24 Julie 18:47
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

16°C / 12°C

Wind 33km/h

Reënval 9mm

Humiditeit 69%

Woensdag

14°C / 9°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 56%

Donderdag

18°C / 10°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 56%

Vrydag

19°C / 14°C

Wind 27km/h

Reënval 0

Humiditeit 55%

Saterdag

18°C / 14°C

Wind 35km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Sondag

16°C / 10°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Ekonomie
‘Beskerm plaaslike hoenderbedryf of ekonomie ly skade’
Mike Schüssler

Indien die plaaslike hoenderbedryf ineenstort, sal dit die Suid-Afrikaanse ekonomie op lang termyn permanente skade aanrig.

Só sê ekonome en ontleders aan die vooraand van ’n sitting oor die toekoms van dié bedryf wat Donderdag by die departement van handel en nywerheid plaasvind.

“Ter wille van voedselsekerheid het die land ’n pluimveebedryf nodig, vanuit die perspektief van volle benutting van ons mielieoes het ons die bedryf nodig en uit ’n indiensnemingsoogpunt sal dit selfmoord wees om die grootste landboubedryf in die land op te offer,” sê Izaak Breitenbach, bestuurskonsultant met jarelange ondervinding in die landbou- en pluimveebedryf.

Sy kommer word deur Mike Schüssler, hoofekonoom by Economists.co.za, gedeel.

Hy voorspel indien die plaaslike bedryf die knie voor ingevoerde hoenderstukke moet buig, sal Suid-Afrika ’n kort tydperk hê waarin ingevoerde beenkwarte goedkoop beskikbaar sal wees, maar dan sal die prys weer styg, soos wat gebeur het in ander Afrikalande waar die plaaslike bedryf weens goedkoop invoer in duie gestort het.

“Die prys van ontbeende hoenderborsies sal die hoogte in skiet aangesien dit in ander lande baie duurder as in Suid-Afrika verkoop word.”

Hy sê die totale jaarlikse omset van die plaaslike braaihoendermark is R40 miljard per jaar teen produksiepryse gemeet.

“Indien dié volume ingevoer word teen dieselfde prys kan die handelsbalans met 1% verswak, en dit sal ’n permanente verswakking word.”

Suid-Afrikaanse hoenderprodusente veg met die een hand agter die rug vasgebind, sê Schüssler.

“Oorsese mededingers se markte word beskerm terwyl plaaslike politieke onsekerheid keer dat ons eie produsente beleggings doen wat die plaaslike bedryf meer mededingend sal maak.”

Volgens Breitenbach beteken die feit dat oorsese markte ons eie hoender weens streng dieregesondheidsregulasies verbied nie dat ons eie bedryf se standaarde te laag is nie. Dit gaan eerder oor faktore wat buite die produsente se beheer is.

“Ons pluimveeprodusente voldoen aan al die streng biosekuriteits- en siektebeheermaatreëls van ons mededingers in die EU, VSA en Brasilië, maar die pluimvee-omgewing buite die kommersiële plase voldoen nie daaraan nie.”

Weens die hoë voorkoms van informele agterplaas-hoenderboerdery word Suid-Afrika verhoed om pluimveeprodukte na enige van hierdie markte uit te voer.

Schüssler sê die EU se argument dat die plaaslike bedryf se strukturele probleme hom onmededingend maak, hou nie steek nie.

Hy het in Januarie vanjaar die prys van vars hoender op die winkelrakke in Suid-Afrika, die VSA, Kanada en China vergelyk, en die Suid-Afrikaanse hoender was steeds die goedkoopste. (Sien grafiek hierby.) In 2014 is navorsing ook gedoen wat bevind het dat die prys van Suid-Afrikaanse heel hoender destyds gemiddeld R37,71/kg kg was terwyl die gemiddelde prys in die EU R65,97/kg was (teen ’n gemiddelde wisselkoers van R14,4/euro).

“Ons produsente verkoop tog sekerlik nie ons hoender teen ’n verlies om die oorsese invoerders te dwarsboom nie.”

Breitenbach wys daarop dat die plaaslike pluimveebedryf tot ’n derde van die plaaslike mielieoes aankoop, sowel as die totale binnelandse sojaoes. Maar tydens die droogte, waaroor die plaaslike bedryf geen beheer het nie, het die prys van mielies met 180% gestyg.

“Hierdie verhoging kon nie aan die verbruikers in die laerinkomstegroepe deurgegee word nie.”

Weens die ongunstige faktore was daar bitter min volumegroei in die plaaslike pluimveemark, trouens volgens sy berekening het die mark produksie met sowat 10% gesny. Ingevoerde hoender het die plek van die laer plaaslike produksie ingeneem.

“ ’n Bedryf wat mededingend is maar die slagoffer is van strukturele probleme wat buite sy beheer is, verdien beskerming – anders sal ons ’n wesenlike impak op mielie-boerdery, voedselsekuriteit en die verskaffing van goedkoop diereproteïen aan die armste deel van die bevolking sien.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.