26 Maart 03:37
Kaapstad Verander Area

Sondag

21°C / 14°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Maandag

20°C / 15°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Dinsdag

20°C / 15°C

Wind 34km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Woensdag

22°C / 15°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 55%

Donderdag

22°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Vrydag

19°C / 14°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Reis
Vat die langpad deur Karoo na Namibië
Nog ’n wonder van die langpadry na die Namibië-gedeelte van die Oranjerivier is hierdie Goggomobil tussen Augrabies en Springbok wat hoog en droog sy baas se plaas aankondig.Foto: Mariska Spoormaker

’n Padlangse toer via die Karoo na Namibië is net die regte moetie vir die siel. Stop vir ’n jaffel, drink ’n koppie boeretroos en gee jou oor aan die uitgestrekte ruimtes.

Ons mik vanaand vir Cradock, waar ’n seekospotjie en slaapplek wag. Anderkant die afdraaipad na Bedford en met Kookhuis ook al ver agtertoe, stop ons by die Daggaboer-padstal (op die N10 buite Cradock,) vir ’n veldfluit, soos dit daar by die geriewe geskrywe staan. Koffie vir dadelik. Biltong en droëwors vir padplesier.

Net voor ons Cradock binnery, staan ons oë op steeltjies vir mens en dier wat oor die pad kan hardloop.

Ons verlaat egter nie Cradock voordat ons eers hierdie Karoodorp se imposante NG Moederkerk (opgerig in 1868 en ’n replika van die St. Martin in die Field-kerkgebou op Trafalgar-plein in Londen, Engeland) van elke hoek en kant gekiek het nie.

Ons Pella-GPS en Road Atlas South: Africa het ons op die regte weë gehou en ons kon ook soos die Pella-bordjie (in die foto bo in die agtergrond) sê: “Forwards ever, backwards never.”

Karretjiesmense

’n Entjie buite Cradock, by die Aloe-Visrivierkruising, staan die karretjiesmense se skuilings (plank, stok met plastiek bo-oor) en bak in die son.

Die karretjiemense van die Karoo is van Suid-Afrika se armste gemeenskappe. Hulle was eers skaapskeerders wat ’n nomadiese bestaan gevoer het en met hul donkiekarre van plaas na plaas gereis het, op soek na skape om te skeer. Eens, toe daar nog baie skaap en die wolprys hoesenaamhoog was, was hierdie mense se skeerdienste, en dus hulle ook, baie gesog.

Die enigste teken van lewe is egter twee kleintjies wat op ’n ou wieldop speel. Alles is só triestig dat ons sonder kuier of kiek aanry.

Die droogteverteerde Karooveld lê vir kilometers voor ons uitgestrek. Die kraaie eet al turksvy. Skaap staan koppe bymekaar sodat die een die ander skadu kan bied. Die wild, gewoonlik diep in die bos, waag dit al selfs nader aan die pad waar daar nog stukkies weigoed is.

Die reël van Afrika dans saam op die hittegolwe in die pad voor ons: “Net die sterkes sal oorleef.”

Oom Lukas Basson wys watter pragtige aandenkinge hy uit roomysstokkies en foto's van Pella se indrukwekkende katedraal maak. Sy vrou, Katrina, agter hom wys dat hy ook mense daarin staanmaak ter herinnering aan spesiale geleenthede.Foto: Mariska Spoormaker

Die enigste groen . . .

Op die Oos-Kaapse dorpie Middelburg “breek” geverfde geboue en groen stukkies tuin die droogte. Waaragtig, daar is nog ’n robot met STOP in die rooi en GO in die groen! Maar die gang van tyd het dit ook al net staangoed gemaak. Vierrigting-stoptekens is nou baas.

Die enigste groen langs die N10 is in die padborde wat sê: Haasfontein, Kriegerspoort, Beestekuil, Hanover. Wolkestapels hang tartend bo die dorre aarde. Ons stoot aan op die N10, verby ’n naambord wat . . . ja . . . Vrolikpan . . . aankondig.

Verderaan, verby De Aar en Britstown, al langs die droogtehel, sê Heilie Combrinck, my reismaat: “Ek kyk net voor in die pad – my hart krimp as ek na die veld kyk.”

Net buite Prieska kies ons koers na Marydale om ’n bietjie grondpad te ry tot op Upington, maar die vrot pad jaag ons terug teerpad toe. Anderkant Upington draai ons af op die N14 en gaan span ’n bietjie uit op Keimoes. Selfies by die wêreldbekende waterwiel is belangrik, maar ons lyk so reisverflenterd op die foto’s dat ons dit eerder wis.

Daar is ’n man wat goed kan skilder op hul dorpie Pella, sê tant Katrina Basson, en nou maak hy hulle mure so mooi met gister se leefstyl-onthou.

Waar is Kakamas?

Op Kakamas, besluit ons, sal ons oorslaap, sodat ons die volgende oggend eers die Augrabieswatervalle kan besoek voor ons die grens na Namibië oorsteek vir die Oranjerrivier-roei. By die enigste verkeersligte hou ’n bakkie, met boere-elmboë by die venster uit, langs ons stil.

“Mariska,” fluister Heilie toe dringend, “vra hierdie boere waar is Kakamas!”

Ek het dit nie gedoen nie, want ek weet Kakamas is klein. Die verblyf is bitter skaars op die dorp en ons ry nog verder aan om te oornag in The Fall Guest House, ’n katspoeg buite Kakamas en ’n katspoeg van die Augrabieswatervalle af.

’n Meerkat staan kiertsregop op wag toe ons die volgende oggend die Augrabies- Nasionale Park binnery. Die Augrabieswatervalle is altyd iets om te aanskou – die magtige Oranjerivier, saamgepers tussen onversetlike rotswande, wat donderend oor die 90 m-val stort. “Donderend” was dit toe nie hierdie keer nie, want die droogte het die helfte van die rivierwater ingesluk, maar dit bly ’n heilige belewenis.

Op die sement in die skaduwee . . . By die Augrabieswatervalle het die dassies al hul eie verkoelingstelsels teen die woestynhitte uitgewerk.

Goggomobil op die paal

En toe, ’n ent verder weg van Augrabies, het ’n boer – Hollenbach staan daar geskrywe – ’n blou tjorretjie hoog op die paal gesit. Flikkerlig aan. Aa, dis ’n Goggomobil! Dis só warm, die sonbesies hyg na hul asems, hulle sing nie, daarom klim ons maar weer gou terug in die lugverkoelde motor.

Toe val ons in die pad na Pofadder, ’n plekkie wat my tante Corrie van Nederland Plofakker noem omdat sy laas die lugmatras se kopkussing-gedeelte te hard opgepomp en dit ontplof het. Heilie neem ’n foto van my by Pofadder se padbord en ek WhatsApp dit vir haar. “Leuk! Groeten aan Plofakker,” skryf sy terug. Jip, die tegnologie volg ons beter as ons eie skaduwee.

Volgende stop: Pella, die klein sendingdorpie in Namakwaland met sy roemryke katedraal (1894) en waar jy nou nog nonne kan ontmoet. So ook die inwoners van die dorpie wat bietjie uitgestoot het, soos oom Lukas Basson, een van die inwoners sê, “vandat die myne weer begin het”.

Pleks van die GPS-blikbrein te gebruik, besluit ons eerder op Road Atlas: South Africa.

Let wel: Om die langpad as ware verkenningspad te geniet, moet jy nié jou GPS gebruik of vooraf slaapplek bespreek nie. Jy moet dit met ’n atlas verken en rondvra, dit bring jou baie nader aan die ervaring.

By die Namibiese grenspos het hierdie klomp nonne koel en baie cool gelyk.

Smul in ’n ou kerk

Van Pella af is dit Springbok toe en daarna deur die grenspos Namibië in vir ons roeitog op die Oranjerivier. Klaar hiermee, vat ons die N7 terug huis toe. Nader aan Vanrhynsdorp verkyk ons ons aan hoe die Maskamberg die dag se laaste sonstrale omtower in goud teen sy kranse. Vanaand slaap ons by Letsatsi ­Lodge. Die lodge, buite Vanrhynsdorp, is gebou op die perseel van ’n voormalige Rooms-Katolieke Kerk en klooster.

Die kerk is gerestoureer tot sy glorie van ouds, het selfs ’n fries van Jesus, op pad met die kruis na Golgota en sy moeder Maria wat by hom staan.

In die voormalige klooster sit ’n mens nou aan vir die lekkerste (bekostigbare) geregte en, as jy gelukkig is, kry jy ook kopstukke geklets met die mense.

Dan hoor jy ook Klawer in die Olifantsriviervallei is deesdae “afskruwelik” sedert die misdaad ook daar vlamgevat het, maar ons gaan nie soontoe nie, ons swaai af na die R27 om deur die panoramiese Vanrhynspas en verby Nieuwoudtville tot by Calvinia te kom.

Eens was dit die Rooms-Katolieke sendingstasie buite Vanrhynsdorp se verweerde katedraaltjie, nou is dit as deel van Letsatsi Lodge weer sy pragtige ou oorspronklike self.
Op Calvinia maak die son jou dood as hy jou alleen kry, maar dit is 'n dorpie in Suid-Afrika wat ’n besoek werd is. al is dit net om goeie skuinskoek te eet, die reuse rooi posbus te aanskou, of wyshede soos dié in die Hantamhuis te kan lees Foto: Mariska Spoormaker

Die rooi posbus

Geen mens kan sê hy het al deur Suid-Afrika gereis as hy nie ’n foto van homself by Calvinia se gróót rooi posbus geneem, in die Hantamhuis gaan rondsnuffel en skuinskoek geëet het nie. Ons doen dit alles en nog meer. Koop boekmerke waarop die wyse raad van ’n windpomp, ’n skilpad en ’n meerkat is. Ook ’n I Love Calvinia-plakker.

’n Ent buite Calvinia swaai ons af na die R63 wat ons via Williston verby Carnavon en sy korbeelhuisies (dankie vir die boer wat daar skadunette vir hul vee opgesit het) na Victoria-Wes neem. “Nee wat,” sê die petroljoggie vir ons, “vandat Mannetjies Roux sy padstal hier toegemaak en by sy seun gaan bly het, is dit baie stil. Niks hou mos vir ewig nie.”

Ja, nie eens ’n salige vakansie-verkenningspad nie. Ons was skoon bewoë toe ons deur die Oudebergpas na Graaff-Reinet, juweel van die Karoo, afsak. Daar is nog water in die Nqeba-dam, die droogte kan nie alles stukkend maak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.