag rolprente.

Hy het jare gelede tyd deurgebring saam met ’n Khoisan-inwoner wat die verhale en kosmiese bewegings van dié omgewing goed geken het. So het Bokka begin met informele staptoere waarop hy mense op ’n geestelike reis neem deur die besonderse holkransnetwerk in dié omgewing. Die staptogte kan enigiets van twee uur tot twee dae duur en is volgens hom gemik op mense wat in aanraking wil kom met die natuur en hul eie spiritualiteit.

Nog ’n baie besonderse uitstappie om te onderneem is om te gaan kyk hoe ses geleerdes op die plaas Waaipoort terugkeer na ’n bestaan naby aan die aarde. Hulle het die Rosendal Permaculture-navorsingstasie hier gestig waarop hulle ’n agro-ekologiese, werkende plaas wil huisves. Hier bou hulle hul eie huise van alles wat in die omgewing beskikbaar is en het begin om sover as moontlik selfonderhoudend te wees.

Yvette Mulder, ’n botanis en een van die inwoners, doen navorsing oor natuurlike kruie wat in die omgewing voorkom en vir verskillende gebruike aangewend kan word.

Kry meer inligting oor die plaas by scdpermaculture.org.za.

Waar om te bly

Een van die lekkerste kuierplekke vir besoekers is die stoep van The Rose (voorheen The Hound & Rose). 

Die hotel is onder nuwe bestuur en is nou sewe dae ’n week oop vir besprekings en het agt kamers beskikbaar met nóg agt wat opgegradeer word.

Staan ook hier nader vir lekker etes met nagereg wat jou sal laat vergeet van enige voornemens van ’n dieet. 

Ongeag of daar gaste is, sal die restaurant Donderdae tot Sondae oop wees vir middagete en ook Vrydag- en Saterdagaande, maar besprekings is vir enige tyd welkom. 

Rig navrae oor besprekings vir die hotel of restaurant deur ’n e-pos te stuur na reserva­tions@rosehotel.co.za.

Gaan loer gerus by rosendal­info.co.za vir ander verblyfopsies in die dorp. Daar is gastehuise en ook selfsorgverblyf vir besoekers wat die rustigheid van die dorp wil beleef. 

Die gasteplase Mosamane, Moolmanshoek en die EarthRise Mountain Lodge, elk met sy unieke verblyfopsies en aktiwiteite, is ook naby Rosendal.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.