28 Februarie 16:55
Kaapstad Verander Area

Woensdag

23°C / 17°C

Wind 31km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Donderdag

23°C / 17°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Vrydag

20°C / 17°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 75%

Saterdag

19°C / 16°C

Wind 25km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Sondag

20°C / 16°C

Wind 20km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 74%

Maandag

22°C / 16°C

Wind 30km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Entrepreneurs
Mobiele app kyk al oorsee
Só help spanwerk SnapScan groei
As jy slimfoonslim is, het jy lankal reeds SnapScan afgelaai en begin gebruik. Kobus Ehlers, medestigter van dié tegnologie-maatskappy, antwoord ’n paar vrae.
Kobus Ehlers, medestigter van die mobiele betaal-toepassing SnapScan. Foto: Johan Wilke, Stellenbosch Visio

Wat is SnapScan?

SnapScan is ’n toepassing wat jy op jou slimfoon laai en deur middel van die skandering van die Snap-kode verskeie ondernemings kan betaal.

Hoe het die idee van SnapScan ontwikkel?

Ons was ’n groep IT-konsultante wat in die bankveiligheidsektor gewerk het. Ons het die gaping in die mark raakgesien waar verskeie ondernemings nog kontant as enigste betaalmiddel gebruik. Daar is talle risiko’s aan dié metode van betaling verbonde en ons het dus die geleentheid gesien om ’n alternatiewe metode te ontwikkel. Ons het ’n paar navorsingsprojekte gedoen en vasgestel wat die mark se behoefte is.

In 2013 het ons SnapScan saam met Standard Bank bekend gestel.

Hoe het julle dit reggekry dat ’n groot en bekende finansiëledienste-verskaffer van jul idee hou?

Ons was in die gelukkige posisie dat ons reeds aan verskeie projekte saam met Standard Bank gewerk het en ’n goeie verhouding opgebou het. Standard Bank moedig innovasie aan, veral as die idees hul mark sal bedien.

Tegnologie verander gedurig. Hoe hou julle SnapScan relevant?

Ons het ’n span wat spesifiek fokus op die ontwikkeling van die toepassing namate die verbruiker se behoeftes en die tegnologiese omgewing verander. Tegnologie ontwikkel teen so ’n snelheid, ons eerste weergawe van SnapScan vandag irrelevant sou gewees het. Om ’n toepassing suksesvol te bedryf, beteken dat daar baie meer tyd en aandag aan marknavorsing moet gaan as aan die tegnologie self.

Jul ontwikkelingspan is van kardinale belang vir die funksionering van SnapScan. Hoe kies julle die regte mense?

Dit is seker ons grootste uitdaging in die bestuur van die onderneming. Ons hou deurlopend ons oë en ore oop vir mense wat by SnapScan se kultuur sal inpas en wat ook kans sien vir die soort uitdagings.

Nie net is dit vir ons belangrik dat die werknemer by die maatskappy sal inpas nie, maar ook dat die maatskappy by die werknemer sal pas. Aangesien ons in ’n innoverende en dinamiese omgewing werk, moet alle lede van die span gefokus en gedrewe wees. Die verhouding moet van albei kante gebou word.

Jul maatskappystruktuur verskil van die stereotipe maatskappy. Hoe lyk jul struktuur en hoekom het julle hierdie roete gekies?

Ons het ’n taamlik plat struktuur, met verskeie spanne wat aan verskillende projekte werk. Elke span het sy eie doelwitte en planne om hierdie doelwitte te bereik. Hierdie struktuur skep ’n kultuur waar elke persoon werklik belangrik is en sy rol deeglik moet vervul.

Met die ontwikkeling van tegnologie is die onderskeid tussen ’n werknemer se persoonlike lewe en werkslewe besig om te vervaag, en dus moet jou werksplek ’n plek wees waar jy wíl wees. Ons probeer hierdie kultuur by SnapScan uitleef.

Hoe wen julle verbruikers se vertroue om met SnapScan te betaal?

Vertroue word gewen deur ’n goeie ervaring. Ons maak seker dat elke verbruiker se betalingservaring positief is en dat die produk werk. Met dié soort produk is daar nie geleentheid vir kleedrepetisies nie. Die produk moet die eerste keer werk.

Hoeveel ondernemings maak tans van SnapScan as betalingsmetode gebruik?

So net meer as 20 000.

SnapScan se kultuur van spanwerk het definitief bygedra dat ons die groei suksesvol kon hanteer.
Kobus Ehlers

Julle het vinnig gegroei in ’n kort tydperk. Hoe het julle SnapScan voorberei op hierdie groei?

SnapScan se kultuur van spanwerk het definitief bygedra dat ons die groei suksesvol kon hanteer. Dit bly egter ’n uitdaging om deurlopend genoeg mense aan te stel om met administrasie en kliëntediens te help. Ons tegnologiese infrastruktuur is gelukkig van die begin af op ’n robuuste manier aanmekaar gesit en kan dus die groei gemaklik dra.

Wie is SnapScan se ideale verbruiker?

SnapScan bestaan om kontantbetalingsituasies te verminder en ook die risiko’s van kontantbetalings te elimineer. Ons ideale verbruiker is dus iemand wat normaalweg met kontant sou betaal het, byvoorbeeld gebruikers wat vir parkering betaal in die middestad of kollekte by ’n kerk gee.

SnapScan werk ook uitstekend in groter ondernemings, waar die SnapScan-betaalmetode geriefliker is, soos om ’n mediese rekening sommer vanaf jou rusbank te betaal.

Hoe lyk SnapScan se toekoms in die internasionale mark?

Die diens wat ons lewer, is baie spesifiek en verskil van land tot land, veral die skakeling met finansiëledienste-verskaffers. Ons het tot dusver die meeste van ons energie gefokus op die Suid-Afrikaanse mark en probeer om die produk hier te vervolmaak.

Gesprekke is wel aan die gang oor moontlike uitbreiding na die buiteland.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.