27 April 08:58
Kaapstad Verander Area

Donderdag

20°C / 16°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Vrydag

22°C / 15°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Saterdag

27°C / 18°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 39%

Sondag

20°C / 17°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 83%

Maandag

19°C / 16°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Dinsdag

21°C / 15°C

Wind 28km/h

Reënval 0

Humiditeit 67%

Eiendomme
Jou veilingdagboek

Hier is 'n nuttige lys van veilings wat entoesiaste in die komende weke kan dophou. 

   

25 April - Oxford, Engeland: Foto's van Ludwig Jindra word opgeveil

'n Belangrike versameling foto’s wat die bekende Tsjeggiese fotograaf Ludwig Jindra op verskillende wêreldbesoeke, onder meer ook ’n besoek aan Suid-Afrika, geneem het, word volgende week deur Mallams Auctioneers in Oxford in Engeland opgeveil.

Jindra is in 1897 in die voormalige Tsjeggo-Slowakye gebore en in 1981 in Suid-Afrika oorlede.

Hy het in die 1930’s opdrag van die Tsjeggo-Slowaakse regering gekry om ’n wêreldtoer te onderneem en sy reis met foto’s vas te vang.

Dié versameling foto’s word te koop aangebied deur die seun van ’n hegte vriend van Jindra.

Dit behels altesame 500 swart-en-wit-foto’s, wat elk 30 cm x 38 cm groot is en twee-twee saam gemonteer is.

Die versameling sluit in foto’s wat Jindra in die 1950s tydens ’n besoek aan die Nasionale Krugerwildtuin geneem het.

Daar is ook fassinerende foto’s van die Verre-Ooste, insluitende China, asook Noord-Afrika en Londen net ná die Tweede Wêreldoorlog.

Mallams bestempel die versameling as ’n belangrike etnografiese boekstawing van die middel van die 20ste eeu.

Die veiling word op 25 April om 17:00 gehou.

Vir meer inligting besoek www.mallams.co.uk.

  


  

26 April -  Beaufort-Wes: Vyfslaapkamerhuis 

   

'n Vyfslaapkamerhuis op ’n ruim erf van 1 682 m² in die Karoodorp Beaufort-Wes word per stille tender deur Rawson Auctions ­Western Cape verkoop.

Die hoofslaapkamer het ’n aantrekkamer en ’n en suite-badkamer, asook ’n private ingang. Die huis het verder ’n bykomende drie badkamers, twee sitkamers, ’n eetkamer en ’n kombuis met ’n afsonderlike opwaskamer. Daar is ook twee stoorkamers, ’n ingeboude braai, ’n eenslaapkamerwoonstel met lug­verkoeling en sewe parkeerplekke onder skadunet. Dié woonstel het die potensiaal om ’n inkomste van R3 000 per maand te lewer.

Tanya Jovanovski, franchisehouer van Rawson Auctions West­ern Cape, sê die huis kan maklik in ’n gastehuis omskep word.

Die riglynprys is R1,75 miljoen, maar alle aanbiedings sal in oënskou geneem word.

Die veiling sal per stille tender (geskrewe aanbiedinge in ’n verseëlde koevert) plaasvind. Die sperdatum om aanbiedings in te dien is 26 April om 12:00.

Vir inligting, bel Chris Buys by 071 445 3350 of Tanya Jovanovski by 082 411 9599.

  


  

26 April - Caledon: 2 Groot erwe

    

Twee tamaaie erwe in die prentjiemooi dorpie Caledon in die Overbergstreek in die Wes-Kaap word later in April per stille tender deur Rawson Auctions Western Cape opgeveil.

Die eerste erf in Mackaystraat beslaan 2 848 m² en is in ’n doodloopstraat oorkant die plaaslike sportklub en gholfbaan.

Die erf is in twee dele opgedeel, een deel van 875 m² en 1 973 m². Dit bied aan kopers die opsie om ’n deel vir ’n eie huis te gebruik en die res te laat hersoneer vir ’n moontlike meenthuisontwikkeling.

Die riglynprys is R750 000, maar alle aanbiedings sal oorweeg word.

Dié erf se veiling is op 26 April om 12:00 en word per stille tender, geskrewe aanbiedings in geslote koeverte, gedoen.

Die tweede erf in Eikelaan is nog groter as die eerste en beslaan 3 805 m².

Dit het al goedkeuring om in sewe kleiner erwe onderverdeel te word. Die voorgestelde onderverdelingsplan is op navraag by Rawson Auctions beskikbaar.

Die riglynprys is slegs R180 000, ’n ware winskoop volgens Rawson Auctions. Die erf word ook per stille tender verkoop en aanbiedings moet voor 26 April om 12:00 by die Rawson Property Group se hoofkantoor in Rondebosch ingedien word.

Tanya Jovanovski, franchisehouer van Rawson Auctions West­ern Cape, sê Caledon het soveel om te bied. “Daar is ses natuurlike warmwaterbronne en die plaaslike natuurreservaat met sy staproetes, fynbos en talryke voëls.”

Vir meer inligting oor die eerste erf of om dit te besigtig, skakel Hans Buys of Tanya Jovanovski by onderskeidelik 082 964 6852 of 082 411 9599. Vir inligting oor die tweede erf, skakel vir Theo Moller by 076 278 1025.

  


  

9 Mei - Groblersdal: Sakeperseel

    

Beleggers op soek na ’n kleinhandel- en sakeperseel met goeie verhuringspotensiaal in Groblersdal, Mpumalanga, moet nie Van’s Auctioneers se komende veiling in Mei misloop nie.

Op 9 Mei word ’n eiendom in Wes-straat in dié dorp met ’n sakesonering onder die hamer gebring.

Dié perseel beslaan sowat 2 350 m² en die verbeterings sowat 950 m².

Dit behels agt winkels/kantore met tien parkeerplekke. Twee van die winkels is verhuur teen ’n huidige jaarlikse huurinkomste van sowat R110 000.

Indien die eiendom vol verhuur is, kan die jaarlikse huurinkomste sowat R870 000 (insluitend BTW) beloop.

Verskeie los bates gaan ook afsonderlik verkoop word, onder meer ’n Hyundai H-1-voertuig, gereedskapskiste met gereedskap, ’n kragopwekker, afvalmetaal en kompressors.

Die veiling word om 11:00 op die perseel gehou. Belangstellende kopers kan Van’s Auctioneers se sosiale media of sy webwerf besoek.

Vir meer inligting skakel 086 111 8267.

  


   

18 Mei - New York: Kunswerke van Pablo Picasso 

   

Sotheby’s gaan op 18  Mei kunswerke van die befaamde Pablo Picasso opveil wat uit die versameling van sy kleindogter Marina Picasso afkomstig is. Die verkoping, getiteld Picasso Man & Beast, gaan meer as 100 werke behels, onder meer sketse op papier en unieke keramiekwerke wat gedurende sy leeftyd in sy ateljee was en ná sy dood in die besit van sy kleindogter gekom het.

Met voorveilingsberamings van tussen $5 000 en $100 000 per stuk, bied dit aan nuwe en gevestigde versamelaars die geleentheid om werke van die moderne meester te bekom. Die versameling sluit in voorbeelde van Picasso se mees gevierde style, genres en onderwerpe.

Daar is verskeie portrette van die vroue, kinders en muses wat deel was van Picasso se lewe, onder meer ’n sensuele tekening van sy muse Marie-Thérèse Walter. Verder is daar ook ’n kubistiese vroue-naakstudie en ’n innemende portret van die kunstenaar se dogter Paloma.

Picasso was ’n groot diereliefhebber en het sy hele lewe lank ’n obsessie gehad met werklike en mitiese skepsels, wat gereeld op papier en in sy keramiekwerke uitgebeeld is.

Scott Niichel, medehoof van Sotheby’s se impressionistiese en moderne kunsverkoping in New York, sê elk van die werke weerspieël die groter temas van mens en dier in Picasso se oeuvre en saam illustreer dit ’n kragtige oorsig van sy produktiewe loopbaan.

  


     

18 Mei - New York: Aandveiling van kuns

   

Sotheby’s se kontemporêre aandkunsveiling in New York gaan in Mei gelei word deur ’n monumentale meesterstuk van die Amerikaanse kunstenaar Jean-Michel Basquiat (1960-1988).

Dié ongetitelde werk wat van 1982 dateer, was langer as 30 jaar uit die openbare oog sedert dit laas in Mei 1984 in die mark gesien was.

Basquiat het die werk geskilder toe hy nog onbekend in die kunswêreld was.

Dié werk is in 1982 van Junie tot Julie vir ’n klein gehoor in die Alexander Milliken Gallery in New York ten toon gestel.

Dit het toe deel geword van ’n private versameling, waarna dit in 1984 op ’n veiling vir $19 000 gekoop is. Sedertdien is dit nooit uitgeleen vir ’n openbare uitstalling nie en het dit so te sê uit die oog verdwyn, behalwe vir ’n piepklein foto in die kunstenaar se katalogus raisonné.

Dié skildery is een van die kunstenaar se belangrikste werke wat nog in private besit is.

Die enorme werk weerspieël ’n kritieke oomblik in die kunstenaar se loopbaan omdat dit in dieselfde jaar geskilder is as sy eerste solo-uitstallings in die Annina Nosei Gallery in New York en die Gagosian Gallery in Los Angeles.

’n Spektrum van elektriese kleure in akriel- en spuitverf, illustreer Basquiat se energieke styl as ’n meester-koloris.

Die werk weerspieël ook die begin van ’n nuwe styl in figuratiewe skilderkuns wat in die vroeë 80’s in die kern van Manhattan posgevat het.

Die doek word oorheers deur ’n anatomiese kop, wat omring is met die kunstenaar se kenmerkende gekrabbelde graffiti.

Sotheby’s se voorveilingsberaming vir dié werk is meer as $60 miljoen.

Grégoire Billault, hoof van Sotheby’s se kontemporêre-kunsafdeling in New York, sê dit is ’n plesier om ’n Basquiat van dié omvang na die mark te bring.

“Die skaal, die onderwerp en die varsheid in kombinasie met ’n toenemende vraag na die kunstenaar se werk, maak die Mei-veiling die ideale geleentheid om ’n meesterstuk van dié kaliber na die mark te bring.”

Basquiat was een van die ontslape rock-ikoon David Bowie se gunstelingkunstenaars.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.